Die boodskap van kerstyd is dat Jesus Christus, die enigste Seun van God ter wille van ons versoening met God mens geword het.
Uit die aard van die saak is daar mense wat verskillend dink oor God. Ek gaan probeer om oor die volgende paar dae iets oor elkeen van die volgende te skryf:
1. Ateisme.
2. Deïsme.
3. Panteïsme/panenteïsme.
4. Teïsme.
5. Christenskap.
ATEÏSME
Ateïsme se basiese beandering tot die lewe: “Daar is geen God nie.”
Die implikasie daarvan is dat hierdie lewe die enigste lewe is wat daar is. Daar is geen god wat die mens geskep het nie; wat in ons belangstel nie; wat ons kan vertroos nie, waarop ons ons kan beroep nie. Dit is net ek en jy en hierdie lewe en hierdie skepping, verder is daar niks nie.
In sy boek “Science and Christianity: Conflict or Coherence” skryf Henry F Schaeffer III dat iemand by geleentheid vir Richard Dawkins gevra het:
Doesn’t your worldview lead you to be depressed?
Sy antwoord was:
I don’t feel depressed about it. But if somebody does, that’s their problem. Maybe the logic is deeply pessimistic. The universe is bleak, cold and empty. But so what.”
Ateïsme het die potensiaal om mense depressief te laat, maar dit is hulle probleem. Hoekom sal ek my oor ander se depressie bekommer?
Ateïsme is ‘n pessimistiese beandering as gevolg ‘n koue en leë bestaan, maar “so what”.
In Ateïsme is daar geen sprake van God wat in liefde in Christus mens geword het nie. Ateïste sal nie ontken dat daar om en 30 n.C. ‘n man met die naam Jesus, wat daarop aansprak gemaak het dat Hy die Seun van God is in die Jerusalem omgewing gelewe het en selfs dat Hy gekruisig is nie, maar vir hulle was Hy net nog ‘n mens en is die bewering dat Hy uit die dood uit opgestaan het, net dit, ‘n bewering, omdat dit nie wetenskaplik bewys kan word nie.
“Bottom line”: Daar is geen god nie. Hierdie lewe is die enigste lewe wat daar is. Jy is op jou eie. Doen jou bes, maar as jy nie wil nie, “so what”, dit is jou probleem.
Ds Attie, ek het nou nie enige skerp kritiek op hierdie opinie nie, want dis min of meer presies hoe ek my ateïsme voorgestel het het toe ek nog geglo het.
Maar ek dink die klem op depressie is ondeurdag. Ek, en die ander ateïste wat ek ken, lei nie aan depressie nie (eerder aan ‘n oorvol lewe, met te min tyd om alles te doen wat ek graag wil).
Daar is ander dinge wat ek van Christene bewonder, of wat ek Christene oor beny, maar oorwinning oor depressie tel nie daaronder nie. Nie dat ek wil beweer dat Christene nie goeie antwoorde vir mense met depressie het nie, maar dis net dat ek talle Christene ken wat aan depressie lei, en ek dink die idee dat ateïsme met depressie verenselwig moet word is ‘n wanvoorstelling.
Verder, stem ek ook nie saam met die idee van ateisme as ‘n “koue en leë bestaan”, waar jy “op jou eie” is nie. Baie ateiste het ‘n humanistiese beskouing, en gee en ontvang baie liefde. Sommige van die mense wat betrokke is by groot Britse liefdadigheidsorganisasies is byvoorbeeld ateiste.
Alleman: Die opmerking oor “depressie: is maar na aanleiding van Richard Dawkins se antwoord op die vraag. Ek stem saam dat Christene op nie van depressie gevrywaar is nie.
Met koue en leë bestaan bedoel ek eerder dat dit ‘n lewe sonder hoop is. Die hoop op ‘n uiteindelike lewe saam met God gee sin aan Christene se lewe.
Om te sê dat ateïste nie by liefdadigheid betrokke is nie is ‘n onbillike veralgemening, maar die gesamentlike betrokkenheid van Christene by liefdadigheid oortref in menige lande die van die staat wanneer dit in geldwaarde gemeet word.
Daarmee saam stort die kerk nie net geld in liefdadigheidsorganisasies nie, maar is meer individuele Christene op ‘n vrywiilige basis by liefdadigheid betrokke as enige ander groep. Ek wonder of dit nie dalk as alle ander groepe tesame is nie.
Ek dink ‘n mens sou die gevolgtrekking kan maak dat die wêreld ‘n baie beter plek is as gevolg van Christene se betrokkenheid in die sin dat dit baie erger sou gewees het indien ons nie daar was nie.
Christene leef met ‘n hoop op die toekoms, maar bring ook hoop vir mense in nood met betrekking tot hulle lewe op aarde.