is verandering ‘n modewoord

Die woord “verandering” word sonder ophou gehoor. In die alledaagse lewe aanvaar almal dat verandering nie een net een of ander tyd gaan kom nie, maar aanhoudend besig is om te gebeur. Ons leef in ‘n kultuur van verandering, indien besighede organisasies nie vir hierdie betrokke kultuur kans sien nie, het hulle geen impak op hulle kliënte of lede nie.

As alles rondom ons verander en die onophoudelike verandering dan maak dat ons in ‘n sekere mate onseker lewe, is dit regtig nodig dat die kerk deur die kultuur  van verandering opgeneem word?

Kan die kerk dan nie maar die een plek wees waar mense veilig kan voel en dinge so ‘n klein bietjie stadiger kan verander sodat ons mense eers daaraan gewoond kan raak nie?

Het die woord “verandering” nie dalk in die kerk ‘n woord geword wat gebruik word om dinge aanhoudend op ‘n ander manier te doen en nuwe gebruike en werskwyses in te bring ten koste van die oue nie?

Vir my lê die antwoord in dit wat oor die laaste jare (Ek dink 30 jaar) gebeur het wat die omstandighede waarin ons vandag lewe anders maak as wat dit vroeër was.

Ek was in die 70ger jare in Swartruggens, in die destydse Wes Transvaal, op skool. Op daardie stadium was daar hoogstens 3 persone in die gemeenskap wat ‘n naskoolse kwalifikasie gehad het: Die onderwyser, die dokter en die dominee.

Intussen het dinge verander. In elke gemeente sit daar mense met kwalifikasies wat die van die dominee of die leraar by verre oortref. In die 70ger jare was jy op die sosiale toneel as jy kon sê dat jy vriende is met die dominee en so nou en dan saam met hom kuier. Intussen is die dominee nie meer die belangrikste sosiale figuur in enige gemeenskap nie. (Soms is mense selfs skaam om te sê hulle kuier by die dominee)  🙂

Demokrasie het oor die laaste 30 jaar ‘n reuse sprong in ons land gegee. Dit was eers in die laat 70’s en vroeë 80’s wat ons met waarhede en feite gekonfronteer is wat ons skielik gedwing het om vir onsself te begin dink. Daardie gebeure het mense natuurlik skepties gemaak teenoor die gesagsfigure van die vorige bedeling, wat die plaaslike dominee ingesluit het. Veral toe dominees se rol in die Broederbond al hoe meer bekend word. Die gevolg van die koms van demokrasie in Suid Afrika het gemaak dat mense nou vir hulleself begin dink en bereid is om waarhede – enige waarhede – te bevraagteken en mense tot verantwoording te roep met betrekking tot sodanige waarhede indien nodig. ‘n Mens sou sewlfs kon sê dat daar wantroue teenoor die kerk by name ontstaan het. Kyk maar net hoe skerp het die debate oor die kerk en oor Christene in die laaste tien in die pers en die media geraak. Iets wat selfs tien jaar terug redelik ongewoon was.

Vryheid van assosiasie het ook ‘n reuse verandering veroorsaak. Dominees kan nie meer staat maak op mense wat deel van hulle kerk gaan wees omdat dit die regte ding is om te doen of omdat al die ander mense dit doen nie of omdat hulle hulle nog altyd deel van die kerk was nie. Mense is nie net al hoe meer bereid om te kies of hulle kerk toe gaan nie, maar ook na watter kerk toe hulle gaan. Lojaliteit het ‘n skaars artikel geword.

Sekularisasie is die uiteinde. As gevolg van al hierdie gebeure is godsdiens en kerk uit die middelpunt van mense se bestaan weggedruk tot ‘n baie klein deeltjie van mense se persoonlike en privaat lewens. Die indruk wat mense al hoe meer kry is dat die kerk nie meer die vermoë of die wil of die integriteit het om inspraak te hê in dit wat buite die een uur op ‘n Sondag gebeur nie.

So lyk die nuwe landskap waarbinne ons kerk van die Here Jesus moet wees. Ons kan hierdie nuwe landskap waarbinne ons kerk moet wees ignoreer en aanvaar dat ons nie hoef te verander nie, en dat ons kan voortgaan om dinge te doen en kerk te wees soos ons dit nog al die tyd gedoen het, of ons kan sê: Die kerk het ‘n godgegewe roeping om in hierdie tyd op hierdie plek God se werktuig tot versoening en herstel te wees. Die kerk moet met al twee haar voete in hierdie wêreld en in hierdie lewe staan om ‘n stad op die berg en ‘n lig vir die nasies te wees.

Die Here Jesus het nooit bedoel dat die kerk ‘n fort sal wees waarbinne ons wegkruip nie, maar eerder ‘n nooddiens wat gewonde en seer mense op die sypaadjies van die lewe gaan haal, hulle daar die basiese versorging gee en dan inbring na die hospitaal toe en heeltemal te herstel.

Dit help nie eers meer ons sê: “Ons het vyf jaar terug hierdie en hierdie ding nuut en anders begin doen, met ander woorde ons doen dit ten minste nie meer soos 10 of 20 jaar gelede nie.” Ons moet altyd weer op soek wees na dit wat God in hierdie tyd van ons verwag.

Die kerk is die liggaam van Christus en die liggaam van Christus sal altyd bly voortbestaan en die magte van die hel sal dit nooit kan oorweldig nie, maar God is aan geen denominasie of kerverband of gemeente enige iets verskuldig nie.

God is met hierdie wêreld oppad, Hy het net in sy groot genade gekies om die kerk daarby te betrek. Hy wag nie vir ons nie. Dit is ons verantwoordelikheid om by te bly.

Dit is waaroor verandering gaan: Om teen die pas waarmee God beweeg agter Hom aan te beweeg.

Advertisements

3 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

3 responses to “is verandering ‘n modewoord

  1. Goeie inskrywing, Attie! En so op die tema van verandering: Ek sal graag wil verneem wat jou opinie is oor die saamwoon-debat wat nou na vore getree het binne die kerk. As jy nie hier wil antwoord nie, stuur ‘n e-pos, as jy ‘n kansie het!

  2. BiB: Dit is ‘n warm debat wat met baie emosie gepaard gaan. Ek plaas more iets daaroor om gesprek uit te lok. Ek het ‘n standpunt, maar ek gaan eers die standpunt so ‘n bietjie terughou.

  3. Wes

    Attie, Daar is geen manier dat alles in en om ons verander, maar ons wil steeds “kerk wees” soos 100 jaar gelede nie. God het / is en sal altyd dieselfde gebly, maar Hy verwag / beveel dat ons moet groei in “kerk wees” en dit is juis hier waar die konflik vandaan kom – die hoe en hoe vinnig moet verandering in kerk wees plaasvind.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s