EK MOET GOD MET AL MY KRAG AANBID.
Die wesenlike van ons godsdiens is om ons lewens aan God te gee op ’n manier waarvan Hy hou. Ek gee my lewe aan God deur Hom lief te hê met my hele hart en my hele verstand en al my krag. Ek het die Here met my hele hart lief wanneer ek emosies van liefde teenoor Hom kan uitleef en uitspreek. Ek het God met my hele verstand lief wanneer ek hard daaraan werk om in elke gedagte wat ek dink aan Hom vreugde te bring.
Ek het God lief met al my krag wanneer ek elkeen van my vermoëns, vaardighede, talente, gawes, wat ek ook al het gebruik as deel van my aanbidding van God. God het vir elkeen van ons vermoëns, talente, vaardighede en gawes gegee waarmee ons Hom kan aanbid. By week 5 gaan ons lank stilstaan by die maniere waarop ek God met al my krag aanbid.
Vandag, hierdie belangrike gedagte: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.” (Kolossense 3:23) Om God met al jou krag lief te hê beteken nie dat jy vir vyf ure elke dag stiltetyd moet hou of elke dag van jou lewe iets by die kerk moet doen of kerk toe gaan nie. Ek aanbid God deur alles wat ek doen vir die Here te doen. Met ander woorde: Verander van werkgewer. Jy werk nie meer vir die staat of een of ander maatskappy of selfs vir jouself nie. Jy het van werkgewer verander. Dit gaan nie oor wat jy doen nie, dit gaan oor die Een vir wie jy dit doen. Wanneer ons ’n keuse doen om alles vir God te doen, dan word ons werk aanbidding.
Hou in gedagte dat as jy alles doen asof jy dit vir die Here doen, dan beteken dit nie dat jy meer hoef te doen as wat ander doen nie. Mense kan nie jou lewe van aanbidding misbruik om van jou meer te verwag nie. Jy kan nie alles doen nie. God verwag nie van jou om alles te doen. Mense dalk, maar nie God nie. Moet nie dink jy aanbid God met jou werk wanneer jy nooit ontspan of nooit rus of nooit met vakansie gaan nie. Jy aanbid God met al jou krag wanneer jy so werk dat daar balans in jou lewe is. Balans tussen beroep en gesin en gemeente.
Slot.
Ek is geskep sodat God vreugde kan vind in my. God vind vreugde in my wanneer ek Hom aanbid. Die kern van my lewe van aanbidding is dat ek God sa liefhê met my hele hart en my hele verstand en al my krag.
God vra dat ons Hom met ons hele lewe as lewende en heilige offers sal aanbid. Ons is soms bang om ons self so reserweloos op hierdie manier vir God te gee. Ons sien mense rondom ons en dink: Ek wil nie soos hierdie of daardie persoon wees nie. Netnou verander God my om soos daardie persoon te wees. Maar, hou in gedagte – God is die een wat ons gemaak het. Jy is wie jy is omdat Hy jou gemaak het wie jy is. Wanneer jy jou lewe as ’n lewende en heilige offer vir Hom gee, dan sal Hy jou die beste “jy” maak wat jy moontlik kan wees. Hy sal jou maak wie Hy bedoel het jy moet wees.
Wat op aarde maak ek hier? Ek is hier om God te aanbid!
Laat 'n boodskap