GOD GEBRUIK SEERKRY OM MY TE LEER OM TE VERGEWE.
Probleme is deel van my lewe omdat die sonde God se mooi wêreld verwoes het.
Versoekings is deel van my lewe omdat Satan my geestelik groei wil keer.
Seerkry is deel van my lewe omdat mense as gevolg van die sondeval ander mense seermaak.
Jesus het ons geleer om te bid: “… en vergewe ons ons oortredinge soos ons die vergewe wat teen ons oortree.”
Ons reageer op verskillende maniere wanneer ons seerkry. Sommige mense onttrek van die persoon en verkies om liewers so min as moontlik met die persoon te doen te hê. Ander wag op ’n geleentheid om die persoon terug te betaal vir dit wat hy/sy aan my gedoen het. Ander gebruik elke moontlike geleentheid om vir wie ook al te sê wat die persoon gedoen het en wat die persoon steeds doen.
Net soos Jesus probleme en versoekings gehad het, so het Jesus ook hierdie seerkry beleef.
“Die mense wat daar verby geloop het, het Jesus gelaster… Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot… Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.” (Matteus 27:39-44)
“Toe sê Jesus: ‘Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen dit nie!’” (Lukas 23:34)
Wanneer Jesus sê: “Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.”, dan gebeur daar drie dinge:
Eerstens: Jesus gee sy reg om wraak te neem prys. As jy vergewe, dan sê jy daarmee ek het nie die reg om wraak te neem of wraak te verwag nie. Ek het nie die reg om te verwag dat die lewe of iemand aan die persoon sal doen wat hy/sy aan my gedoen het nie.
Tweedens: Jesus doen ’n keuse om die seer te dra en te verdra. Hy verwag nie om op grond van die feit dat Hy gevra het dat die Vader hulle moet vergewe, dat Hy nou van die kruis afgehaal moet word nie. Hy sterf ook vir hulle sondes.
Derdens: Hy reageer met die goeie op die kwade. Het jy al ooit probeer om vir jou vyand te bid? Het jy al ooit probeer om te vra dat die Here die persoon wat verantwoordelik is vir jou seer te seën? Vergifnis beteken dat ek met die goeie sal reageer op die kwade.
Iemand wat vashou aan sy seerkry, doen net Homself skade. Iemand wat nie kans sien om te vergewe nie, is so vasgeanker aan sy seer dat hy lankal nie meer groei om meer en meer soos Jesus te wees nie. God wil nie hê jy moet vergewe ter wille van die ander een nie. God wil hê dat jy moet vergewe ter wille van jouself.
Wat kan ek doen om dit vir my makliker te maak om iemand te vergewe?
Onthou: God het my vergewe.
“Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus Jesus vergewe het.” (Efesiërs 4:32)
Is daar enigsins ’n groter motivering om mense rondom my te vergewe as die feit dat God my vergewe het? Het jy al ooit daaraan gedink dat God selfs van jou sondes vergewe het waarvan jy nie eens bewus is nie? Besef jy dat Hy nie wag totdat jy jou sondes bely voordat Hy jou vryspreek nie? Jesus Christus het vir elkeen van ons se sondes aan die kruis gesterf. Deur sy dood is ons met God die Vader versoen. Ons leef asof daar nooit enige sonde gepleeg is nie. Hy gee vir ons die versekering dat niks ons ooit van Hom kan skei nie. Hy het my vergewe. Is dit dan billik om van mense te verwag om eers te kom vra om vergewe te word voordat ek vergewe?
“Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was.” (Filippense 2:5)
Deel van die geestelike groei waar ek meer en meer soos Jesus word, is dat ek sal leer om te vergewe soos ek vergewe is. God reken my nooit weer my oortredinge toe nie. Hy maak klaar daarmee. Ek en jy sukkel daarmee. Maar, in sy voetspore kan ons elkeen daarna strewe.
Onthou: God is in beheer.
“Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het.” (Genesis 50:20)
Hierdie vers is wat Josef vir sy broers sê wanneer hulle mekaar weer in Egipte ontmoet nadat hulle hom uit jaloesie aan reisigers verkoop het. Op die ou end red God Josef se familie omdat Josef ’n hoë pos in Egipte gehad het. God kon en het alle dinge ten goede laat meewerk.
God is in beheer. Anders as wat ons dink of wens dat Hy in beheer is. Ons wil graag glo dat God se beheer beteken dat die wiel gaan draai en dat die persoon sal kry wat hy verdien. God se beheer beteken egter heeltemal iets anders. Sy beheer beteken dat Hy al hierdie dinge gebruik om my te vorm en meer en meer soos Jesus te maak.
Daar is een baie belangrike gedagte oor al drie hierdie dinge. God kan nie hierdie dinge gebruik om my meer soos Jesus te maak as ek dink dat dit nie met my gaan gebeur of nie met my behoort te gebeur nie.
Hierdie vormingsproses om meer en meer soos Jesus te word, begin by hierdie gedagte: Ek aanvaar dat probleme, versoekings en seerkry deel van hierdie lewe is en dat dit met my ook gaan gebeur.
SLOT
Ek weet nie van jou nie, maar ek sal heeltemal tevrede wees as iemand aan die einde van my lewe sou sê:
Hierdie man se lewe het vir God vreugde gebring want hy het dwarsdeur sy lewe geestelike gegroei. Hy het God meer en meer vertrou. Hy het gegroei in gehoorsaamheid en hy het sy liefde vir sy naaste uit geleef deur te mense vergewe wanneer hulle iets aan Hom gedoen het.
Selfs iets soos:
Hy het dikwels probleme gehad maar hy het nooit opgehou om die Here te vertrou nie.
Hy het versoekings beleef, maar hy het altyd gegroei in gehoorsaamheid.
Hy het ook seergekry, maar hy kon weer en weer vergewe.
Intussen weet ek dat ek nog nie vertrou soos ek kan vertrou nie. Ek gehoorsaam ook nie soos ek kan gehoorsaam nie. Ek vergewe ook nog nie soos ek kan vergewe nie. Daarom sal ek ook maar bid: Nie my wil nie, maar U wil geskied – sodat Hy my meer en meer soos Jesus kan maak.
Dissipelskap is om as ’n volgeling van Jesus in ’n groeiproses te wees waar God alles wat ek doen en alles wat met my gebeur gebruik om my meer en meer soos Jesus te maak.
Ek is geskep vir dissipelskap – meer en meer soos Jesus.
Attie,
Baie dankie vir die stukke oor dissipelskap. Dit help baie in die lees van die dagstukke asook by die weeklikse gesprekke waar ons ook maar elke week ‘n tydjie afstaan om die boodskap van Sondag te bespreek.
Ons kon een gesin wat baie seergekry het in die verlede help om “oop te maak” teenoor ons oor hulle groot seer en die vrae oor die liefde van Jeus wat daardeur ontstaan het. Nou kan ons veral die vrou help om “closure” te kry oor haar enigste kind (seun) wat verlam gelaat is in ‘n gewapende roof jare gelede. Die 40 dae boodskappe help baie en verlede week het daar baie trane gevloei toe die gesin hulle seer oor baie jare met ons gedeel het en ons as groepie saam met hulle kon bid vir “closure”, verstaan en glo.
Daar gebeur mooi dinge in ons gemeente en daarvoor kan ons net die lof, eer en aanbidding aan die Here gee.
Hi
Ds. Ek wil so graag die 40 days purpose , aanbied in my gemeente. Help waar kan ek hulpmiddels kry.
Is hier in die Kaap. Dankie vir bemoedigings en aanmoedigings….