Hierdie is my laaste inskrywing oor hierdie onderwerp. Die vorige twee dae was daar baie interessante opmerkings oor die saak en is dit duidelik dat die antwoord nie eenvoudig en maklik gaan wees nie. In Neels Jackson se artikel in gisterin Beeld (Woensdag 9 Desember 2009) was dit ook duidelik dat die antwoord nie eenvoudig gaan wees nie.
In hierdie onderwerp gaan die nie oor saamwoon as sondanig nie. Met ander woorde, ons sal van die veronderstelling moet uitgaan dat daar wel paartjies sou kon wees wat saamwoon maar waar daar nie ‘n seksuele verhouding is nie. Dit gaan in hierdie gesprek oor ‘n seksuele verhouding tussen twee mense buite die huwelik.
My vorige opmerking bly steeds: Chris Jones het gekrap waar dit nie gejuk het nie. Watter antwoord daar ookal gegee word, die kerk en die koninkryk gaan skade lei.
Indien die antwoord is dat die kerk saamwoon afkeur, gaan dit die persone tussen 25-35 nog verder van die kerk vervreem.
Indien die antwoord is dat die kerk saamwoon goedkeur, gaan die NG Kerk weer die risiko loop om die ouer geslag te vervreem.
Die realiteit is na my mening eerder dat diegene wat ons wil “paai” met hierdie nadenke nie regtig omgee of die kerk hulle optrede goedkeur of nie. In die bietjie wat ek oor hierdie geslag lees is hulle meer bekommerd oor die kerk se bydra om van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak as om reg en vekeerd of aanvaarbaar of onaanvaarbaar uit te spel.
In die homoseksuele debat kon die Algemene Sinode nie ‘n finale besluit neem nie. Ek vermoed dat die Algemene Sinode ook met betrekking tot hierdie saak nie ‘n duidelike en finale besluit gaan neem nie, wat tot gevolg gaan hê dat die kerk in haar NG Kerk gedaante nie die moed van haar oortuiging het om op te staan vir dit wat werklik haar oortuiging is nie en in die proses gaan die geloofwaardigheid van die kerk nog meer bevraagteken word.
Na my mening bly die enigste antwoord steeds ‘n pastorale antwoord wat beredeneer word vanuit die Vaderhart van God wat gepaard gaan met die belydenis dat God in sy alwysheid aan die mens beperkings stel tot die beswil van diè mens wat die werk van sy hande is. Daarmee bedoel ek dat God weet wat vir ons die beste is en ons deur sy wet (waarskuwings???) vermaan om te gehoorsaam selfs al verstaan ons nie, maar eerder omdat ons Hom gehoorsaam en aanvaar dat sy wil (soms onverstaanbare wil) vir ons die beste is.
In hierdie snit van Mark Gungor verwoord hy sy mening oor die saak van seks voor die huwelik. Ons hoef nie met alles saam te stem nie, maar dit kan ons dalk help om verder en dieper oor hierdie saak te dink.
Sela.
Attie, ek dink nie die hele debakel was heeltemal onnodig en skadelik nie, daar is baie mense wat nou hul standpunt gelig het en dit het eintlik gedraai by seks voor die huwelik. Ek was baie opgewonde oor Arnold Mol se brief in gister se koerant. Ek dink baie dinge wat ongesê bly word nou sommer so bespreek. Dis ook nou makliker om met tieners hieroor te praat want nou het ons ‘n aanknopingspunt. Maar ja, SELA.
Jeremia 8:
4 Jy moet vir hulle sê: So sê die Here: Sal iemand val en nie opstaan nie, of wegdraai en nie terugdraai nie?
5 Waarom draai hierdie volk weg van My af, en waarom hou Jerusalem aan om van My af weg te draai? Hulle hou vol met hulle bedrog, hulle weier om na My toe terug te draai.
6 Ek het goed geluister en Ek het gehoor dat hulle nie die waarheid praat nie, niemand het berou oor sy sonde nie, niemand sê: “Wat het ek tog gedoen!” nie. Elkeen breek met vaart van My af weg soos ‘n perd uit ‘n geveg wegstorm.
7 Die trekooievaar ken sy tye van kom en gaan, die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël kom op ‘n vaste tyd terug, maar my volk wil nie weet wat die Here vir hulle vasgestel het nie.
8 Hoe kan julle sê: “Ons het wysheid, ons het die wet van die Here by ons”? Dié wat die wet neerskryf, pleeg bedrog, hulle vervals die wet!
9 Die wyse mense staan verslae, hulle is verbyster, in hulle eie net gevang. Hulle het die woord van die Here verwerp, en wat baat hulle wysheid hulle nou?
10 Ek sal hulle vrouens aan ander gee en hulle grond aan nuwe eienaars, want almal, klein en groot, wil hulleself net verryk, almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog.
11 Hulle het ‘n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: “Alles is reg! Alles is reg!” Maar niks is reg nie.
12 Wanneer hulle aan die kaak gestel word oor die gruwelike dinge wat hulle gedoen het, skaam hulle hulle nie eens nie, hulle weet nie van skaamte nie. Daarom sal hulle tot ‘n val kom soos al die ander voor hulle; wanneer hulle rekenskap moet gee, sal hulle omkom, sê die Here.
Attie; Ek hou die ondersoek en besluit van die NG Kerk se ringkoppe oor die saam woon debat met belangstelling dop. Ek hoop net nie hulle “sluk weer ‘n wind” soos met die homoseksuele ondersoek en “besluit ??” nie. Party vra het net nie ‘n regte of verkeerde antwoord nie, soos die een: Slaan jy nog jou vrou? Sê jy “ja” betekend dit jy slaan jou vrou. Sê jy “nee”, beteken dit jy het haar geslaan, maar jy doen dit nie meer nie. Is saam woon sonde, “ja” of “nee”?
Ek haal my hoed af vir mense soos Chris Jones wat “gekrap het waar dit nie gejeuk” het nie. EWk wens daar meer dominees met murg in hul pype om nie weg te skram van moeilike onderwerpe nie. Interessant om jou blog te lees en te sien hoe jy so tussen alles deur probeer stuur sonder om die moed aan die dag te lê om standpunt in te neem.
Dit is natuurlik jou goeie reg om so allemansvriend te probeer wees en almal tevrede te stel. Maar los maar liewer diegene uit wat dit waag om eerlike debat te voer. Het jy al die moeite gedoen om jou siening oor Chris Jones persoonlik met hom te bespreek of doen jy dit net agter sy rug op jou blog?
Gerhard:
1.Dit gaan nie oor Chris Jones nie. Dit gaan oor die kerk en dat die kerk hierdeur gaan skade lei. Dit maak nie saak wat die kerk hieroor besluit nie, dit gaan tot nadeel van die kerk wees, en dit is waar die kruks van die saak lê. Die wat sterk daaroor voel dat dit wel ‘n sonde is gaan teleurgesteld wees in die kerk indien die kerk dit aanvaarbaar maak. Die wat saamwoon gaan teleurgesteld wees as die kerk weereens nie ‘n finale standpunt hieroor inneem nie.
2. As ek allemansvriend wou wees sou ek nie hierdie saak hier opgeneem het nie.
3. Dit is nie my rol as leraar (of dan sinode) om te besluit wat reg en aanvaarbaar is en wat nie. Dit is die rol van die leraar (en die kerk) om die mens in sy omstandighede te ontmoet met ‘n gesindheid van aanvaarding en begrip (saamwoner; homoseksueel; geskei; huwelikskrisis; gesinskrisis; geloofsskrisis; rousmart. Ens. Ens.) en die persoon te begelei om God in sy omstandighede beter te verstaan en die versoeningswerk van die Here Jesus Christus van toepassing te maak op sy/haar situasie of omstandighede.
4. As Chris Jones ‘n standpunt het mag ek tog sekerlik ook ‘n standpunt hê.
5. Weereens: Dit gaan nie oor reg en verkeerd nie, dit gaan oor die kerk se versoeningsrol in die gemeenskap en in in die wêreld. En hierdie rol geniet prioriteit bo reg en verkeerd. Dit maak nie saak wat die besluit van wie ookal is nie, dit sal my manier van optrede teenoor sulke persone op geen manier beïnvloed nie.
6. Is die oersonde nie dat Adam en Eva ook tussen reg en verkeerd wou onderskei – ‘n voorreg wat net God sin was?
7. My naam staan bo aan my blog. Ek voer nie die gesprek agter sy rug nie, ek voer dit in die openbaar. Enige iemand is welkom om hier te kom lees.
Gerhard:
Ek sien dit nou as dat die kerk moet sê of saamwoon reg of verkeerd of aanvaarbaar of aanvaarbaar is of nie.
My vraag is of Jesus so erg bekommerd was oor of die mense se gedrag reg of verkeerd of aanvaarbaar of onaanvaarbaar was. Hy het by sondaars en tollenaars geëet sonder om te vra of Bv. Levi se praktyk om as tollenaar om mense te bedrieg aanvaarbaar was of nie. Hy het die mens aanvaar en met die mens moeite gedoen – ongeag sy moreel-etiese leeefstyl. Dit wil eerder vir my lyk asof die boodskap van die Nuwe Testament ‘n boodskap is om in liefde te wat fokus op die mens in sy omstandighede – watter omstandighede ookal.
Was die Fariseërs nie daarvoor bekend dat hulle namens God wou besluit wat reg en wat verkeerd en wat aanvaarbaar en wat nie aanvaarbaar is nie?
Onthou nou: Die sinode kon nie ‘n finale standpunt oor homoseksualiteit inneem nie. Net hier lê lidmate se vrees oor hierdie saak: Die Sinode gaan weereens nie ‘n finale besluit oor saamwoon neem nie – ek waarborg jou dit – en dit terugverwys na die gemeentes om na goeddunke te hanteer.
En weet jy wat, in ons gemeente doen ons dit lankal. Mense kom na ons gemeente toe sonder dat ons vra: Bly jy saam? Is jy homoseksueel? Is jy geskei? Is jy verslaaf aan dwelms? Bid jy twee keer op ‘n dag? Ons uitnodiging aan mense is om te kom sonder vrees vir enige vorm van oordeel en dan toe te laat dat God deur sy Gees en deur sy Woord met sulke mense werk. En as daardie persoon nie daarvan oortuig word dat saamwoon of voorhuwelikse seks sonde is nie, dan aanvaar ons daardie persoon nog steeds.
Sien, Gerhard, ons laat maar die koring en die onkruid saam groei. Want netnou trek ons onkruid uit dan was dit koring en netnou laat ons koring bly dan was dit al die tyd onkruid. Ek dink tog dit is maar beter om die besluit oor reg en verkeerd in God se hande te laat.
Maar nou ja, ek is maar ‘n bietjie confused oor al hierdie dinge.
Attie jy is seker nie ernstig nie swaer. Die oersonde van Adam en Eva? Genade ons, moet net nie vir my sê jy beskou Adam en Eva nog steeds as hisgtoriese fgure nie? Nou is jy kwansuis bekommerd oor die kerk wat gaan skade lei. Kan jy nie self insien hoe gek jou redenasie is nie?
Die organisasie wat jy kerk noem mag nie “skade lei” nie. Nee swyg liewer en hou alles onder die kombers sodat Attie se “kerk” nie skade ly nie. Verstaan jy waarom raak die kerk by die dag al hoe irrevanter Attie? Dit is omdat mense soos jy ‘n karikatuur van die kerk gemaak het met julle sondepolisie en al. Julle is meer bekommerd oor die “skede” wat jou eie klub mag ly as dat die saak openlik bespreek word. Sies! Gee ‘n slag ‘n tree of twee uit jou ivoortoring en gaan kyk hoe lyk die regte lewe daarbuite.
Mense ly honger, kinders sterf aan vigs en geweld neem hand oor hand toe. Maar middeljarige omies met wit dassies en grys skoentjies vind dit goed om te kibbel oor ander mense se slaapkamersake. Ag wat, maar dit is seker ook glad nie so vreemd nie. Net nou die dag nog het hulle steeds geredekawel of die duiwel bestaan of nie. Het hulle toe al besluit of ou Niek bestaan of nie? Of moet daar eers weer ‘n kommissie van ondersoek ingestel word om daaroor te besluit. Hoe middeleeus kan ‘n mense nie wees nie.
Dank die vader vir die paar uitsonderings in die kerk besef hoe banaal dit alles is.
Jitte, ek kry so amper vir Gerhard jammer, die man weet duidelik nie waarvan hy praat nie. Klink my hy’s lus vir baklei en nou loop arme Doom Attie deur. Dankie dat jy die geleentheid vir ons gee om te lees en te gesels en uit te vind hoe ander oor die saamwoon besigheid dink Ds! Mens oordeel en veroordeel so maklik.Ek moet ook maar elke dag eers die balk uit my eie oog haal . . .Confused se opmerking het my laat dink. Dankie vir jou blog Ds!! (Ons gemeente het beslis ‘n baie brawe leraar ryker geword :-)!!!)
Ek wil graag net onder die aandag bring dat ‘n mens of ‘n organisasie nie kan besluit of saamwoon sonde is of nie.Punt bly staan………God se woord se dat dit is,en as Hy se dit is so,dan is dit nie oop vir ‘n debat nie.Die oomblik dat jy God se Woord vat en wil ontleed soos ‘n pizza,dan soek mens mos ‘n rede om ‘n verskoning te maak om “weg te kom” met sonde,en om jou vleeslike begeertes te kan beoefen,en goed te voel daaaroor.God moet gevrees word)nie ‘n vrees van bang wees nie,maar respek)Ek moet myself onderwerp aan God.As ek dan my eie lewe wil lei,en nie God se wil nie,kan ek nie myself onder God onderwerp nie.Liefde vir God is om Sy gebooie te onderhou en Hom te respekteer.Moenie vir my se jy is lief vir God,en dan gaan jy nog voort met sonde nie,premediteerde sonde(jy weet dit is verkeerd en elke keer as jy dit doen voel jy sleg,uitgeboul,maar omdat dit die vlees plesier,loop ek die vlees na.God se juis dat die vlees en sy begeertes gekryisig moet word.Ons moet heilig wees.As iets verkeerd is,is dit verkeerd en sondig ek.Noem sonde op sy naam:saamwonery,sonder om in die eg te bevestig voor God.God noem dit hoerery.As jy lust agter ‘n ander vrou aan of ‘n man,is dit wellus en as lust agter dit aan,is dit asof jy dit klaar gedoen het.Jesus se woorde….Soos Jesus na die vlees gely het vir ons,moet ons onsself bewapen met dieselfde gedagte,dat ons ook na die vlees moet ly.Hoe ly jy.Jy gee nie toe aan die satan nie,jy bestraf hom.So ly jy en oorkom jy in Christus.Sinode van die NGK,God is God en ons is mens.God se vir ons,ons se nie vir God nie.Bring God terug in die kerk en uit met ons reelsmet ‘n kinkel.Submit voor God.Hy is dieselfde,gister,vandag en vir altyd.Mense verander,maar God verander nooit nie.Hy is nog steeds die God van die ou testament.Sonde sal nie die konikryk van God beerwe nie.(Vlees en bloed)Bring God terug en onderhou Sy gebooie.Ek is nie perfek nie,maar ek ken die waarheid.
Kan iemand asseblief vir my die bybelteks gee waar ons die huwelik soos dit vandag daar uitsien vind as instelling van God? Dit bestaan nie.
Die debat oor “saambly” het ‘n dringende saak geword. Eerstens, daar is baie gelowige kinders wat saambly voor hulle later in die huwelik tree, of die verhouding verbreek. Ons kan tog nie doof wees as ouers (gelowiges) vir die kerk vra hoe moet hulle hul kinders hanteer wat saambly nie. Tweedens, baie predikante is besig om die probleem dood te swyg. Ek wil nog hoor van ‘n predikant wat nie met ‘n paartjie gekonfronteer is, wat saamgebly het, en toe later wou hê dat hy/sy hulle moes trou nie. Ek wil beweer dat “saambly” swygend deur die kerk gekondoneer word. Dit wil sê, dit is nie die amptelike siening van die kerk nie, maar in die praktyk word dit aanvaar of “deurgelaat”. Derdens, die kerk het ‘n verantwoordelikheid in die tydsgewrig waarin ons leef (met Vigs, vervlakking van verhoudings, disrespek vir mense se lewens en uitbuiting van selsualitiet) om leiding te geen. Maar hiedie leiding moet met integriteit wees. Hiermee bedoel ek, dat bybeltekse nie buite konteks aangehaal moet word, of “gewurg” moet word om te sê wat ons graag will hê dit moet sê.
Ons moet versigtig wees om die monogame huwelik in die OT af te lei: (1) die OT ken poligamie (waar ‘n man meer as een vrou kon hê: vroue, hou vroue (slawe) en ander verhoudinge met nie-getroude vroue. Poligamie word in afgewys nie. (2) vrye liefde en seksuele avonture was nie die alternatief nie – sosiale en samelewingsvoorskrifte het bestaan (lees Deut.).Vrye seksuele verkeer van ‘n getroude of ongetroude man met ‘n ongetroude vrou was nie problematies nie. ‘n Meisie mag egter nie verkrag word nie.(3) Daar moet versigtig met Genesis 1+2 omgegaan word, om hierdie skeppingsverhale te gebruik om die huwelik as instelling van God te probeer verklaar “dwing” die teks om te praat wat dit nie wil sê.(4) die huwelik was ‘n samelewingaangeleentheid waarby die familie die huwelik gereël het. Die priester of religieuse betrokkenheid het maar eers in die onlangse verlede begin. (VIR EERS GENOEG). Die gedagte om die huwelik ‘n sakrale karakter te gee, vind ons eers by die Vroë Christene, en wat later uitloop op die huwelik as sakrament in die Roomse Katolieke Kerk. ‘n Positiewe kyk na die saak sal ons, volgens my, ons moet uitbring by: deeglike besinning oor verantwoordlike hantering tov seksualiteit; die wese van verhoudings en die huwelik binne die hedendaagse konteks; en die moontlikheid van ‘n kerklike inseëning van ‘n huwelik waar hulle nie die huidige wetlike prosesse wil volg nie. Ons moet positief kyk na die saak!
Blikoor: Ek stem grotendeels met jou saam. Die gesprek moet dringend gevoer word. Die vraag is egter die vertekpunt van die gesprek.Pastoraal of eties/moreel.
Ek het ‘n wesenlike probleem daarmee dat die omsendskrywe van die Algemene Sinode se kantoor die gesprek veroordeel het en ‘n dubbelsinnige verduideliking gee wat aan die eenkant sê niks het nog verander nie alhoewel dinge heel waarskynlik gaan verander.
Ek dink byvoorbeeld die bevestiging van ‘n huwelik in die kerk en die verhouding wat ons as huweliksbevestigers met die staat het, moet so gou as moontlik beëindig word.
Ek kan met groot vrymoedigheid sê dat ek al talle saamwoners in my bediening raakgeloop het, maar vanuit my oortuiging dat ‘n gedwonge huwelik (as gevolg van swangerskap of as gevolg van skuldgevoelens)meestal nie die toets van die tyd deurstaan nie, het ek wel met hulle in gesprek getree oor die saak maar altyd hulle besluit respekteer en hulle deel van die gemeentewees onvoorwaardelik aanvaar. Daar was selfs in ons vriendekring so ‘n paartjie gewees.
Ek dink ook die gesprek oor die saak is broodnodig, maar ek het ‘n probleem met die bepaling van reg en verkeerd. Hoeveel kere in die verlede het die kerk nie al reg of verkeerd besluite geneem en moes dan later op grond van nuwe insigte sê dat ons verkeerd was nie. Ek het geen probleem daarmee dat die kerk soms moet erken dat sy verkeerd was nie, maar ons moet darem ook nou nie smartvrate wees nie.
Die aanpak is dus vir my nie reg nie. Sou ons nie baie verder gekom het as ons gesê het dat ons met mekaar in gesprek gaan tree oor die pastorale begeleiding van mense voor en na die “huwelik” nie. Pastorale begeleiding kan tog nooit beteken dat ons mense op grond van ‘n skuldgevoel moet dwing om voortydig in die huwelik te tree nie. Dit sou nie pastorale begeleiding wees nie, maar ‘n wettiese benadering. Pastorale begeleiding sou wel kon beteken dat ons saamwoonpaartjies ontmoet waar hulle in hulle verhouding is en van daar af voortgaan. Deel van pastorale begeleiding sou dan wees om die paartjie sover te kry om ‘n lewenslange verbintenis met mekaar aan te gaan. Indien dit los van die staat funksioneer sou dit nie nodig wees om van inseën te praat nie, maar dan wel van ‘n huweliksbevestiging of enige ander term wat deur die kerk gebruik word waarmee paartjies in ‘n lewenslange verbintenis met mekaar verbind word nie.
NOU WAAG EK GROOT: Sou dit dan nie die deur oopmaak vir homoseksuele paartjies se verbintenis aan mekaar deur die leraar wat die waagmoed het nie.
My punt reg van die begin af is: Hierdie is ‘n pastorale aangeleentheid en nie ‘n eties morele aangeleentheid nie.
Gerhard Nel: Die rondgooi van tekste om mekaar reg of vekeerd te bewys gaan nie die saak dien nie. Ons moet altyd weer worstel om die Skrif in sy onstaanskonteks te verstaan en dan in ons eie bestaanskonteks leef. Dit is waaroor hierdie gesprek gaan en nie om mekaar deur middel van tekste reg of verkeerd te bewys nie.
Attie: Ek is nie so seker dat die pastorale en die etiese/morele so geskei moet word nie. Is dit nie ‘n manier om van die eties / morele weg te skram, omdat dit die moeilike een is vir die kerk om te hanteer nie? Dit is twee aspekte wat onderskeibaar, maar nie skeibaar is nie – kante van dieselfde muntstuk, afhangende wanneer gebruik jy watter een. Daar is tog wisselwerking en beinvloeding van die twee aspekte op mekaar! Kom jou pastorale begeleiding daarop neer dat mense aan die einde van die dag in die huwelik moet tree, of ‘n lewenslange verbintenis moet maak? Die groot teenkanting teen saambly gaan oor die seks wat beoefen word buite die huweliksverband. Voorsien jy dat die pastorale begeleiding insluit dat paartjies moet wag om seksueel te verkeer, totdat die verbintenis of “commitment” gemaak is, of is daar ruimte om die seksuele te sien as deel van die liefde wat die paartjie vir mekaar openbaar?
Die kerk het homself in ‘n hoek vasgeverf met sy hantering van etiese kwessies, so asof die bybel oor alle kontemporêre etiese kwessies uitsprake het. Vandaar die “erkenninge” dat hulle verkeerd was. Om geloofwaardigheid te behou, wil dit voorkom asof die kerk nou eerder uitsprake wil voorbehou, of so lank neem om uitsprake te maak, dat wanneer die uitsprake gemaak word die “issue” reeds verby is en die wêreld aanbeweeg het. Is dit nie die rede vir die gesloer oor homoseksualiteit nie? Nou word die klem ewe verskuif na pastorale begeleiding as die belangrike ten koste van die eties / morele wat die vraag is!
Begin om ‘n insig te kweek, dat etiese begeleiding en riglyne binne konteks en sosiale veranderinge plaasvind. Bring integriteit na die proses en die hele hantering.
Ek stem saam dat ons van die pad af is, as ons in die debat oor “saambly” wil vasstel, is dit “reg”, of is dit “verkeerd”. Waar in die bybel gaan die antwoorde gekry word, gegewe die diversiteit van saambly verhoudings? Dit is juis die probleem wat ek met Sinodes het, hulle dink hulle moet vir lidmate sê wat “reg” en wat “verkeerd” is, in plaas daarvan om lidmate te help om binne die geheel van die bybel rigting te soek.
Mense moet gehelp word om hulself te oriënteer in hulle leefwêreld tov hulle seksualiteit. ‘n Christelike seksuele etiek is broodnodig om ons kinderlidmate en ouers te help met vandag se kwessies, soos byvoorbeeld die aanknoping van verhoudings in die tyd van HIV; seksualiteit binne die huwelik; aanvaarbare ekstra-seksuele verhouding binne kultuurverband; ens. Om saambly in issolasie te hanteer gaan die Christelike lewenstyl nie veel help nie.
Blikoor:
Ek het dit vroeër in een van mys skrywes ook gesê dat die Algemene Sinode vanweë die senstiwiteit van die saak waarskynlik weer nie ‘n besluit gaan neem nie, net soos met homoseksualiteit.Die “nie-besluit” het die geloofwaardigheid van die kerk benadeel en die lidmate onbevredig gelaat.
Ek stem saam dat ‘n Christelik seksuele etiek nodig is om ons kinderlidmate en ouers te hlp met vandag se kwessies. Ek wonder of ons van dieselfde saak praat as ons praat van saamwoon en ‘n seksuele verhouding buite die huwelik. As saamwoon nie gepaard gaan met ‘n seksuele verhouding nie, gaan ons dan anders oor die saak dink? Gaan die eties/morele vraagstuk oor saamwoon ook oor ‘n seksuele verhouding in ‘n saamwoon-verhouding, of het ons met twee verskillende sake te make?
Ek wil ook met jou saamstem dat ons gelowiges moet leer om die Bybel binne sy ontstaanskonteks te lees en met geloofwaardigheid binne ons konteks toe te pas.