ek is hier om god te aanbid (3)

’n LEWE AAN GOD GEOFFER

By geleentheid was Jesus in gesprek met ’n groep godsdienstige leiers in Jerusalem. Die godsdienstige leiers het Jesus met die een vraag na die ander in ’n hoek probeer dryf. Aan die een kant was dit in daardie tyd die gebruik dat die verskillende rabbi’s of leermeesters mekaar probeer vasvra, maar aan die ander kant wou hulle bewys dat Hy nie alles is wat Hy sê Hy is en dalk dat Hy besig is om die mense te mislei. Een van die godsdienstige leiers het die hele tyd eenkant gestaan en na die vraag en antwoord sessie tussen Jesus en die ander godsdienstige leiers geluister. Hy kom toe agter dat hulle Jesus nie gaan vasvra nie. Hy vra toe die belangrikste vraag wat moontlik gevra kan word. “Wat is die heel grootste gebod?” Met ander woorde: Wat is die belangrikste? Wat is die kern van die godsdiens? Wat kom heel eerste? Of dan soos dit in Romeine 12 dit stel: Wat is die wesenlike van die godsdiens.

Jesus antwoord: “Luister Israel, die Here ons God is die enigste here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.” (Markus 12:30)

Volgens Romeine 12 is die wesenlike van ons godsdiens dat ons onsself as lewende offers aan God sal gee. ’n Lewende en heilige offer is ’n mens wat God met sy hele hart en met sy hele verstand en met al sy krag liefhet.

Jou hart en jou verstand en jou krag is jou hele lewe. Nadat jy jou hele hart en jou hele verstand en al jou krag vir God gegee het, het jy niks meer om te gee nie.

  1. 1. Ek moet God liefhê met my hele hart.

’n Mens se hart het te make met jou emosie, gevoelens. Baie van ons is van kleins af gewaarsku dat gevoel en geloof eintlik nie saamgaan nie. Geloof het te make met dinge wat ek glo en nie dinge wat ek voel nie. Die gevolg is dat ons aan die een kant steeds nie seker is wat om met ons gevoelens te maak nie en aan die ander kant huiwerig is om gevoelens teenoor God uit te spreek of te wys.

Dink bietjie hoeveel keer ons van ons harte praat wanneer ons oor ons emosies praat. Bv.: “My hart is seer.” “Daar is dankbaarheid in my hart.” My hart loop oor van vreugde.” “Ek het jou met my hele hart lief.” “Ek is met hart en siel in hierdie saak betrokke.’

Wanneer die Bybel ons laat verstaan dat die wesenlike van my godsdiens daarin lê dat ek God met my hele hart liefhet, dan beteken dit dat ek al daardie dinge ook vir God en oor God kan sê.

Here, my hart is seer.

Here, daar is dankbaarheid in my hart.

Here, ek het U met my hele hart lief.

Here, ek wil U met my hele hart en siel dien.

Here, my hart is vol berou.

Wanneer iemand sterk gevoelens oor iets het, dan  sê ons dikwels dat iemand ’n “passie” vir iets het. Ek dink dit beskryf wat dit beteken om God met my hele hart lief te hê. “Here, ek het ’n passie vir U.” Die Heilige Gees is die Een wat ook iets hier binne-in my wakker maak wat met ’n vuur vergelyk kan word. Ek het ’n brandende passie vir God. My liefde vir God is ’n onblusbare vuur.

Ek weet nie van jou nie, maar ek kry dit nie altyd reg om met hierdie brandende passie vir God te leef nie. Ek betrap myself weer en weer dat ek ’n groter passie of sterker emosies vir iets anders het as wat ek vir God het. Ek kom selfs agter dat negatiewe emosies soos haat en woede en verwyt my liefde vir God uit die eerste plek uitdruk. Maar ek sal nooit moed opgee nie. Ek gaan aanhou probeer. Want ek weet dat Hy wat die goeie werk in my begin het, dit ook gaan klaarmaak. Ek kan nie, maar Hy kan dit in my en vir doen.

Hierdie 40 Dae is onder andere bedoel dat ons God meer en meer sal liefkry. Ek hoor in hierdie week weer hoe iemand sê dat nadat die 40 Dae van Doelgerigte Lewe veldtog in hulle gemeente afgehandel was, was alles maar net soos dit altyd was. Ek dink dit kan gebeur en ek dit gebeur dikwels. Maar, die meerderheid gemeentes was nooit weer dieselfde nie. Want die 40 Dae veldtog is nie bedoel om op 1 Augustus te begin en op 9 September klaar te maak nie. Die 40 Dae van Doelgerigte Lewe is bedoel om ’n nuwe leefstyl te vestig. Ons gebed is dat elkeen van ons aan die einde van hierdie 40 Dae ons skeppingsdoel sal lewe. Daarvoor bid ons. Daarvoor moet julle asseblief ook saam met ons bid.

Aanbidding moet die manier word waarop ek my lewe leef.

Geestelike groei moet iets wat na hierdie 40 Dae nooit ophou nie.

Ek moet bande smee met my broers en susters wat nooit tot niet sal gaan nie.

Ek moet vir res van my lewe my alles gee om God en mense te dien.

Ek mag nooit ophou om aan ander die goeie nuus van Jesus te vertel nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: