In Christianity Today van 5 April 2005 skryf Mike Bonem ’n artikel getitel: “From Good to Great to God.” Hy skryf na aanleiding van ’n lesing van Jim Collins wat hy bygewoon het, waarin Collins gepraat het oor die navorsing wat hy gedoen het met die oog op sy boek “From Good to Great.” Collins se boek is gerig op leierskap in die korporatiewe wêreld. Bonem verwys dan na Collins se opmerking van hoe belangrik dit is “to get the right people on the bus and the wrong people off the bus.”
Tydens die lesing het die volgende vraag deur Bonem se gedagtes gemaal: “Wouldn’t the church be much more effective for the Kingdom if we got the wrong people off the bus?”
Waar Bonem voorheen op die leierskapsvorming en fasilitering in die korporatiewe lewe gefokus het, het hy het met die verloop van tyd meer op leierskapsvorming in die kerk begin fokus. Hierdie skuif het tot gevolg gehad dat hy weer moes besin: “What does it mean to be an effective, biblical leader in a local congregation? It was no longer enough for me to say, ‘My leadership gift has been shaped in the marketplace, and now God wants me to use this gift in ministry.’”
Hierdie opmerking is natuurlik ’n redelik algemene probleem omdat kerke of gemeentes meer soek na mense met bestuurservaring in die korporatiewe of buite-kerklike wêreld, in plaas daarvan om te soek na die geestelik volwasse persone wat in staat sou wees om vanuit ’n persoonlike verhouding met die Here by die leierskap van ’n gemeente betrokke te wees, alhoewel ek geensins sou wou sinspeel op die feit dat bestuurslui uit die korporatiewe lewe ook vanuit hulle geestelike volwassenheid by die leierskap van ’n gemeente betrokke is en daarin sou kon slaag om die sprong van sekulêr na kerklik te maak nie. Ek wil eerder sê dat ons soms met die verkeerde beginsels soek na mense om by die leierskap van die gemeente betrokke te wees.
Die samestelling van ’n gemeente is geheel en al anders as die samestelling van ’n besigheid. As ons die samestelling van ’n gemeente in terme van die korporatiewe wêreld moes uitdruk, sou dit kon beteken dat ’n enkele persoon of gesin gelyktydig “kliënt”; ”werknemer” en “aandeelhouer” van die gemeente sou kon wees. Hierdie situasie maak die besluitneming en die hantering van die alledaagse dinge erg gekompliseerd. (Bonem verwys daarna as “blurred vision”.)
Neem as ’n voorbeeld die hele kwessie oor waar die klem van die kerk se bediening behoort te wees. Wat is die “bottom line” van die kerk? Wat is die bestaansdoel van die kerk? Waaraan sou die “sukses” van die kerk se bediening gemeet kon word? Hoe sou ons weet as ons die regte ding doen?
Met die eerste oogopslag lyk die antwoord eenvoudig. Die bestaansdoel van die kerk is tog die koms van God se koninkryk. Maar, wanneer die bestaansdoel in konkrete terme uitgespel word en prioriteite bepaal moet word, dan is dit nie meer so eenvoudig nie.
Die vraag wat Bonem dan vra is: “What kind of leadership is needed to move from blurriness to clarity, from seeing through simple business lenses to seeing more as God sees?”
Volgens Bonem is daar drie moontlikhede: “Executive, legislative, or situational?”
Kerke het dan die ruimte om wel van strukture gebruik te maak ten einde belangrike besluite te neem. Hy sluit ook aan by Jim Collins dat daar ruimte vir beide behoort te wees. “… more likely, there will be a spectrum, and the most effective leaders will show a blend of both executive and legislative skills.”
Volgens Bonem behoort daar ook ruimte te wees vir die geestelike in die besluitnemingsprosesse van ’n gemeente of ’n kerkraad. “… we must allow time and space for God to speak into the hearts of leaders.”
Alhoewel ek hartgrondig saamstem met wat Bonem sê, is die praktiese uitvoerbaarheid hiervan nie so eenvoudig nie aangesien hier ook ruimte is vir ernstige misbruik. Een daarvan is natuurlik dat die hele gedagte van “space for God to speak” net ’n ander manier kan wees vir ’n leier om nie net sy/haar teenkanting met betrekking tot ’n saak uit te spreek nie, maar dan ook om die kerkraad te manipuleer. Wie kan dan stry met iemand wat opstaan en sê: “Die Here het vir my gesê?”
Die ander moontlikheid is natuurlik dat ’n kerkraad voor die baie moeilike situasie te staan kan kom waar die Here aan twee verskillende leiers verskillende en selfs direk teenoorgestelde boodskappe gee. Hierdie probleem is in besonder ter sprake waar ’n gemeente in ’n konflik situasie is en daar kritiese besluite geneem moet word.
Ek onthou hoe ek ’n paar jaar gelede tydens ’n gesprek tussen geestelike leiers gevra het wat sou gebeur indien ek sou sê dat die Here my oortuig het dat ons die saak volgens ‘n bepaalde manier moet hanteer of dan ’n bepaalde besluit moet neem. Die een persoon wat baie sterk oor die saak gevoel het, het gesê dat hy net eenvoudig sou sê dat die Here hom anders oortuig het.
Watter rol sou vrees vir konflik speel in die soeke na God se wil met betrekking tot ’n spesifieke situasie of besluit in ’n gemeente?
Kan ons in die kerk op suiwer konsensus of selfs ’n meerderheid staat maak wanneer ons op soek is na die regte besluit om te neem?
Wat sou die oplossing wees vir hierdie “blurriness: wat daar dikwels in gemeentes bestaan?
Hoeveel kerkraadslede of sleutelrolspelers benader ’n agenda van ’n kerkraad met die gebed: “Here, help my om U wil te ken met betrekking tot die belangrike sake op ons agenda.”
Watter rol behoort die “feite” te speel in die besluitneming van ’n kerkraad?
Is daar dalk ’n leierskapstyl behalwe “executive, legislative, or situational Leadership?
Laat 'n boodskap