geskep om te dien (1)

GESKEP OM TE DIEN

Die heel eerste sin in Rick Warren se boek Die Doelgerigte lewe is: “Dit gaan nie oor jou nie.” Elkeen van ons lewensdoel is onlosmaaklik gekoppel aan persoonlike vervulling, innerlike vrede of geluk. Die een volg op die ander en die een het die ander tot gevolg. As jy jou lewensdoel ken sal jy persoonlike vervulling, innerlike vrede en geluk beleef. Wanneer ’n mens jou skeppingsdoel ontdek en daarvolgens leef, dan herdefinieer ’n mens persoonlike vervulling en lewensgeluk. ELKEEN VOLGENS SPESIFIKASIES GEBOU

In Maart 1972 het NASA die satelliet Pioneer 10 gelanseer. Pioneer 10 is gelanseer met die doel om Jupiter te bereik, foto’s daarvan te neem en dit terug te stuur na NASA toe. Pioneer 10 was die eerste mensgemaakte voorwerp wat so vêr in die hemelruim sou ingaan. Tot op daardie stadium was Mars die vêrste tot waar ’n mensgemaakte voorwerp nog gegaan het. In November 1973 het Pioneer 10 Jupiter bereik. Die foto’s is geneem en teruggestuur na NASA. Op een of ander manier het die swaartekrag van Jupiter se wentelbaan ’n uitwerking op Pioneer 10 gehad wat die satelliet teen nog ’n groter spoed die hemelruim ingestuur het. Pioneer 10 is verby Uranus en Neptunus wat ongeveer 3 biljoen myl van die aarde af is. Ten spyte van die geweldige afstand, het Pioneer 10 steeds seine teruggestuur na NASA toe. Teen 1997 was Pioneer 10 reeds meer as 6 Biljoen myl van die aarde af. In 2003 het NASA die laaste sein van Pioneer 10 ontvang.

Die merkwaardige is egter die toestel waarmee Pioneer 10 met NASA gekommunikeer het. In die Time Magazine skryf die joernalis Leon Jaroff van hierdie toestel. Die toestel gebruik om en by dieselfde hoeveelheid krag as ’n nagliggie in ’n slaapkamer. Met daardie klein bietjie energie word seine uitgestuur wat selfs nege ure neem op die aarde te bereik.

Met die opstanding en die hemelvaart van ons Here Jesus is die kerk deur die swaartekrag van God se Gees die toekoms in gelanseer. God se bedoeling was dat die kerk die manier sou wees waarop sy koninkryk na hierdie wêreld toe sou kom. Wanneer ’n mens kyk na alles wat deur die eeue met die kerk gebeur het en wat die kerk vermag het, of na die besondere mense wat God deur die eeue gebruik het, dan vra ’n mens: Watter verskil kan ek maak? Wat het ek om te gee?

Die boodskap van die verhaal van Pioneer 10 is dat die Een wat jou gemaak het presies geweet het wat Hy wil hê jy moet doen. Hy het jou ook ontwerp en beplan om te doen wat Hy bedoel het jy moet doen. Jy mag nie jou gawe onderskat nie. God het vir jou alles gegee wat jy nodig het. As deel van die groep mense deur wie God sy koninkryk laat kom het Hy jou ontwerp soos die man wat daardie klein sendertjie ontwerp. Hy het jou vir ’n spesifieke rol en taak in ’n spesifieke tyd in ’n spesifieke situasie geplaas en jou toegerus om te doen wat Hy bedoel het jy moet doen.

MY VIERDE SKEPPINGSDOEL IS OM GOD TE DIEN DEUR ANDER TE DIEN

Mense praat dikwels van dominees wat in die bediening is of tot die bediening geroep is. Dit is egter nie net dominees wat deur God geroep is vir een of ander bediening nie. Elke kind van God is geroep. Elke kind van God het ’n bediening. Elke kind van God het die regte sendertjie om die regte seine oor die regte afstand te stuur.

“As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God, moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien.” (1 Petrus 4:10)

God kom eerste. Ek het God meer lief as enige iets anders. Ek dien heel eerste God. Ek dien God die beste wanneer ek ander mense dien. God het vir elkeen van ons iets gegee wat ons kan doen. Ons twyfel of ons dit sal kan doen. Maak nie saak wat het ek moet doen nie, ek moet sekere vaardighede hê om dit te doen. As ek ’n sendertjie moet wees wat oor so ’n lang afstand ’n sein uitstuur, moet ek van die regte materiaal wees wat op die regte manier aanmekaar gesit is. God roep my en jou, elke gelowige tot die bediening.

Elkeen van ons het ’n spesifieke taak. Net soos elke een van die parte van Pioneer 10. Elkeen van ons is spesifiek ontwerp en aanmekaar gesit om ons taak te verrig. ’n Genadegawe is daardie vaardigheid of vermoë wat jy het om te doen wat God bedoel het jy moet doen. Jou genadegawe is ook saamgestel uit die regte materiaal wat op die regte manier aanmekaar gesit is. Die materiaal is: Jou persoonlikheid; jou vaardighede; jou kennis; jou ervarings; jou vermoëns; jou voorkeure.

GEMAAK (HERSKEP) OM GOD TE DIEN

Volgens 2 Korintiërs 5:17 is elke mens wat aan Christus behoort ’n nuwe skepping. Ek is vandag wie ek is deur die werk van die Heilige Gees. God het my heeltemal nuut gemaak. Efesiërs 2:10 stel dit so:

“Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.” (Efesiërs 2:10)

Volgens 2 Korintiërs 5:17 is ek en jy ’n nuwe skepping. Johannes 3 beskryf hierdie gebeure as weergeboorte. 2 Korintiërs 3:18 praat van ’n proses wat aan die gang gesit word waarin die Heilige Gees my verander om al hoe meer aan Christus gelyk te word. Volgens 2:10 het God dit alles met ’n spesifieke doel gedoen: Sodat ek my lewe kan gee om die goeie dade te doen wat Hy vir my beplan het. Die nuutmaakproses is nog nie klaar nie. En elke dag gebruik die pottebakker nog ’n bietjie nuwe roumateriaal wat bygevoeg word. Nog ’n bietjie kennis; nog ’n nuwe belewenis; nog ’n stukkie persoonlikheidsgroei. Ek is nie vandag meer wat ek gister was nie. Maar ek is nog nie vandag wat ek môre sal wees nie. God roep my tot die bediening. Ek dink Hy sê: “Gebruik wie Ek jou gemaak het om ander te dien. Ek het niks wat ooit met jou gebeur het gemors nie. Ek het dit alles gebruik sodat jy kan doen wat Ek bedoel het jy moet doen.”

EK DINK GOD SOU SE: “EK HET JOU GEMAAK OM MY TE DIEN. JY DIEN MY DEUR ANDER TE DOEN.

1 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

One response to “geskep om te dien (1)

  1. Wes

    Attie,
    Baie mense dink om werklik ‘n verskil te maak en diensbaar te wees is om op ‘n boot te spring en na Turkye of elders heen te gaan en sendingwerk te gaan doen. Sendingwerk is goed en reg, maar almal is nie geroep om sendingwerk te doen nie. Baie keer wonder ek of die Here regtig bedoel het ons moet oor die “geestelike lyke” in ons eie omgewing struikel om iemand in Turkye of elders te gaan bedien. Elkeen van ons sal presies weet wat die Here se doel met ons lewe is as ons net na Sy stem wil luister. Die wat geroep is om sendingwerk te doen moet dit gaan goed gaan doen en die wat geroep is om in sy eie omgewing te werk moet dit ook goed doen.
    Nie een se werk is minder belangrik as die ander se werk nie. Die werk van die Here kan vergelyk word met ‘n stel ratte wat almal moet draai om die wiel te laat draai. As een rat uit pas is, sukkel die hele masjien om te draai. Die Woord sê dat elkeen sy eie gawes en geleenthede moet gebruik om die Here te dien.
    Dit is hartseer dat so baie mense gawes ontvang het en dit nie gebruik nie. Die 40 dae veldtog het my laat besef waar en hoe die Here my wil gebruik in Sy diens en ek dank Hom daarvoor.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s