dissipelskap – meer en meer soos jesus (2)

GOD GEBRUIK DRIE DINGE WAT MENS NIE SOU VERWAG NIE

  1. GOD GEBRUIK PROBLEME OM MY TE LEER OM TE VERTROU.

 “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet swaarkry kweek volharding en volharding kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop.” (Romeine 5:3-4)

 Ons gaan nooit in ons lewe op die punt kom waar alles net goed sal gaan nie. Ons lewe in ’n wêreld wat deur die sondeval verwoes is. Daarom is hierdie wêreld en hierdie lewe nie wat God bedoel het dit moet wees. Swaarkry en probleme gaan deel van ons lewens bly totdat Jesus weer kom.

 Romeine 5:3-4 beskryf ’n groeiproses. God wil swaarkry en probleme gebruik om ’n proses van groei in my lewe te bewerk. Die heel eerste ding wat moet gebeur is ek moet leer om te volhard. Iemand wat volhard raak nie moedeloos nie. As ek moed verloor kom ek naderhand op ’n punt wat ek dink dat God my in die steek gelaat het.

 Volharding beteken dat ek as volgeling van die Here Jesus aan God bly vashou, maak nie saak hoe sleg dit gaan nie. Partykeer is swaarkry en probleme so erg dat ek moet klou vir al wat ek werd is. Maar klou sal ek klou.

 Volharding leer my meer en meer dat ek nie ’n fout maak om God te vertrou nie. Ek leer om God te vertrou dat Hy ook hierdie swaarkry en probleem in my lewe op so na manier kan gebruik dat daar iets goeds daaruit kan voortvloei. Romeine 5 noem hierdie vertroue “egtheid van geloof.”

 Volharding beteken nie dat ek nie mag wys dat ek swaarkry nie. Volharding beteken ook nie dat ek my die hele tyd moet troos met die gedagte dat ander baie swaarder kry as ek nie. Volharding beteken net dood eenvoudig dat ek nie gaan toelaat dat my swaarkry my onder kry nie.

Jesus kon amper-amper nie sy swaarkry enduit dra nie.

 “Toe kom hulle by ’n plek met naam Getsémané en Jesus sê vir sy dissipels: ‘Sit hier terwyl ek gaan bid.’ … Hy het ontsteld en bang geword en vir hulle gesê: ‘Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!” (Markus 14:32-34)

 Hierdie verse beskryf  die aand voor Jesus se kruisiging. Jesus weet dat Hy later die aand gevange geneem gaan word en die volgende dag gekruisig gaan word. Kruisiging was die manier waarop veral politieke opponente in daardie tyd tereggestel is. Die doel was om enige politieke opportuniste te ontmoedig. Kruisiging was die wreedste dood denkbaar. Jesus het geweet wat sy lyding sou behels.

 Die aand voor sy kruisiging is Hy saam met sy dissipels na die tuin van Getsémané toe. In ’n stadium het Hy hulle agtergelaat en alleen verder gegaan.

 In die vers staan daar dat Jesus “Ontsteld en bang.” – selfs doodsbenoud. Doodsbenoud neem ontsteld en bang een sprong verder.

 Jesus was so ontsteld en bang en doodsbenoud, dat Hy nie kans gesien het vir dit wat vir Hom voorlê nie.

 “Hy het gesê: ‘Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.” (Markus 14:36)

 Jesus bid eerstens dat die Vader die swaarkry sal wegneem.

 In hierdie een sinnetjie wat Jesus bid, is daar twee belangrike dinge oor vertroue. Hou in gedagte: God gebruik probleme en swaarkry om ons vertroue te leer.

 Die eerste een is: ”Abba, Vader, alles is vir U moontlik.” Vertroue in God begin deur met my hele hart te glo dat Hy ’n verskil kan maak. Jesus is in die tuin van Getsémané op sy knieë omdat Hy glo dat sy Vader dit anders kan maak en omdat Hy hoop dat sy Vader dit anders sal maak. 

 Ek het by Leonard Sweet ’n uitdrukking gelees wat ’n baie groot impak op my gebedslewe gehad: “The intention of God can be changed by the intercession of man.” Ek bid in die geloofsvertroue dat God dinge anders kan maak. Vir my beteken dit dat die gevolge van my probleme of swaarkry wat vir my onvermydelik lyk, deur gebed verander kan word. Hoeveel keer hoor ’n mens dat kinders van die Here sê: “Dit was toe nie so erg soos ek verwag het nie.” Intussen het ons gebid. Ek glo dat dit die Here is wat in antwoord op gebed maak dat dinge nie so erg is as wat ons gedink het dit gaan wees nie.

 Ek glo nog ’n tweede ding. Ek glo dat God ook die goeie beter kan maak. God is ’n dinamiese, aktiewe betrokke God. Ons leef in ’n verhouding met Hom. Dit is ’n verhouding van interaksie. Hierdie interaktiewe verhouding maak dat dinge nie so erg is as wat ons gedink het dit gaan wees nie. Maar dit maak ook dat God dinge wat goed sou gewees het nog beter maak.

 Geloofsvertroue beteken: Ek glo God kan dit anders maak. Geloofsvertroue beteken ook:

 ”… nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”

 Om God te vertrou dat Hy dit anders kan maak is die lekker deel van my verhouding met die Here. Vertroue beteken egter ook dat God steeds vir my net so lief sal bly selfs al word dit nie beter nie. Om myself soos Jesus te onderwerp aan God se wil, is om afstand te doen van enige aansprake. Ek het geen reg om iets te verwag nie. Ek gee myself oor aan U wil. Ek vertrou U.

Daar is twee dinge wat ’n mens kan doen om te groei in vertroue.

 ’n Geestelike dagboek. (Joernaal)

“Op bevel van die Here het Moses soos hulle getrek het die name van hulle kampplekke aangeteken.” (Numeri 33:2)

 ’n Geestelike dagboek is baie waardevol. Eerstens kan jy gerus in die dagboek opskryf wat jy dink gaan gebeur met die probleem wat oor jou pad kom. Skryf dan wat jy vra dat die Here moet doen. Kom dan na ’n tyd terug en kyk wat het gebeur. Jy gaan met tye verbaas wees hoe God die teenoorgestelde gedoen het wat jy verwag het dat Hy gaan doen. Jy gaan ontdek dat Hy baie kere die mooi en goeie dinge beter gemaak het. Maar, jy gaan sonder twyfel ook ontdek dat jy kruise gedra het wat jy gedink het nie moontlik was nie. Jy gaan ontdek dat die son na elke donker nag helderder geskyn. Jy gaan ontdek hoe meer en makliker dit word om God te vertrou. Jy gaan ontdek hoe Hy swaarkry en probleme in jou lewe gebruik het en dat jy ook soos Jesus geleer het om met vertroue te bid: ”… nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”

 Onthou die loon.

“Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir ewig bly.” (2 Korintiërs 4:17)

 Die loon wat Jesus in gedagte gehou het, was die wonderlike verlossing vir die mensdom. Die woorde wat Hy sê voordat Hy sterf sê dit ondubbelsinnig: “Dit is volbring.” Ek het gedoen wat Ek moes doen. As ek my oë oopmaak sal die verlossing bewerk wees. Watter wonderlike loon as resultaat van my swaarkry.

 Watter loon kan ek in gedagte hou? Eerstens dat God alles ten goede kan laat meewerk. Tweedens dat ek kan verwag om die ewigheid by Hom deur te bring soos Hy bedoel het. En daardie lewe by Hom sal enige gedagte aan hierdie lewe se swaarkry uit my geheue wegdwing.  Om die loon in gedagte te hou is om met hoop te lewe.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: