Ons gemeente is tans besig met die 40 Dae van Doelgerigte Lewe Veldtog. Hierdie is reeds die tweede week en ek het gister gepreek oor die eerste en belengrikste doel van my lewe – om God te aanbid. Tydens die gesprek met die kleingroepleiers gisteroggend, maak die een leier die opmerking dat dit in hierdie 40 Dae nie gaan oor iets wat ek hieruit kan kry nie, maar dat dit gaan oor dit wat ek aan God kan teruggee in reaksie op sy liefde en genade,.
Ek gaan elke dag ‘n gedeelte van my preek hier plaas vi die wat belang sou stel om te lees.
Rick Warren vertel hierdie verhaal:
Mike Royco,’n joernalis van die Chicago Tribune skryf in die uitgawe van 12 Julie 1985 die verhaal van ’n man met die naam Bill Mallory. Bill het na Indië gegaan op soek na die antwoord op die vraag na die sin van die lewe. Hy het egter onverrigter sake teruggekeer. Terug in die VSA het hy gesien dat daar by elke CHEVRON vulstasie ’n teken is waarop daar staan: “As you travel, ask us.” Met die gevolg dat Bill by elke CHEVRON vulstasie waar hy gestop het gesê het: “Ek is ’n reisiger. Ek sal graag vir jou ’n vraag wil vra: ‘Wat is die doel van die lewe?”
Mike Royco skryf dan oor sommige van die antwoorde wat Bill gekry het. Een van die eerstes het gesê: “Jammer, meneer, ek is nuut hier.” ’n Ander persoon het gesê: “Ek kan nie onthou dat ek iets in die handleiding daaroor gelees het nie.” Nog ’n ander een: “Ek is self nie juis iemand wat graag kerk toe gaan nie.” Die meeste mense het hom egter net met ’n uitdrukkinglose gesig aangestaar.