Ek gaan hierdie week elke dag ‘n gedeelte van my preek van Sondag “post.”
Inleiding.
Hierdie is die vierde week van 40 Dae van Doelgerigte Lewe. Die groot vraag waarmee ons besig is, is: Wat op aarde maak ek hier?
Tot op hierdie stadium:
Week 1: Hoekom het God my geskep? Sodat Hy my kan liefhê en ek vir ewig by Hom kan wees.
Week 2: Eerste doel: Aanbidding: Geskep om aan God vreugde te verskaf.
Week 3: Tweede doel: Koinonia: Geskep om deel te wees van die huisgesin van God.
Week 4: Derde doel: Dissipelskap: Geskep om meer en meer soos Jesus te word.
Hierdie week handel oor die derde doel van my lewe:
MY DERDE BESTAANSDOEL IS OM MEER EN MEER SOOS JESUS TE WORD
Dissipelskap.
Daar is min dinge so mooi en onweerstaanbaar soos ’n babatjie. Die geboorte van ’n babatjie bring dan gewoonlik ook in die hele familie en vriendekring ’n baie groot opgewondenheid. Gewoonlik probeer almal uitwerk na wie die kind lyk. Lyk hy die meeste na sy pa of sy ma of is daar dalk iets van sy oupa of ouma sigbaar.
Maar ’n babatjie bly nie ’n babatjie nie. ’n Babatjie word ’n peuter en ’n peuter word ’n kleuter en ’n kleuter word ’n kind en ’n kind word ’n tiener word ’n jong volwassene en volwassene. Al hierdie dinge is die natuurlike ontwikkeling van die lewe.
Daar is natuurlik die enkele kere wat dit nie gebeur nie. ’n Babatjie word gebore en die ontwikkeling en die groei is nie wat dit veronderstel is om te wees nie. Wanneer dit gebeur is dit uiters tragies.
Dissipelskap gaan oor die groei proses van die kind van God. Die groeiproses begin by weergeboorte en eindig waar die dissipels so volmaak en volwasse soos Christus is. Elke weergebore kind van God het Jesus se trekke.
2 Korintiërs 3:18 is een van die besondere beskrywings van hierdie geestelike groeiproses.
“Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here… Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.” (2 Korintiërs 3:18)
In hierdie vers is daar ’n paar beginsels van geestelike groei wat ek net gaan noem. Ek gaan nie uitbrei op enige en van hulle nie.
- Mense sien Jesus in my. Wat sien die mense? Hoe lyk Jesus dan?
- Jesus gelykvormigheid is ’n proses. Ek word deurlopend en sonder ophou verander.
- Hoe meer ek geestelik groei, hoe meer sien mense wie Jesus regtig is.
- Dalk die belangrikste: Die Heilige Gees is in beheer van hierdie proses.
Geestelike dissiplines is die dinge wat ek kan doen om my geestelike groei te bevorder sodat ek meer en meer soos Jesus word.
Die onverbeterlike en standaard werk hieroor is Richard Foster se boek: “Celebration of Discipline.” As dit enigsins moontlik is, sal dit een van die beste beleggings in jou geestelike lewe wees as jy die boek koop, hom bestudeer en sovêr moontlik toepas in jou lewe.
Net soos God vooraf bedoel het dat Hy gaan liefhê en dat Hom gaan aanbid en deel van sy huisgesin sal wees, so het God ook bedoel dat ek deur ’n proses van dissipelskap meer en meer soos Jesus sal word.
“Die wat Hy lank tevore uitverkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is” (Romeine 8:29).
Alhoewel hierdie dissipelskapproses persoonlik is, is dit nie privaat nie. Privaat sê dit het niks met enige iemand anders te doen nie. Ek het ’n persoonlike verantwoordelikheid om geestelik te groei, maar wat ek met daardie persoonlike verantwoordelikheid maak, het ’n uitwerking op my gemeente, die kerk en die Christendom.
Die bedoeling is dat ons as gemeenskap van gelowiges saam sal groei om meer en meer soos Jesus te wees.
“Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe.” (Efesiërs 4:15)
In hierdie geestelike groei proses, is daar dinge waaroor ek beheer het en dinge waaroor ek nie beheer het nie. Ek het beheer oor die geestelike dissiplines. Bybellees, Bybelstudie, Erediens, Getuienis, gebed. Maar daar is die dinge waaroor ek geen beheer het nie. Daar is veral drie dinge wat met my gaan gebeur, waaroor ek geen beheer het nie. Die drie dinge is: Probleme, versoekings en seerkry. Al drie hierdie dinge het ’n invloed op my geestelike groei. Of ek gaan daardeur groei, of ek gaan daaroor val. As ek nie daardeur groei nie, gaan my geestelike lewe ’n val en opstaan lewe wees. Ek gaan regop staan as dit goed gaan. Ek gaan plat op my gesig val as dit sleg gaan.
“Ons weet dat God alle dinge ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet, die wat volgens sy besluit geroep is.” (Romeine 8:28)
Die Bybel het vir ons hoop oor hierdie drie dinge wat met ons kan gebeur. God kan alles en enige iets gebruik om iets goeds daaruit te laat voortkom. God kan al drie hierdie dinge gebruik om my meer en meer soos Jesus te maak.
Laat 'n boodskap