word god se vriend

‘n Lewe van aanbidding is ‘n baie dinamiese gebeure omdat dit die moontlikheid skep dat ek God se vriend kan word. Die Bybel getuig daarvan dat God  ‘n vriendskaps verhouding met ons wil hê:

God het ons geskep sodat Hy ons kan geniet. (Gen. 3:8 en Op 4:11)

God het Abraham sy vriend genoem. (2 Kron. 20:7)

Jesus het vir sy dissipels gesê dat Hy hulle as sy vriende beskou. (Joh. 15:15)

Al hoewel die moontlikheid daar is dat ek God se vriend kan wees, sal God nooit hierdie vriendskap forseer nie. Vriendskap met God is iets waarvoor ek moet kies.

Daar is bepaalde gesindhede wat aangeleer kan word en dinge wat ek kan doen om hierdie vriendskapsverhouding te bevorder.

In die eerste plek moet ek God persoonlik leer ken en nie staat maak op dit wat ander skryf of getuig oor hoe hulle God ken en leer ken het nie. Baie vriendskappe en verhoudings ontwikkel en beweeg nie na die volgende vlak nie as gevolg van persepsies wat by ons gevorm is op grond van dit wat ander mense sê. Wanneer ons by daardie persepsies verby kan beweeg en vanuit eie ervaring die persoon regtig leer ken, ontstaan daar ‘n nuwe waardering vir die persoon.Ek kan kennis neem van dit wat ander mense uit hulle belewenis van God geleer het, maar vriendskap beteken dat ek Hom liefhet as die Een wat ek in ‘n een-tot-een verhouding ontdek het.

Dieselfde is waar in my verhouding met God. Verskillende mense het ‘n invloed gehad op wie ek dink God is. God het egter verskillende dinge tot my beskikking gestel waardeur ek Hom persoonlik  kan leer ken – eerstehands kan leer ken. Die skepping; die Woord; die besoek van sy Seun en ons direkte toegang tot die Heilige Gees. Hy wil hê dat ek Hom persoonlike sal leer ken. As ek dit doen, sal ek Hom liefhê.

Wanneer ek God eerstehands leer ken en ek Hom toelaat om my te ken, geniet God ons vriendskap en verhouding soos Hy dit bedoel het.

Ek kan ook uitvind wat dit is waarvan God hou en waarvan Hy nie hou nie. Hierdie tipe inligting bevorder enige menslike verhouding en dit is ook waar van my verhouding met God. So byvoorbeeld hou God van nederigheid, maar hy het ‘n afsku aan hoogmoed; Hy hou daarvan as ek aandag gee aan die nood van armes en behoeftiges, maar Hy het ‘n afsku aan die doelbewuste ingnorering van die nood van ander; Hy hou van partytjies, maar Hy verafsku godsdiens wat mense van hulle lewensvreugde beroof. Hierdie lys kan aangaan en aangaan. Wanneer ek weet wat dit is aarvan God hou en waarvan Hy nie hou nie, het ek ‘n vanselfsprekende keuse: Ek kan die dinge doen waarvan Hy hou en my vriendskap met Hom verdiep en al hoe minder die dinge te doen wat ons uitmekaar dryf. Die Bybel noem dit gehoorsaamheid.

Wanneer ek al hoe meer daarop fokus om die dineg te doen wat ons vriendskap verdiep, sal ek agterkom dat God ook die dinge doen om ons vriendskap te verdiep.

Ek kan ook my vriendskap met God verdiep deur belang te stel in dit waarmee Hy besig is en dat ek dan as deel van my vriendskap met God ‘n aktiewe rol speel in sy missie – dit waarmee Hy besig is. Hy sal my toelaat om in my klein, selfsugtige hoekie te bly waar ek met my eie ding besig wat eintlik bitter min te doen het met dit waarmee Hy besig is. Daar is soveel dinge in die wêreld waarmee Hy besig is, waarin Hy my bitter graag sou wou betrek en waarvan Hy my deel sou wou maak. ‘n Baie duidelike teken dat my oë begin oopgaan vir my vriendskap met God. is wanneer ek al hoe meer begin sien waar Hy werk en hoe Hy werk. Ek sien Hom aan die werk in die gemeente, maar ook die alledaagse lewe. Ek sien Hom in die lewe van gelowiges, maar ook in die mense buite die geloof. Ek sien Hom meeste van alles aan die werk in die lewe van mense. Hy is die hele tyd besig om hulle nader en nader aan Hom te trek. Omdat sy belange ook meer en meer my belange geword, ontdek ek dat ek ook al hoe meer na ander mense toe aangetrek word.

DInk net aan die intiemheid wanneer ek saam met God besig is met die dinge wat vir Hom belangrik is.

Goeie vriende vier mekaar se suksesse. God het goeie werk gedoen en Hy is steeds besig om goeie werk te doen. Wanneer ek leer om te deel in God se prestasies en suksesse het dit lof tot gevolg. Dit beteken ook dat ek die wonders wat Hy doen en gedoen het al hoe meer ondersoek sodat ek Hom meer en meer kan geniet. Wanneer ek leer om God se werk met blydskap te vier het dit ‘n uitwerking in die lewe van mense waar Hy aan die werk is en help ek hulle om God se oorvloed te ontdek. Wanneer ek leer om God se suksesse en prestasies te vier groei ek in hoe ek oor God dink en oor Hom voel. Ek en elke ander mens is ‘n werk in proses. Ons is nog nie alles wat ons moet wees nie, maar God is met elkeen van ons oppad om te word en te wees wat Hy bedoel het ons moet wees. Hoe meer ek leer om God se werk te vier, hoe meer groei en in my vriendskap met God.

Ek moet God toelaat om deel te wees van my suksesse en prestasies, Hom deel maak van die goeie tye saam met my familie, my vakansies en sommer net die dinge wat vir my goed en mooi en lekker is. Ek moenie net met Hom in aanraking kom wanneer ek Hom nodig het nie, maar in besonder ook in die hoogtepunte en mooi oomblikke in my lewe.

Wanneer ek saam met God sy sukesse vier en Hom betrek by my suksesse en prestasies, dan geniet God ons vriendskap.

Vriendskap met God veroorsaak dikwels meer en meer openheid; meer en meer deursigtigheid; meer en meer beskikbaar vir ander en meer en meer ‘n vertoonkas van die hart van God.

Wanneer dit gebeur, dan noem God my vriend en geniet Hy my soos Hy dit bedoel het.

Wanneer ons dan op ‘n Sondag in die kerkgebou is, is ons deel van ‘n vriendekring waarvan God die midelpunt is.

Advertisements

5 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

5 responses to “word god se vriend

  1. Wes

    Attie, ek dink om alles hierbo op te som is om te sê; Jy moet ‘n PERSOONLIKE verhouding met God hê en dit kan jy net bereik as God jou vriend is waarmee jy alles kan deel, en ek bedoel alles.

  2. Attie, ek stem volkome met jou punte saam. Wil net graag vra: Dink jy nie daar word soms te veel klem gele op die vriendskapsverhouding nie en dan ontaard dit in ‘n kwessie van “Jesus is my buddy”? Op so ‘n wyse bly ‘n groot klomp ontsag vir die die Almagtige God soms in die slag en respek word verloor. Moet my nie verkeerd verstaan nie…Jesus het immers self vir ons gese Hy is ons Vriend. Maar tog nie soos enige vriend nie. Hy is steeds God, die Skepper van die heelal en verdien die nodige respek en behoort nie slegs gereduseer te word tot ‘n “buddy” nie.

  3. BiB: Ek is ook versigtig om oor hierdie goed te praat juis oor dit wat jy noem. Ek dink sulke mense verwar familiriteit met intiemheid. As ek deur die Bybel lees, dan sien ek dat juis die mense wat naby aan God geleef het, soos Abraham, Dawid, Jesaja, Johannes selfs sy ma Maria se lewens in die heel eerste van respek en agting getuig. Elke eienskap van God is net een eienskap en daar is altyd baie meer. Alhoewel Vader een is, is dit nie die volledige Openbaring van God nie. Initmeheid is nie familiateit. Familiaariteit is ook nie intiimiteit nie.
    (Verskoon die spelfoute. My bril het gebreek en ek kan nie lekker sien wat skryf ek nie.)

  4. Blikoor

    Attie: As ek hierdie gesprekke lees, laat dit my terugdink hoe ek as jong seun kort na my oortuiging dat ek ‘n kind van die Here is, gesoek het na God se nabyheid. Ek wou ook hierdie nabyheid van die Here ervaar. Dit was veral aangevuur deur ‘n groepie by die skool wat by elke CVS byeenkoms (het niks teen die CSV) vertel het hoe wonderlik naby die Here aan hulle is en hoe hulle ure Bybellees en bid. Hulle het ook gepraat van hierdie spesiale intimiteit.

    Ek kon die Here se nabyheid nog nooit so ervaar nie. Maar ek is vas daarvan oortuig dat Hy elke oomblik by my is. Ek sien myself as ‘n gevoelsmens met deernis. Kom uit ‘n huis waar ons baie liefde en behoort ervaar het.

    Ek gun ouens om hierdie spesiale nabyheid te ervaar. Baie groepe het in die geskiedenis hulle al afgesonder om hierdie ervarings te beleef – in woestyne gaan bly om hierdie intiemheid te ervaar – weg van die wêreld, net ek en die Here.

    Daar is baie ouens soos ek wat koud gelaat word deur hierdie oproepe. Ek weet die Here is by my – daarin lê my krag. Baie rasioneel nè! Ek het nie die behoefte dat die Here my vriend moet wees nie. Hoe moet ek vir die Here ‘n vriend wees, as hy dan my vriend is? Hy is vir my, my Here – dis vir my genoeg. Gee maar net die anderkant van ‘n opregte en nie minder kind van die Here!

  5. Blikoor: Op ‘n rasionele wyse leer ek dat God nie emosieloos is in sy verhouding met my nie. Op ‘n rasionele wyse leer ek dat ek dankbaar moet lewe. Dankbaar is ‘n emosie. Op ‘n rasionele wyse leer ek dat ek berou moet hê wanneer ek ongehoorsaam is. Op ‘n rasionele wyse leer ek dat ek vergewe is en daarom nie meer berou hoef te hê nie – my reaksie daarop is verligting en rustigheid en vrede in die wete dat God vir my genadig is. Met my verstand kyk ek oor God se sskepping wanneer ek in die wildtuin is, en daardie verwondering is ‘n emosie. Geloof is vir my om te weet dat God daar is selfs wanneer ek geen aanduiding het dat Hy wel daar is nie. Ander kere Vriendskap is een term wat die Bybel gebruik om God se verhouding met mense te formuleer. Ek dink nie die een sluit die ander een uit nie en ek dink ook nie almal gaan dit dieselfde beleef nie en ek dink, soos jy ook sê, ons gun mekaar om elkeen sy verhouding met God anders te verstaan/beleef/ervaar/ken.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s