EK MOET GOD LIEFHÊ MET MY HELE VERSTAND.
Die wesenlike van ons godsdiens is om ons lewens aan God te gee op ’n manier waarvan Hy hou. Ek gee my lewe aan God deur Hom lief te hê met my hele hart en my hele verstand en al my krag. Ek het die Here met my hele hart lief wanneer ek emosies van liefde teenoor Hom kan uitleef.
Tweedens moet ek God met my hele verstand liefhê. Net soos daar mense is wat geleer is dat geloof en gevoel nie saamgaan nie, is daar ook die wat geleer het dat mens se verstand in jou verhouding met God nie belangrik is nie. Net solank as wat jy Hom liefhet. Natuurlik is die een net so min waar as die ander. Ek moet God ook met my verstand – my hele verstand – aanbid.
In Romeine 12:1 lees ons dat God daarvan hou dat ons ons lewens as ’n lewende en heilige offer vir Hom gee. Hierdie lewe sluit my verstand of my brein ook in.
’n Mens se verstand het onder andere te make met feite, kennis, inligting, dinge wat ek weet en leer en onthou en memoriseer en verstaan en deurdink. Geestelike groei is om God meer en meer lief te kry, maar ook om God beter te leer ken deur meer en meer van Hom te ken en te verstaan. Bv. Iets soos die Drie-eenheid. Hoe moet ons die Drie-eenheid verstaan? Wat beteken dit as ons sê dat God drie is, maar dat Hy terselfdertyd ook een is? Wat sê die Nuwe Testament alles oor Jesus? Wat is die werk van die Heilige Gees volgens die Bybel? Wat bedoel ons as ons sê dat die kerk die liggaam van Christus is? Hierdie kennis is ’n wesenlike deel van ons lewe van aanbidding. Aan die een kant is dit belangrik om hierdie kennis te hê, maar aan die ander kant, hoe meer ’n mens van God weet, hoe meer besef jy ook hoe min jy weet. Jy ontdek met jou verstand hoe onbeskryflik groot en heerlik God is – en dit dring jou tot verwondering. Verstom voor die grootheid van God.
Ek dink baie keer die aanbidding met die verstand begin as die bymekaar van inligting oor God, maar kort voor lank word hierdie kennis oor God, kennis van God en lei tot aanbidding. Dikwels woordlose verwondering.
Maar, my verstand is nie net die hele tyd besig met die verwerking van inligting of feite nie. Daar is nog ’n baie belangrike ding wat in my verstand gebeur – gedagtes. Paulus skryf by geleentheid dat hy elke gedagte gevange neem in gehoorsaamheid aan Christus.
Ek dink ons almal weet hoe maklik ons gedagtes kan dink wat nie as aanbidding verstaan sal word nie. As ons die hele tyd mekaar se gedagtes kon lees, sou aanbidding niks anders as ’n vêraf droom gewees het nie.
Volgens Psalm 139 ken God elke een van ons gedagtes nog voordat dit by ons opkom. Een van die implikasies daarvan is dat ek niks vir God kan wegsteek nie.
Partykeer wil ’n mens hierdie woorde sê wanneer jy weet jy moet vir die Here iets sê, maar jy weet nie hoe om dit te sê nie. Jy bedoel: “Here, U ken my beter as wat ek myself ken. U weet wat ek wil sê en U weet wat ek nodig het gee asseblief wat ek nodig vir my.”
Ander kere is dit ’n gebed waarmee ek probeer sê dat ek net myself by Hom wil wees. Hy ken my in elk geval. Ek kan Hom nie om die bos lei nie. Ander kere wil ek op hierdie manier juis net vir Hom sê dat ek Hom liefhet. As ek alles gesê het wat ek moontlik kan sê, dan het ek nog nie alles gesê wat ek wil sê nie. Dan sê ek: Here, U ken my. U weet hoe lief ek U het.”
Aanbidding is om met my hele lewe die dinge doen waarvan God hou. Ek is hier om aan God vreugde te verskaf. Ek is hier sodat God my kan geniet. Juis omdat God my gedagtes ook ken, kan ek ook met my gedagtes aan Hom vreugde verskaf. My gedagtes moet nie gerig wees op die dinge van hierdie wêreld nie. My gedagtes moenie wees soos die res van die wêreld sin nie. My gedagtes moet gedagtes wees wat God goed sal laat voel oor my.
Geen deel van ’n lewe van aanbidding is so moeilik as ’n mens se gedagtes nie. Mense kan daardeur wat ek doen sien as ek God regtig liefhet. Maar, ek kan presies die teenoorgestelde doen van wat ek dink.
Ons was vier seuns in die gesin. Die oudste drie het almal met nie meer as twee jaar verskil nie. Ons het dikwels ernstig van mekaar verskil het. Een van ons ouers moes ook dikwels ingryp om die situasie te red. Nadat die saak uitgepraat is, het moes ons dikwels vir mekaar sê dat ons jammer is, mekaar ’n druk gee of so iets. Maar, intussen het ons nog in ons gedagtes met mekaar vrede gemaak nie. Ons het alles gedoen wat mens doen as jy vrede sluit/vrede maak (slegs as mense erg van mening verskil, maar uiteindelik die geslypte byle eenkant laat lê). Enige iemand sou gedink het dat ons vrede gemaak het. Maar niemand kon sien of het enigsins ’n idee gehad van wat in ons gedagtes aangaan nie.
Daarom dink ek dat dit die moeilikste is om God met ons gedagtes te aanbid. Die geheim is om die Heilige Gees te gehoorsaam toe te laat en my gedagtes op iets anders te rig. Indien ons eerlik is, sal ons besef dat die Heilige Gees my gewoonlik sensitief maak vir die gedagtes wat ek dink. Alles begin by ’n keuse om baie sensitief te wees vir die Heilige Gees wat jou daarvan bewus maak dat jy of anders kan dink of oor iets anders kan dink. Laat die Heilige Gees jou wys en leer hoe om God in en met jou gedagtes te aanbid.
Ek behoort God met my hele verstand te aanbid deur al hoe meer van Hom te leer en ek behoort God te aanbid met alles wat ek dink. Daar is nog een ding wat ek kan doen om God met my verstand te aanbid. Ek gaan weer ’n voorbeeld gebruik om dit te verduidelik.
Ek weet nie wie van julle kan julle eerste liefde onthou nie. My eerste liefde was op Laerskool. Haar naam was Heleen Robbertse. Eers het ek haar net raakgesien en later het my hart al hoe vinniger begin klop as ek haar sien. Maar toe hierdie verliefdheid my eers tref kon ek haar vir nie een oomblik uit my gedagtes kry nie. Dit is al waaraan ek kon dink. Ek het aan haar gedink as ek sport oefen en as ek my toebroodjies eet en as ek in die bus ry en as ek saam met my maats speel. Sy was net eenvoudig altyd in my gedagtes.
Ek moet gedagtes dink waarvan God hou of wat vir Hom aanvaarbaar is, maar ek moet ook my gedagtes op Hom fokus. Ek moet in my gedagtes met Hom besig bly.
HOE FOKUS EK MY GEDAGTES OP GOD
Ek gaan net so na paar wenke gee oor wat ’n mens kan doen om jou gedagtes op God te fokus.
Eerstens kan jy stil word by Hom. Net ’n paar minute per dag is genoeg. In daardie paar minute lees ’n gedeelte uit die Bybel. Vir hierdie 40 Dae – lees elke dag een bladsy in die boekie. Terwyl jy dan so stil en alleen is, bid. Kan ek jou ’n wenk gee? Vergeet alles wat jy oor gebed geleer het. Maak jou gebed ’n eenvoudige gesprek met God. Gaan sit oorkant ’n leë stoel. Skets in jou gedagtes vir jou ’n prentjie van die Here self wat daar sit en dan praat jy met Hom. Dan praat jy jou hart uit. Net soos jy met ’n vriend of jou man en jou vrou sal praat. Vertel Hom van die dag wat voorlê en hoe jy daaroor dink en waarvoor jy hoop. Praat met Hom oor die dinge wat jou gelukkig maak en die dinge wat jou ongelukkig maak. Praat met Hom oor die dinge in jou lewe waarvoor jy dankbaar is. In die begin gaan dit vir jou vreemd voel. Hou aan, later gaan dit vir jou ’n wonderlike tyd wees.
Skets vir jou ’n prentjie van die Here wat die passasier in jou voertuig is. Sien Hom as die een wat saam met jou stap en saam met jou wasgoed was en saam met agter in die ry staan wanneer jy inkopies doen en wat ’n waarnemer by jou vergaderings is. Soos die gebed van gister se dagstukkie dit stel: Maak Hom die Hoofkarakter in jou lewensverhaal.
Tweedens kan jy ’n een sin gebed kies wat jy deur die loop van die dag aanhoudend herhaal. Die gebed aan die einde van elke dag in die 40 Dae van Doelgerigte Lewe boekie is ’n goeie begin. Vandag se gebed is: “Here, gee dat ek in alles wat ek vandag gaan doen vir U sal raaksien.”
Nog ’n moontlikheid, neem die vers wat ons elke week memoriseer en herhaal dit soveel keer as moontlik deur die loop van die dag. Dalk onthou jy nie die presiese woorde nie, maar jy onthou die strekking van die vers. Herhaal dit weer en weer. Die vers wat ons hierdie week memoriseer is: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.”
Nog ’n manier is hou ’n geestelike dagboek. Skryf jou gedagtes oor God neer. Skryf die dinge neer wat jy graag vir God wil sê. Gaan sit byvoorbeeld vanaand en skryf wat jy vandag oor God geleer het. Skryf die besluite wat jy geneem het en waar jy graag sou wou hê dat jou lewe anders moet wees. Daardie dinge wat jy skryf steek op ’n besondere manier in jou gedagtes vas. Die bonus is natuurlik dat jy na ’n tyd kan terugkom en sien hoe jy gevorder het in jou verhouding met die Here en watter wonderlike dinge Hy in jou lewe gedoen het.
Kies watter van hierdie dinge jy wil doen. Kom ons leer saam om God met ons hele verstand te aanbid.
Laat 'n boodskap