In alle billikheid moet ons na verlede week se gesprek oor saamwoon, die reaksie van die Moderatuur van die Algemene Sinode oor die saamwoon debat ook plaas.
Na aanleiding van die persberigte dat die NG Kerk die goedkeuring van die saamwoon van paartjies oorweeg en die daaropvolgende hewige openbare gesprek, stel ons graag die volgende:
Die Moderatuur herbevestig die standpunt dat slegs die liefdesverbintenis tussen een man en een vrou wat volgens kerklike en wetlike voorskrifte in ‘n huwelik bevestig is, uitdrukking gee aan die NG Kerk se siening van ‘n huwelik. Ons is daarvan oortuig dat volle geestelike en seksuele gemeenskap tussen ‘n man en ‘n vrou in die huwelik tuishoort. Saamwoon is nie ‘n aanvaarbare alternatief vir die Christelike huwelik nie.
Ons is egter ook daarvan bewus dat daar tans vrae rondom aspekte van huweliksluiting leef wat nuwe kerklike besinning vra en duidelike antwoorde soek. So is dit ‘n vraag by sommige of die erkenning van beide staat en kerk by huweliksluiting nodig is. Daarby wil sommige weet of die vaste oortuiging dat hulle later gaan trou, nie aan paartjies die reg gee om voorlopig saam te woon nie. Of dat ‘n gesamentlike belofte van trou voor God en sonder getuies uit die kerk of staat, nie ook huweliksluiting kan beteken nie. Sommige pensioenarisse wat wil trou, word gekonfronteer met die feit dat een van die partye bepaalde pensioenvoorregte kan verloor wanneer ‘n huwelik gesluit word: wat nou?
Die blote feit dat ‘n taakspan van die Algemene Sinode hierdie sake ondersoek, beteken nie dat die huwelik as instelling bevraagteken word nie. Ons betreur die krasse openbare uitsprake van mense in die pers wat, sonder om seker te maak van hierdie feite, die NG Kerk onder verdenking plaas.
Ons glo dat die Bybel die finale woord hieroor moet spreek. Daarby wil ons die vrae van gelowiges hieroor ernstig neem en begronde antwoorde vind. Ons is oortuig dat Christene in liefde met mekaar moet omgaan en saam na antwoorde moet soek.
Daar dien nog geen voorstel oor hierdie saak, of enige saak wat hiermee verband hou, voor die Moderamen van die Algemene Sinode nie. Enige ingrypende besluit wat oor hierdie saak geneem word, kan slegs deur ‘n Algemene Sinode geneem word. Die volgende Algemene Sinode vergader in Oktober 2011.
Ek is in die eerste plek dankbaar vir die inhoud van hierdie skrywe want dit plaas die saak uit die aard van die saak binne perspektief. Die skrywe stel dit ook duidelik dat daar wel sake is waaroor daar nagedink moet word. Ek is dit 100% eens dat die verbintenis van kerk en staat met betrekking tot huwelikssluiting weer ernstig bedink moet word. Alhoewel ek nie ‘n duidelike antwoord het nie, besef ek wel dat pensioentrekkers soms met ‘n baie ernstige probleem te make het.
Voordat ek verdere kommentaar op hierdie skrywe lewer, moet ek eers my ongekwalifiseerde lojaliteit teenoor die NG Kerk bevestig.
Die Moderatuur maak dan egter ook melding van die vrae waaroor daar wel nagedink gaan word:
Daarby wil sommige weet of die vaste oortuiging dat hulle later gaan trou, nie aan paartjies die reg gee om voorlopig saam te woon nie.
Daaroor wil ons met mekaar praat en vermoed ek gaan daar nog tot en met 2011 baie gepraat word.
Die volgende sinnetjie:
Of dat ‘n gesamentlike belofte van trou voor God en sonder getuies uit die kerk of staat, nie ook huweliksluiting kan beteken nie.
Met ander woorde, ‘n paartjie kan op hulle eie sonder enige getuies saam trou aan mekaar belowe en dit dan as ‘n huwelik beskou. Die oorgrote meerderheid van tieners op hoërskool glo dat die ou of meisie met wie hulle uitgaan sy/haar trouman/-vrou is. Iemand moet vir my verduidelik waarom die oorweging van so ‘n vraag nie maar ernstige en selfs driftige debat tot gevolg mag hê nie. Ek wonder selfs waarom die vraag nie maar met ‘n ongekwalifiseerde “nee” geantwoord kon geword het nie. Wat is daar om oor na te dink of ‘n ondersoek te doen.
Ons betreur die krasse openbare uitsprake van mense in die pers wat, sonder om seker te maak van hierdie feite, die NG Kerk onder verdenking plaas.
Wat is die feite:
Die Algemene Sinode handhaaf die gesag van die Woord en vorige besluite oor die huwelik.
Die standpunte oor die huwelik word weer bedink in die lig van sekere vrae.
‘n Taakspan is aangewys om hierna te kyk.
Na my mening is daar wel soms krasse uitsprake, maar daar is ook intense emosies hierby betrokke.Dit is ook so dat daar diegene is wat hierdie situasie en gesprekke misbruik om die NG Kerk verdag te maak en selfs ‘n paar lidmate te “score”, maar alle gesprekke word nie met daardie intesnie gevoer nie.
Ons as leraars en lidmate van die NG Kerk moet juis nou met mekaar in gesprek gaan oor die vrae waaroor daar deur ‘n taakspan van die Algemene Sinode ‘n amptelike ondersoek gedoen gaan word. Alhoewel ek nie dink dat dit die intensie van die verklaring is nie, het ons nie nodig om te wag totdat die saak deur ‘n taakspan ondersoek is en dit by 2011 by die Algemene Sinode hanteer is voordat ons dit kan bespreek nie.
Die intens emosionele debat en soms krasse uitsprake het sy oorsprong by voorbladartikel van KERKBODE. Is dit persvryheid wat maak dat daar nie iewers met die Redakteur en die joernalis gepraat moet word nie
Ek sou sê:
Ek neem kennis van die huidige debatte met betrekking tot saamwoon voor die huwelik en moedig selfs sodanige gesprekke aan, sodat lidmate en ander gelowiges wel deurdagte standpunte kan inneem oor hoe ons as gelowiges sake soos die huwelik in ‘n altyd veranderende omgewing moet hanteer. Ek bevestig egter dat die Woord steeds die hoogste gesag het en is vol vertroue dat die toekomste besluite van die Algemene Sinode in daardie lig geneem sal word. Totdat dit gebeur, aanvaar ek die huidige standpunt, beleid en besluite van die Algemene Sinode in hierdie saak.
Sou dit nie meer juis wees om te sê “algemene moderatuur” se reaksie nie? Die moderatuur is tog nie die sinode nie.
Bertus: Ons moet dalk vra dat hulle die naam waarmee hulle briewe uitstuur verander.
Is hierdie hele saamwoon kwessie nie maar net ‘n “deur”wat nou al oopgemaak word,sodat dit die weg kan baan vir ander tipe situasies nie,soos bv.Homseksuele wat in NGK wil trou,ek bedoel,as die een dan goed kan wees dan kan al die ander ook mos nie verkeerd wees nie.”Pave”dit nie maar net die weg of is dit nie maar net die voorloper vir goedkeuring vir ander “sensitiewe”situasies nie.Is God se woord dan nie meer geloofwaardig nie.Ek weet bv.dat as die Pous die bybel wil verander,dan verander hy dit en al die katolieke val daarby in.Waarom “betwyfel “die mens God se woord.Kan dit dan nou maar nie geglo word en nie weer oor en oor “getoets” word nie.Dit stem my onrustig in my gees.Daar is woorde in my wat moet uitkom,maar dit is nog in die proses van geboorte en sal later geopenbaar word.Die tyd is nog nie reg nie.
Attie, as sekere mense namens die NG Kerk uitsprake maak (Chris Jones, James Kirkpatrick) en dit skynbaar in ‘n amptelike hoedanigheid doen, dan kan lidmate en ander belanghebbendes sekerlik nie verkwalik word as hulle daarop reageer nie. Baie duidelik word dit in die voorbladartikel van die Kerkbode gestel dat die vorige besluite nie meer bevredig nie en dat daar na ander alternatiewe gekyk moet word, onder andere dat daar “onderskei moet word tussen ‘n promiskue lewenstyl en die seksualiteit tussen twee mense wat mekaar in ‘n verbintenis lief het”, en ook “dat daar nie klinkklare gronde is om te sê seksualiteit kan nét binne die huwelik uitgeleef word nie – daar is uitsonderings.”
In die lig hiervan, weet ek nie hoedat mense verkwalik kan word vir hulle sterk reaksie teen hierdie sienings nie en oortuig die verwyt rondom “die krasse openbare uitsprake van mense in die pers wat, sonder om seker te maak van hierdie feite, die NG Kerk onder verdenking plaas” my nie. Met so ‘n voorbladberig in die NG Kerk se amptelik koerant is dit onvermydelik dat daar reaksie gaan kom. As hierdie persone nié in hulle amptelike hoedanigheid gepraat het nie, dan moet hulle ook sekerlik gerepudieer word om sulke krasse uitsprake in die openbaar te maak, waardeur die NG Kerk se integriteit beslis ook onder verdenking geplaas is.
Arnau: Ek het ook in my binneste die gevoel dat dieselfde persverklaring ook iets moes gesê het oor die uitsprake wat deur individue gemaak is sonder om te besef dat hierdie ‘n hoogs sensitiewe saak in die Christelike kerk is wat dan die beeld van die kerk in die gemeenskap, maar evral in die kerk-gemeenskap skade sou doen en reedes gedoen het. Ek sou ook verwag dat die Chris en James na vore sou kom en verduidelik waar hulle misverstaan is met betrekking tot hulle uitsprake.