Ons gemeente is tans besig met die 40 Dae van Doelgerigte Lewe Veldtog. Hierdie is reeds die tweede week en ek het gister gepreek oor die eerste en belengrikste doel van my lewe – om God te aanbid. Tydens die gesprek met die kleingroepleiers gisteroggend, maak die een leier die opmerking dat dit in hierdie 40 Dae nie gaan oor iets wat ek hieruit kan kry nie, maar dat dit gaan oor dit wat ek aan God kan teruggee in reaksie op sy liefde en genade,.
Ek gaan elke dag ‘n gedeelte van my preek hier plaas vi die wat belang sou stel om te lees.
Rick Warren vertel hierdie verhaal:
Mike Royco,’n joernalis van die Chicago Tribune skryf in die uitgawe van 12 Julie 1985 die verhaal van ’n man met die naam Bill Mallory. Bill het na Indië gegaan op soek na die antwoord op die vraag na die sin van die lewe. Hy het egter onverrigter sake teruggekeer. Terug in die VSA het hy gesien dat daar by elke CHEVRON vulstasie ’n teken is waarop daar staan: “As you travel, ask us.” Met die gevolg dat Bill by elke CHEVRON vulstasie waar hy gestop het gesê het: “Ek is ’n reisiger. Ek sal graag vir jou ’n vraag wil vra: ‘Wat is die doel van die lewe?”
Mike Royco skryf dan oor sommige van die antwoorde wat Bill gekry het. Een van die eerstes het gesê: “Jammer, meneer, ek is nuut hier.” ’n Ander persoon het gesê: “Ek kan nie onthou dat ek iets in die handleiding daaroor gelees het nie.” Nog ’n ander een: “Ek is self nie juis iemand wat graag kerk toe gaan nie.” Die meeste mense het hom egter net met ’n uitdrukkinglose gesig aangestaar.
Op ’n dag het Bill Mallory ’n oproep gekry van CHEVRON se kliëntediens. Die man het gesê: “Ons verneem dat jy ons handelaars sekere vrae vra en dat die antwoorde wat jy kry jou nie tevrede stel nie.” Nadat Bill bevestig het dat dit wel so is, het die man toe aanbeveel hy die vraag op skrif stel en saam met ’n geadresseerde koevert na hulle toe stuur dan sal hulle die vraag probeer beantwoord.
Bill Mallory skryf toe die brief en vra: “Wat is die doel van die lewe?” en stuur dit aan CHEVRON. ’n Paar weke later het die koevert teruggekom. Die enigste ding wat in die koevert was, was ’n kredietkaart.
Dit was die antwoord op Mallory se vraag: “Wat is die doel van die lewe?”
Wat is die doel van die lewe? Of: Wat op aarde maak ek hier?
40 DAE VAN DOELGERIGTE LEWE
Ons gemeente is tans besig met die 40 Dae van Doelgerigte Lewe veldtog. Die eerste week is nou reeds verby. In hierdie ses weke, of veertig dae, gaan ons besig wees met die vraag: Wat op aarde maak ek hier? Vandag kyk ons na die eerste deel van die antwoord op die vraag. Die antwoord is: Ek is hier om God te aanbid. Die belangrikste rede waarom ek hier op aarde is, is om God te aanbid.
Verlede week het dit gegaan oor die vraag: Waarom het God my gemaak? Die antwoord waarby ons uitgekom het was: God het my gemaak sodat Hy my kan liefhê en dat ek vir ewig by Hom kan wees. My reaksie op God se liefde en die gedagte dat Hy my vir altyd by Hom wil hê, is aanbidding. My antwoord op God se liefde vir my is my liefde vir Hom.
In die Bybel verklaar God sy liefde vir ons weer en weer. In die lyding en sterwe van Sy Seun Jesus, wys God sy liefde vir ons. Hy het my so lief en dit is vir Hom so belangrik om my vir ewig by Hom te hê, dat Hy my self kom verlos en aan my die Ewige Lewe gee.
Voordat ons meer oor aanbidding sê, moet ons seker maak dat ek nie dink dat dit iets is wat ek in my eie krag kan doen nie.
God het elke mens geskep met ’n behoefte aan versorging. Ons weet ’n baba het kos en elke ander vorm van versorging nodig om te oorleef. Elke kind het ook emosionele versorging nodig. Navorsing wat op Gorillas gedoen is, het gewys dat babatjies wat met liefde en omgee deur ’n ma versorg is op alle terreine, selfs liggaamlik, beter vorder en ontwikkel as die wat dit nie kry nie. Hoekom is dit so? Want dit is hoe God ons gemaak het. God het die behoefte aan fisiese en emosionele versorging in ons in ons geskep.
Net so het God in elke mens ook die behoefte geskep om te aanbid. Elke mens gaan aanbid, maar nie noodwendig God aanbid nie. God se bedoeling was dat elke mens Hom en Hom alleen sal aanbid. God se bedoeling was egter ook dat geen mens Hom sal aanbid omdat hy moet nie, maar omdat hy wil.
Ek is hier om God te aanbid. Ek is hier om God by wyse van ’n keuse of ’n besluit te aanbid.
Hierdie behoefte aan aanbidding skep in ’n mens iets soos ’n onrustigheid. Altyd op soek na iets meer. Ons kan nie altyd sê presies wat dit is waarna ons soek nie, maar ons weet net daardie behoefte is altyd daar. Ek kan kies wie of wat ek aanbid. God se bedoeling was dat ek Hom en Hom alleen sal aanbid.
Laat 'n boodskap