in beheer van my eie groei

Ons wil graag in beheer wees. In beheer van een of ander vaardigheid of vermoë. Met ander woorde, ek wil dit wat ek doen beter doen. Dalk ’n beter spreker of ’n beter strateeg of ’n beter motiveerder. Ons wil graag in beheer wees van iets buite onsself. Eksterne beheer sou ’n mens kon sê.

Die meeste mense se opleiding fokus ook op die eksterne. Ons leer wat om te dink en nie hoe om te dink nie; ons leer hoe om doelwitte te stel, nie hoe ons doelwitte moet bereik nie; ons leer van “dinge” en nie hoe dinge is nie. Ons is die hele tyd besig om die kruik van kennis voller en voller te maak, maar ons word nie geleer hoe om dit regtig te verstaan en dit effektief toe te pas nie.

Ek is tans besig met verdere toerusting. Een van die dinge wat deurlopend beklemtoon word, is dat kennis of inligting geïntegreer moet word. Met ander woorde ons moet die kennis of inligting gebruik om ons eie situasie beter te verstaan en te sê hoe dit sou lyk as ons die inligting of kennis in ’n bepaalde situasie of wat anders sou wees met betrekking tot sekere gebeure indien ons die kennis wat ons nou opdoen in daardie situasie sou kon toepas. En dan is ons toegerus om ’n verskil in die praktyk te gaan maak. Niemand kan my egter dwing om die nuwe kennis wat ek opgedoen het en die nuwe vaardighede wat ek aangeleer het, in die praktyk te gaan toepas nie. Praktiese integrasie van kennis is my keuse.

Dit beteken nie dat die verbetering en afronding van sekere talente, vermoëns en gawes nie belangrik is nie. Dit beteken net dat daar iets anders, dalk iets baie belangriker is wat ook raakgesien moet word.

Byvoorbeeld: Predikante behoort gewoonlik goeie openbare sprekers te wees as gevolg van die feit dat ons (die meeste van ons) moet en wil preek. Daarmee saam moet ons die vaardighede hê om ’n teks te verstaan en so oor te dra dat die hoorder die teks beter verstaan.  Maar, prediking en eksegese is eksterne vaardighede. Interne vaardighede sou beteken dat dit wat ek ander leer in my eie lewe  weerspieël moet word. Natuurlik is dit nie altyd moontlik nie omdat volkome gehoorsaamheid in hierdie lewe net eenvoudig nie moontlik is nie. Ek dink ons het daardie waarheid te goed integreer en sodanig vrede daarmee gemaak, dat ons alle druk om geestelik te groei deur lewensverandering en groter gehoorsaamheid geneutraliseer het. As predikant, moet ek dikwels in die oomblikke voor ek die kansel opstap sê: “Here U weet dat hierdie dinge wat ek vanoggend gaan sê nog nie in my lewe sigbaar is nie, maar ek weet dat dit is wat U wil hê ek moet sê.” Ander kere: “Dankie, Here, dat U my daartoe gelei het, om in groot mate die mense te wees wat ek die gemeente vanoggend gaan oproep om te wees.

Dit is nie net dominees wat tekort skiet met betrekking tot die integrasie van kennis nie. Ek het lankal opgehou om vir tieners te leer dat dwelms en seks en drankmisbruik gevaarlik is en dat oneerlikheid en opstandigheid ens. onaanvaarbaar in in terme van die Woord van God nie. Hulle weet dit. Ek kan hulle nie eens motiveer om op te hou dwelms te gebruik en seksuele losbandig te lewe en oneerlik te wees deur hulle op die gevolge daarvan te wys nie. Hulle weet al hierdie dinge. Ek sien ook in my bediening hoe mense kennis opslurp, maar hulle het met die loop van die jare geleer om kennis te versamel sonder druk om hulle lewens te verander – kennis en inligting te integreer.

Die moeiliker uitdaging is om mense te leer hoe om kennis te integreer. Hoe hanteer jy die dwelm situasie? Hoe hanteer jy die situasie waar jy so warm gevry is dat jy nie weet dat jy kom of jy gaan nie en elke stukkie in jou skreeu vir seks? Of… hoe keer jy dat jy nie in daardie situasie beland nie? Maar selfs dit het beperkte positiewe gevolge.

Eerder moet ek hulle leer, en dit is waar die kerk en die boodskap van die Evangelie van Jesus Christus ’n unieke voorsprong het, om te verstaan wat dit beteken om onder die beheer van die Heilige Gees te lewe en hoe om die leiding van die Heilige Gees in elke situasie te beleef en te gehoorsaam. Ek kan die situasie van dwelms en losbandigheid en oneerlikheid en opstandigheid en drank gebruik om te wys hoe die Heilige Gees ’n mens in so ’n situasie bystaan en lei.

In elke situasie staan ek voor die relatief eenvoudig keuse: “Gaan ek, of gaan ek nie?” In elke situasie is daar die basiese wete van wat reg en wat verkeerd is. Daardie moontlikheid en besef is die werk van die Heilige Gees. Selfs in die lewe van die persoon wat geen erg het aan of geen erns maak met die leiding van God se Gees nie, is die Heilige Gees op hierdie manier aan die werk. Dit is juis  die keuse en die oortuiging van wat reg en wat verkeer is, wat vir my die bewys is dat God die mens inherent goed gemaak het en dat God die mense primêr geskep het om Hom met sy hele wese te aanbid en te eer.

Wat ’n wonderlike boodskap het ons nie om te verkondig nie. As hierdie dinge nie vir Jou heeltemal nuut is nie, dan is die Heilige Gees in jou lewe aan die werk. God het jou ook inherent goed gemaak en jou ook primêr geskep met die doel om Hom deur ’n lewe van gehoorsaamheid en oorgawe te aanbid.

Aanbid Hom deur die regte keuse te maak en in gehoorsaamheid te lewe.

2 thoughts on “in beheer van my eie groei

Add yours

  1. Sjoe, dit was nou sommer great om weer daaraan herinner te word dat ons die Gees altyd in ons het, wat ons lei in elke situasie. Kennis is ook niks werd sonder gehoorsaamheid nie! Dis al hoe ons, ons kinders met die regte waardes die wêreld kan instuur, deur hul ingesteldheid op die stem van die Heilige Gees! AMEN!!!!

  2. Soms laat die Here toe dat slegte dinge met jou gebeur en land jy op jou rug in ‘n hospitaal bed of tuis en is jy afhanklik van ander mense, Die Here “dwing” jou om op jou rug te lê en op te kyk na hom. Dit het onlangs met my gebeur en ek het “gestoei” oor wie en wat ek is en wat my doel in die lewe is.Vandag besef ek die Here het my weer tot stilstand gedwing om my tyd te gee om te dink. Ek het weereens tot die besef gekom dat ek maar een van die talle klein ratjies in die lewens masjien is. My funksie is om saam met die ander ratte te draai, sommige draai vinniger as ander en ander weer stadiger. Almal moet net in harmonie saamdraai dan loop die masjien mooi glad. My ou ratjie het bietjie vasgehak en al die ander ratte se werking beinvloed.
    Die een boodskap wat ek in die tyd gehoor het is: Groei waar ek jou geplant het en maak ‘n verskil in jou gemeenskap. Ek verstaan nog nie wat ek moet doen nie, maar die Here het met my gepraat en nou moet ek sorg dat ook my ou klein ratjie in harmonie saam met die nader ratte draai.
    Dankie, ds, Attie en ds. Chris dat julle my onlangse stryd verstaan het en geduldig was met my. Ek het die Here se stem gehoor, maar nie verstaan wat Hy vir my wou sê nie. Dit het my seun gekos om dit vir my te verduidelik, maar nou verstaan ek en nou kan ek weer aangaan met my lewe.Die Here het weereens vir my gesê: Raak rustig en kyk nie angstig rond nie. Ek is altyd en in alle onstandighede in beheer. Blom waar jy geplant is en maak ‘n posttiewe verskil in die lewe van andere! Die Here het ‘n nuwe vuur in my aangesteek en ek hoop ek kan die vuur gebruik om ‘n verskil te maak. Daar het vandag ‘n baie groot stuk dankbaarheid en rustugheid oor my gespoel en ek loof die Here en ek dank my God vir NG Gemeente, Waverley met al sy “probleme”, al sy uitdaagings en al sy lidmate.
    Ek moes net die ondervindig van my met iemand deel. Jammer oor die lenge van die kommentaar, maar mag iemand iets leer uit my “stryd” met my doel en funkise in die kerk.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: