- GOD GEBRUIK VERSOEKINGS OM MY TE LEER OM TE GEHOORSAAM.
Tweedens gebruik God versoekings om ons gehoorsaamheid te leer. Versoekings is ’n slenter van die duiwel om ons geestelike groei te belemmer. Versoekings is die manier waarop die duiwel dissipels van die Here Jesus tot ’n val wil bring. ’n Getroue dissipel van die Here Jesus wat voor die versoekings van Satan swig, maak nie net sy eie getuienis tot niet nie, maar ook die van baie ander dissipels. Maar ook, die getuienis van die kerk.
Wanneer ek toegee aan versoekings kom my geestelike groei ten minste tot ’n stilstand. Baie kere, dalk die meeste van die kere, beweeg ek ’n paar treë agteruit. Ek val so hard dat dit ’n lang tyd neem om te herstel en weer op die been te kom en vorentoe te beweeg. Somtyds neem dit maande, selfs jare.
“Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word.” (Matteus 4:1)
In die boek Hebreërs staan daar dat Jesus verstaan wat ons deurgaan omdat Hy self ook versoek is. Hy was ’n mens soos ek en jy. Dit was vir Hom net so moeilik om nie toe te gee nie. Hy is vir 40 Dae in die woestyn deur Satan versoek. Hy het elke keer basies dieselfde antwoord gegee: Gaan weg – daar staan geskryf… Die antwoord op versoekings is gehoorsaamheid aan die Woord van God.
Elke versoeking bring my by ’n vurk in die pad. By die vurk in die pad het ek een keuse: Gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid.
Gaan kyk weer mooi na die drie versoekings waarvoor Jesus nee moes sê. Met al drie versoekings het die duiwel probeer om te keer dat Jesus doen waarvoor Hy gekom het. Satan wou keer dat Jesus sy doel bereik.
Aan die een kan wil Satan my sovêr kry om sekere dinge te doen. Die Bybel noem dit die praktyke van die sondige natuur. Volgens Galasiërs 5:19-20 (NLV) is dit dinge soos: “Seksuele sondes, vuil gedagtes, losbandigheid, vyandigheid, rusie, jaloesie, woede, selfsugtige ambisie, verdeeldheid, partyskappe, afguns, dronkenskap, wilde partytjies en sulke dinge.” (Galasiërs 5:19-20)
Satan wil my aan die een kant kry om sekere te doen. Aan die ander kant wil hy my sovêr kry om sekere dinge nie te doen nie. Moenie aanbid nie! Moenie behoort nie! Moenie groei nie! Moenie dien nie! Moenie getuig nie! Met ander woorde: Moenie God se doel vir jou leef nie.
As die duiwel maar net die keuse gegee het sodat ek kon besluit of ek gaan gehoorsaam of nie, maar hy doen dit nie. Hy gee ook die wonderlikste redes – geldige verskonings. “Jy is mos ’n kind van God. Jy het tog sekerlik nie nodig om al hierdie dinge te doen nie?” “Onthou jou vol program. Dit was in elk geval nog altyd ’n goeie verskoning.” En so hoop Satan die een verskoning of rede na die ander op om te keer dat jy jou God se doel vir jou lewe uitleef.
Weet jy hoe groot is God se liefde en genade? Hy verwag nie van jou om enige iets te doen nie. Hy verwag nie van jou om Sy doel vir jou te lewe nie. Hy gaan nie die een wat sy skeppingsdoel leef meer liefhê as die een wat nie sy skeppingsdoel leef nie. Jy hoef dit nie te doen nie. Jy hoef nie te aanbid nie. Jy hoef nie te behoort nie. Jy hoef nie te groei nie. Jy hoef nie te dien nie. Jy hoef nie te vertel nie. Jy hoef nie aan God vreugde te verskaf nie. Hy sal jou nog steeds net so liefhê. Dit is onbeskryflike, onverstaanbare groot genade.
Al wat God deur sy Woord en deur sy Gees voor my kom neersit is: Ek het jou lief. Ek het gekies om jou lief te hê lank voordat jy bestaan het. Ek het jou met ’n doel hier op aarde geplaas. Jy moet my laat glimlag. Jou lewe moet aan my vreugde verskaf. Ek wil amper sê: Hy vra nie eers nie. Hy maak net ’n stelling. Die res is in my en jou hande. Satan sê: “Jy hoef dit mos nie te doen nie. God verwag dit nie regtig nie. Onthou sy liefde is onveranderlik. Die versoeking is net hierdie een: Gaan ek dankbaar leef of nie” Gaan ek God liefhê of nie?
Satan verstaan die diepte van God se genade en God se liefde. Hy sal selfs dit gebruik om jou te keer om God se doel vir jou lewe te leef. Satan sal jou herinner aan hoe groot God se liefde en genade is, maar hy gaan jou nie herinner aan hoe seer dit God maak as my lewe Hom nie vreugde verskaf nie.
Drie dinge oor versoekings om in gedagte te hou:
Eerstens: Alle versoekings is ’n keuse tussen gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid. Niks anders nie. Vir elkeen is sy versoeking die grootste. Elkeen van ons het alles wat ons nodig het om te kies om te gehoorsaam.
Die Heilige Gees laat nooit die kinders van God aan hulleself oor in tye van versoeking nie. Elke keer wat die versoeking kom, maak die Heilige Gees my bewus van die moontlikheid van gehoorsaamheid.
Tweedens: Die versoeking self is nie sonde nie. Die moontlikheid om iets te doen of iets nie te doen nie, begin in my gedagtes. Net so ontstaan die moontlikheid om te gehoorsaam ook in my gedagtes. Net so min as wat ek gehoorsaam as ek dink dat ek iets moet doen, net so sondig ek nie as ek aan ’n sonde dink nie – behalwe… Galasiërs 5:19 noem dit vuil gedagtes.
Derdens: Jy gaan vir die res van jou lewe met versoekings worstel. Die goeie nuus is dat hoe meer kere ek die oorwinning in my gedagtes behaal en dan wel gehoorsaam, hoe makliker raak dit om gehoorsaamheid te kies.
Die vraag bly steeds: Hoe doen ek dit? Ek weet nou wat ek behoort te doen, maar hoe doen ek dit? Twee wenke:
Bly fokus op die mooi dinge.
“Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of watter lofwaardige saak daar ook al mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” (Filippense 4:8)
Doen ’n keuse om met positiewe gedagtes besig te wees. In hierdie 40 Dae memoriseer ons elke week ’n teksvers. Bly in jou gedagtes met die teksvers besig. Kies ’n gebed wat uit een sinnetjie bestaan en bly met dit in jou gedagtes met die gebed besig. Kies elke dag ’n ander sinnetjie, of kry een sinnetjie waarmee jy vir dae of selfs langer besig is. Fokus jou gedagtes op die mooi en die positiewe.
Kry ’n geestelike reisgenoot.
“Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar, as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.” (Prediker 4:9-10)
Daar is nog ’n tweede manier waarop jy teen versoekings kan stry. Kry iemand wat bereid is om jou te ondersteun en wie jy kan ondersteun. Praat met jou beste vriend oor jou behoefte om God te laat glimlag. As hy/sy jou beste vriend is, gaan hy/sy verstaan en bereid wees om saam met jou die saak aan te pak. Natuurlik is die teendeel ook waar. ’n Beste vriend kan jou ook oortuig om eerder saam met hom/haar die verkeerde te doen. Maar, dit is juis die versoeking wat op hierdie manier jou aandag trek. Weereens, sien die gesig van ’n dankbare en trotse Vader wanneer jy selfs bereid is om ’n vriend wat jou saam met hom/haar wil aftrek, prysgee ter wille van God se glimlag.
Ons het verlede week gepraat oor die mense in ons kleingroepe wat deur die Here gebruik word om ons te vorm. Een van die tekste wat ons gelees het, was “Yster slyp yster. So vorm vriende mekaar.” Hierdie geestelike reisgenoot behoort iemand uit so ’n groep te wees. Iemand vir wie ons sê: “Wees vir my die persoon teenoor wie ek verantwoordbaar is.” “Wees vir my die persoon wat vir my sê: ‘Is jy seker jy moet dit doen?’” Is daar nie ’n ander manier wat jy dit kan doen nie?”
Laat 'n boodskap