ek is hier om god te aanbid (2)

God het elkeen van ons geskep met die behoefte om te aanbid. Dit is n behoefte wat n onrustigheid tot gevolg het wat net in God tot rus kan kom.

Nie eers my behoefte om God te aanbid kom van myself af nie. Hy het daardie behoefte in my ingebou. Aanbidding is om God meer lief te hê as enige iets anders. Om God lief te hê met my hele hart en my hele verstand en al my krag. Net soos die behoefte om Hom te aanbid nie iets is wat van my af kom nie, so hierdie liefde ook nie. Hy het sy liefde in my uitgestort.

Veronderstel ’n klein seuntjie wil vir sy pa ’n verjaarsdaggeskenk gee. Die heel eerste probleem, is natuurlik dat hy nie geld het om die verjaarsdaggeskenk mee te koop nie. Die tweede probleem is dat hy nie op sy eie by die winkel kan kom waar hy die verjaarsdaggeskenk kan koop nie. Hy kan dalk nog die verjaarsdaggeskenk toedraai, maar waarskynlik nie sonder sy ma nie. Maar, sy ma gee vir hom die geld as dit nie sy pa self is nie. Sy ma vat hom winkel toe om die geskenk te gaan koop. Sy ma help hom om by die toonbank te betaal. Maar, op sy verjaarsdag kom die seuntjie na sy pa toe en sê: “Ek het vir pappa ’n verjaarsdag geskenk gekoop.”

Hoe reageer die pa? Hy vra nie eers die vraag oor wat alles gebeur het nie. Hy maak net die geskenk oop en hy geniet dit en dan kry die seuntjie sommer nog ’n groot druk ook omdat hy so iets spesiaal vir sy pa gekoop het. Dit is ’n beeld van aanbidding. Ek gee vir God iets wat ek nie sonder Hom sou kon gee nie.

Kom ons dink nou nog ’n bietjie oor hierdie pa se verjaarsdag. Wanneer hierdie seuntjie vir die pa die geskenk gee, dan gee hy vir sy pa iets wat hy nie gehad het nie. Aanbidding is om vir God te gee wat Hy nie vir Homself kan gee nie. God het my gemaak sodat Hy my liefhê. God het my gemaak sodat Hy my kan geniet. God het my gemaak sodat ek vir Hom iets kan gee wat Hy andersins nie sou gehad het nie.

Ek is hier op hierdie aarde om God te aanbid.

Aanbidding is om aan God terug te gee wat Hy reeds aan my gegee het.

WAT BEDOEL ONS AS ONS PRAAT VAN AANBIDDING?

Baie mense het ’n verkeerde indruk van wat ’n mens doen wanneer jy aanbid. Ek het die woord “worship images” op die internet ingevoer en gekyk na die “prentjies” wat ’n mens kry. Die eerste dertig was almal foto’s van mense wat op een of ander manier met hulle hande in die lug besig is om te sing – of dan God te aanbid. Enkeles was mense wat in een of ander gebedsposisie is. Dit is waaraan mense dink wanneer hulle die woord “aanbidding” hoor. Met ander woorde aanbidding word verstaan as iets wat ek met my stem en met my liggaam in die kerk doen. Musiek en sang in die kerk.

Musiek en sang saam met ander gelowiges is baie belangrik as deel van ons aanbidding van God. Ek het dit tydens Pinkster gesê en ek wil dit graag weer sê: As aanbidding Sondag in die kerk nie die hoogtepunt is van ’n lewe van aanbidding deur die week nie het ek geen benul van wat aanbidding is nie.

Indien ons sê dat ek in die heel eerste plek hier op aarde is om God te aanbid, dan sê ons mos eintlik dat aanbidding die belangrikste deel van ons godsdiens is. Aanbidding is die kern, die punt waarom alles draai. Die wesenlike van ons Godsdiens of dan ons lewe op aarde.

Die woord wesenlike word ook in Romeine 12:1 gebruik: ““Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van julle godsdiens wat julle moet beoefen.” (Romeine 12:1b) Die Nuwe Lewende Vertaling stel dit op ’n baie besondere manier: “Dit is die soort offer waarvan Hy hou.” Dink gou vir ’n oomblik aan iets waarvan jy baie hou. Hoe voel jy wanneer iets gebeur waarvan jy baie hou. Ek geniet dit. Dit verskaf plesier aan my. Ek beleef ’n stukkie tevredenheid. Ek is opgewonde oor wat gebeur of wat gebeur het.

Wanneer ons besig is met die wesenlike van ons godsdiens dan beleef God dieselfde emosies. Hy geniet die dinge wat ek doen. Wat ek doen verskaf plesier aan Hom. Hy beleef tevredenheid. Hy is opgewonde oor die dinge wat ek doen. As ek doen wat die Bybel as die wesenlik van my godsdiens beskryf, dan gaan ek aan God vreugde verskaf.

In Romeine 12:1 staan daar dat die wesenlike van my godsdiens is dat ek myself as ’n lewende en heilige offer vir God sal gee. Die woord offer het sy oorsprong in die Ou Testament. Die tempel in Jerusalem was die plek waar Israel aanbid het – hulle godsdiens beoefen het. By die tempel het hulle geoffer. Gewoonlik was dit een of ander dier of selfs die opbrengs van ’n oes wat geoffer is. Die offer is dan op ’n altaar geplaas wat aan die brand gesteek is sodat die offer heeltemal uitgebrand het. Offer was nie beperk tot die Joodse godsdiens nie. Elke godsdiens het op een of ander manier geoffer. Elkeen wat in daardie tyd hierdie vers gelees het, sou dadelik verstaan het dat God wil hê dat ek my hele lewe aan Hom moet gee en dat ek niks daarvan mag terughou nie.

Met ander woorde indien ek my lewe as ’n daad van aanbidding aan God gee, sal dit God vreugde verskaf. Wat vra God as ’n daad van aanbidding? God vra my as ’n lewende en heilige offer. Een verskil, ek gaan nie deur vuur verteer word en uitbrand nie. Maar ek gaan met die vuur van die Heilige Gees in my met ’n dringende passie vir God leef en daarmee aan God vreugde verskaf.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: