kerkmusiek

Vandag gaan dit oor musiek in die kerk en in die erediens.

Ek het in 1987 my bediening in die NG Kerk begin en toe was daar reeds ‘n reuse stryd oor musiek.

Net die orrel of ander instrumente ook?

Net die Psalm en Gesangeboek of die Rooiboekie en die Groenboekie en Sing Onder Mekaar ook? Op daardie stadium was daar nog nie elektroniese borde nie, so mense moes vier boekies saamdra as hulle in die erediens wil sing.

Nou is dit 20 jaar later en genadiglik is die stryd met betrekking tot verskillende liedere en verskillende instrumente en verskillende style in ‘n groot mate reeds verby en uitgesorteer en orreliste en “bands” en tradisioneel en kontemporêr het mekaar gevind en leef hulle met groot gemak en respek vir mekaar saam tot eer van die Here.

Maar dan is daar ook die enkele gemeentes waar hierdie stryd (oorlog???) nog in al sy vernietigende intensiteit voortgaan. 

Ek dink aan die een kant dit gaan oor “comfort-zones”. Die betrokke musiek of styl is iets wat buite my verwysingsraamwerk val, waaraan ek nie gewoond is nie, waarvan ek nie hou nie of waarvoor ek nie opgelei is nie. Die kwessie oor opleiding sny na twee kante toe. Orreliste is gewoonlik baie goed opgelei, maar nie vir kontemporêre (Eietydse) musiek nie. Die mense wat in “bands” speel het meestal geen of bitter min opleiding, alhoewel daar ook briljante opgeleide musikante is wat deel vorm van die “bands” wat kontemporêre musiek maak.Elkeen voel binne sy eie styl op sy gemak en toegerus en wil nie graag hê die boodjie moet geskud word nie.

Elkeen van hierdie twee voorkeure is ‘n spesifieke kultuur. Met ander woorde, ons sou kon praat van ‘n klasieke musiekkultuur of ‘n kontemporêre musiekkultuur. Ons kan nou besluit om kerke te stig wat voorsiening maak vir elkeen van hierdie subkulture, ons kan selfs twee verskillende eredienste hieroor hou en so verseker die vrede bewaar word, of ons kan leer om in liefde nie net met mekaar saam te leef, maar ook in alle opregtheid mekaar se voorkeure te respekteer en te waardeer.

Die eerste opsie is nie die weg van die Woord of die liefde of vrede nie, maar skep doelbewuste terreine vir konflik wat nie in die kerk tuishoort nie.Ek dink nie enige een van die voorkeure behoort bes te gee ter wille van die ander nie, maar ek is wel daarvan oortuig dat hierdie groepe sonder ophou moet aanhou om die weg van vrede en versoening en die eer van God na te jaag.

Want, hierdie optrede maak die kerk belaglik in die oë van die wêreld – die mense wat ons juis deur ons onderlinge liefde daarop wil wys dat ons dissipels van die Here Jesus is. Maar, daarmee saam beteken dit ook dat gelowiges hulle rug draai op die kerk draai.

Op die ou end kan so ‘n groep of gemeente die geveg wen, maar die oorlog verloor.

Kan ons dit bekostig of toelaat?

21 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

21 responses to “kerkmusiek

  1. Ina Smith

    My ‘objektiewe’ waarneming is dat dit in so ‘n geval gaan oor die ‘eie ek’. Instrumentaliste wat vanselfsprekend kunstenaars in eie reg is en hard daarvoor gestudeer het, maar dikwels vergeet dat dit maar net gewone mense is wat lekker wil saamsing tot eer van die Here. Ek wil nie veroordeel nie, maar is ons fokus nie heeltemal verkeerd nie?

  2. Attie, wat het gebeur? Van watter gemeentes praat jy nou?

  3. Ina: Ek wonder ook maar waar lê die fokus op die ou end en waar behoort die fokus te wees?
    Bertus: Ongelukkig praat ek van my eie gemeente, maar my kontak met ander gemeentes oor hierdie aangeleentheid wys dat daar tog not heelwat gemeentes is wat hieroor veg. EK sal graag wil hoor hoe jy hieroor dink.

  4. Dirk Fourie

    Hi Attie. Ek wil in ‘n mate met Ina saamstem dat die “eie ek” ‘n rol speel. Ek dink wat ons partykeer vergeet is die belangrikheid en die behoeftes van gewone gemeentelede om deel te voel en te wees van die erediens, iets wat deur musiek moontlik gemaak kan word. Ek dink as ons die gewone gemeentelede vra sal hulle sê dat ‘n erediens waarin daar lekker gesing en geloof word sommer heelwat anders ervaar word. Musiek skep ‘n wonderlike atmosfeer vir ‘n erediens. Ek dink die fokus is partykeer verkeerd en dat ons nie die geleentheid gebruik om deur musiek die Here te loof en te prys nie, iets wat spontaan behoort te wees (waarvan die hart van vol is loop die mond van oor). Dit is so dat ons as individue ons eie voor- en afkeure het, maar volwassenheid word eers bereik as jy ander kan akkommodeer en in ag neem, hiermee sê ek nie dat ‘n mens jou waardes en beginsels moet oorboord gooi nie, maar dat ‘n gesonde balans gehandhaaf moet word. Ek is bekommerd dat ons ‘n voorbeeld vir ons kinders stel van ongenaakbaarheid en rigiditeit. As dit so moeilik is om mekaar te vind en te akkommodeer oor ‘n eenvoudige aspek soos kerkmusiek hoe gaan ons die ware “issues” aanpak. Ek stem saam met jou dat die verskillende musiekstyle elkeen sy plek het en dat ons mekaar moet akkommodeer ten einde die lof en eer te bring aan Wie dit toekom.

  5. Dirk: Ek stem saam met jou. Ek is so bly jy sê: “Ek is bekommerd dat ons ‘n voorbeeld vir ons kinders stel van ongenaakbaarheid en rigiditeit.” Ek wonder soms of ons nie meer jongmense met die “geveg” as sodanig verloor nie, as wat ons met die musiekstyl nie? Maar net iets waaroor ek wonder.

  6. steve

    Die vraag is natuurlik, wie veroorsaak die konflik ? en vir watter rede ? Gaan dit oor die eie ek wat belangrik is ? Gaan dit oor “mense” se reputasie wat op die spel is ? of gaan dit oor die eer wat die Here toekom ?

    In die proses kry mense seer en ek wonder of ALMAL wat betrokke is in die konflik groot genoeg is om verskoning te vra aan die wat wel seergekry het. Dit lyk egter vir my of daar “mense” is wat nie raaksien dat ander ook kan seerkry nie. Net hulle eie ego’s is belangrik…..of die indruk word ten minste geskep dat dit die geval is.

    Dit is regtig vir my hartseer dat kinders van die Here oor musiek, wat bedoel is om die naam van die Here groot te maak kan haaks raak.

    Ek dink die probleem is, dat verandering altyd spanning veroorsaak, maak nie saak waar nie. Predikante moet ook leer om verandering te “bestuur” eerder as om dit te forseer. Hulle moet ook groot genoeg wees om verskoning te vra wanneer hulle veroorsaak dat mense of groepe seerkry.

  7. Attie, my gevoel is dat ons dikwels klassieke liturgie onderskat. Liturgie gaan nie oor my gevoelens of my buie of hoe ek die dag teenoor God voel ensovoorts nie. Dit gaan daaroor om jou eie ego uit te laat en deel te word van ‘n proses waaraan baie ander mense deel is en waardeur julle saam na God of dit wat heilig is beweeg, iets wat groter as jou beheer of jou buie is. “Band” musiek daarenteen voel vir my so half soos iets wat die deelnemers se ego voorop plaas – te eksibisionisties vir my smaak. Selfs wanneer bands oor verootmoediging sing, is dit gewoonlik maar ‘n ego-ding van wie kan die meeste trane huil en die note die langste uitrek.

    Ek is mos ‘n groot orrel en gesangboek ou. Ek sing op my lekkerste by die Doppers (hoewel dit is by van daai anderste doppers wat skelm gesange sing). Maar in my geval is dit ‘n smaakding. “Band” musiek klink net nie mooi nie.

    Die “bands” klink altyd vir my so half lomp – as mens wil rock n roll wil jy rock n roll, maar kerkbands val meestal so half tussen die stoele van kerkmusiek en rock n roll deur.

    Nie dat ek elke Sondag in die kerk sit nie. Maar daar was altyd ‘n NG Kerk naby my en op Sondagoggende was dit vir my soortvan heilig om te luiter hoe die orrelklanke en bekende wysies van daar af oorgedryf kom. Dan het alles sommer reg gevoel. Maar toe gaan staan daai kerk mos en kry ook ‘n band. Toe word ek elke Sondagoggend wakker van iets wat na ‘n Elvis Presley-konsert klink. Nie meer mooi nie.

  8. Steve: Ek stem in ‘n groot mate saam met jou. Die spanning bestaan en ontstaan omdat ons al te maklik dink die ander een is verkeerd. Verandering moet bestuur word, maar maar op ‘n stadium moet verandering ook maar bietjie vinniger in ‘n bepaalde rigting bestuur word. Vir my is altwee style belangrik, maar die beginsel gaan oor akkomodering. Ek het respek vir mense wat bereid is om verskoning te vra en dan vorentoe te beweeg.

    Bertus: Elkeen van ons het sy voorkeure en ek weet goed jy is ‘n voorstande van die orrel en die Pslams en Gesange (Ek dink net lesers kan jou dalk in ‘n bepaalde ouderdomsgroep plaas ag.v.daarvan). Vir my maak dit nie saak watter styl aangebied word nie, ek het ook my voorkeure, dit gaan vir my oor die kwaliteit van die aanbieding.

    Maar soms kan die aanbieding van die beste kwaliteit wees, maar as die gesindheid ‘n probleem is…

  9. Hardus Prinsloo

    Ek stem saam dat daar plek vir beide in die kerk is. Vir my gaan dit oor die lof wat ons aan God moet bring. Dit maak nie saak hoe nie, dit moet net met oorgawe gedoen word. My gevoel is dat ons soms vergeet dat die erediens ‘n fees is, ongelukkig kom dit nie altyd na vore nie. As ander instrumente nuwe lewe in ons sang bring hoekom nie? Dit gaan tog oor die gesindheid, nie waarmee ons musiek maak nie.

  10. lidmaat

    Attie: Ek is een van jou lidmate, maar is nie baie betrokke by die gemeente nie juis a.g.v. hierdie spanning. Hierdie “geveg” kom al baie jare in hierdie gemeente. Die twee eredienste in die oggend is onder andere die resultaat van die “geveg” en omdat volwasse mense nie in liefde by mekaar kon of kan uitkom nie. EK staan op hierdie stadium op die kantlyn en kyk wat gebeur.EK sal op die kantlyn bly staan totdat mense as Christene en as volwasse mense oor hierdie saak met mekaar praat en mekaar in liefde hanteer.

  11. Is hierdie ‘n klassieke geval van ‘n stryd tussen verskillende generasies nie. Ouer mense verkies meestal die tradisionele musiek en jonger mense (behalwe Bertus 🙂 verkies die geraas?

  12. BiB: Nee,dit is nie ‘sn stryd tussen generasies nie. Daar is verskillende geslagte by beide groepe. Ek verstaan die term “geraas”, en dat nie noodwending bedoel word wat almal daaronder verstaan nie, maar dit is ‘n veralgemening m.b.t. tot kontemporêre musiek.

  13. lidmaat

    boerinballingskap: As ‘n reël is dit ‘n stryd tussen geslagte. Hier is dit ‘bn stryd tussen style en individue. Die groot meerderheid van die lidmate gee nie om vir watter styl dit is nie, hulle gee wel om vir die rol wat musiek in ‘n erediens speel en die gesindheid van die wat die musiek aanbied.

  14. LERIKA

    ATTIE
    Ek is nou weer terug in Waverley na 3 jaar en is aangenaam verras met die nuwe aanslag wat jy en Renate so saam saam in ons gemeente ingebring het. Ek dink ons almal moet saam sing en ophou kla oor wie nagekom is. Kom ons loof die Here en prys Sy Naam! Ons mors kosbare aanbiddingstyd met onnodige konflik. Hier is soveel mense in ons gemeente wat uitsien na die nuwe musiekbediening wat jy in gedagte het vir Waverley en saam doen mens dit mos altyd beter. Ek bid daagliks vir julle en glo Waverley gaan van krag tot krag gaan, want die Here is ons beskermheer en Meester.
    Groetnis!

  15. Zohn

    Here hoor my wanneer ek bely dat ek swak is, en wees my genadig. Here leer my om U onvoorwaardelik te aanbid, en afstand te doen van my sogenaamde “unieke karakter” wat ek voortdurend voorhou om ander mee uit te sluit, en waarna ek tog so hunker en aan kleef. Here leer my om ander in ag te neem, te verdra en onvoorwaardelik lief te hê soos U vir my is. Here dankie vir U liefde. Leer my om vars en nuut te kyk na dit wat ek doen, en my swakheid daarin raak te sien. Here leer my U wil, U wil met my, U pottebakker, met my die klei, in Jesus se Naam.
    Attie, baie sterkte en seën toegebid vir dit waarmee julle besig is!

  16. Johan vd Westhuizen

    Ek lees die opmekings hierbo en besef net weereens dat ons elkeen maar steeds sondige wesens is wat maar altyd op onsself gefokus is. Lofprysing tydens eredienste moet in die eerste plek nie oor ons voorkeure gaan nie, maar oor die “beste manier” waarop ons die Here kan dien, loof en eer. As ons sing en musiek maak, moet dit sekerlik van hoogstaande gehalte wees omdat ons dit vir die Here doen. Deur die jare het die manier van lof prysing ook verander soos wat baie dinge in die kerk verander het en verandering is nie altyd sleg nie. Ons lewe tog in ‘n voordurende veranderende wêreld en as ons nie aanpas nie het ons moeilikheid, soos oom PW per geleentheid gesê het: “Adapt or die”. Cunninghamlaan se twee dienste het ontstaan om begeertes van mense met verskillende musiekevoorkeure te kan akkommodeer. Dit klink alles mooi en goed, maar het ons nie maar weer “twee groepe” in die gemeente geskep nie? – die “formele groep en die minder formele groep”? Duidelik gaan dit nie oor God nie, maar oor wat mense wil hê. ‘n Erediens kan nooit informeel wees nie omdat God heilig is en as ek God dien, loof en aqanbid, kan dit net formeel,met eerbied en onderdanigheid wees. Mense is formeel en informeel en nie eredienste nie. Musiek bepaal nie of ‘n erediens formeel of informeel is nie. Die tromme en snaarinstrumente wat gebruik word tydens miletere begrafnisse en ander plegtighede is alles behalwe “informeel”. As ek mag droom oor my kerk, droom ek van twee eenderse eredienste by Cunninghamlaan, nie om eie begeertes te bevredig nie, nie formeel en informeel nie, maar omdat die kerk te klein is vir slegs een diens. Ek droom van twee dienste waar daar voorsiening gemaak word vir alle voorkeure – die formele orrel; die mindere formele klavier; die sang van ‘n musiekgroep; die klanke van ‘n kitaar en klawerbord; die geluid van ‘n fluit instrumente, ens.
    Ds. Attie het ‘n gawe van God ontvang (al hy loop nie rond met ‘n B.Mus graad nie)en die gawe is om ‘n erediens te hou tot eer van God en dit omvat die totale erediens – lofprysing, prediking, aanbidding, sang, musiek. Kom ons gee hom die geleentheid om ook in NG Gemeente Waverley sy talente te kom uit leef. Kom ons vergeet ‘n oomblik van ons eie voorkeure en kyk na die groter prentjie. Ons sing en maak tog nie musiek vir onsself nie, maar vir God en kom ons sorg dat ons musiek tot eer van Hom is, al beteken dit dat ek soms maar saam met die orrel moet sing, of soms saam met ‘n musiekgroep, of saam met ‘n klavier of kitaar. Kom ons sorg egter dat alles tot eer van die Here is, al moet ek soms toegee.
    Attie, jy is geroep om ‘n verskil te kom maak in ‘n kerk wat oor 8 jaar “swaar gekry” het as gevolg van baie faktore. My gebed is dat ons Here nie sal toelaat dat die sondige natuur van die mens die oorsaak van verdeeltheid in die gemeente sal wees nie, maar dat jy die geleenthied gegun sal word om ons in Wavwerly ook te laat groei in ons eredienste – wat natuurlik insluit die musiekbediening. Ons het deur die jare gestgneer met ons musiekbediening en ons moet groei. Sterkte met die reuse en soms ondankbare taak wat jou opgelê is en wat jy gekies het om te doen.

  17. Attie, natuurlik het ek dit tong-in-die-kies bedoel. 😉

  18. @ die stroom

    Ek is nie ‘n musiekkenner nie, maar die wysielose musiek wat onder die vaandel van “volwassenheid” in die Kerke aangetref word, bedroef die Heilige Gees in my. My bejaarde ouderdom het na my siening niks daarmee te doen nie. Ek meen ons Skepper sou nie vir ons die mooiste blomme en wonderlikste musiek in die natuur gegee het, as dit Sy bedoeling was om ons kakiebosse en distels in ruil daarvoor te kry nie. In die meeste Kerke vandag word slegs die jazzmusiek ruimte gegee. Blykbaar as jy nie kan aanpas en saam met die stroom gaan nie, is jou eie-ek te groot. Ek staan vir die groot maestros wat hulle beste talent gewy het aan ons Hemelse Vader.

  19. Pieter

    die stroom: Natuurlik het ouderdom niks te make met musiekvoorkeure nie. Die kermusiek-geveg word vernietigend en vervreem generasies wanneer die een groep na die ander groep se voorkeur verwys as “distels” en “kakiebos”. Sal ons nie maar die weg van vrede en versoening en nie kategorisering in terme van voorkeure nie stap nie?

  20. Gert

    Nou @stroomop..
    Is jy seker die Heilige Gees in jou is bedroef of is dit dalk jou eie gees wat bedroef is? Met ander woorde: Is jy so 100% seker dat die Heilige Gees dieselfde musiek as jy verkies dat Hy sal huil as jy oor musiek huil?
    Dink jy regtig die Skepper het net vir mense wat jou voorkeur-styl se musiek skryf die gawe gegee om vir Hom musiek te skryf en nie vir ‘n iemand wat kitaarspeel en ander musiek skryf nie?
    Is jy bewus daarvan dat die musiek wat nou vir jou so “hemels” is op ‘n stadium ook maar onaanvaarbaar en revolusionêr was?
    Ek stel voor jy gaan leen iewers ‘n “jazz” CD en luister daarna. Dan luister jy weer na die musiek in die kerk wat jou so bedroef. Is dit “jazz”? Ek dink jy het dit verkeerd. Tensy jy met “jazz” iets anders bedoel.
    Die Heilige is nie bedroef oor watter musiek in ‘n erediens gespeel word nie. Die Heilige Gees is bedroef oor die manier waarop mense iets soos musiek gebruik om skeuring te veroorsaak.

  21. Theo

    Ek is eerstens ‘n Christen, tweedens aanbid ek in ‘n gereformeerde kerk en derdens is ek nie ‘n B.Mus of ander musiek geletterde nie. Ek lewer dus kommentaar as ‘n persoon wat die twyfelagtige voorreg gehad het om ‘n kerssangdiens in die NG Kerk in Jeffreysbaai te kon bywoon. Wat ‘n ontnugtering / skok / onstuimige belewenis!!!!!
    Probeer om Stillenag te sing saam met ‘n kakafoniese oorverdowende begeleiding van kitare, klawerbord en tromme waar die tromslaner die tromme bykom asof dit sy laaste geleentheid op aarde is om so lawaai te kan maak…….. en dit direk nadat die kerkkoor (met orrelbegeleiding) gesing het.
    Dit is met groot teleurstelling, onrustigheid / ongemaklikheid waarmee ek na die diens huistoe is….
    Die kakafoniese jazz-agtige lawaai wat deur die orkes gemaak is het die
    heiligheid, die atmosfeer van gewydheid en spirituele belewenis erg ontsier en afgebreek.
    Ritmiese musikale begeleiding en aantoon van tydmate/tempo vir
    gemeentesang is beslis nie gelykstaande aan die ongelyke lawaai wat as musiek begeleiding en musikale improvisering voorgehou word nie.
    Goeie musikale begeleiding hoef nie ingeboet te word terwille van sogenaamde “cool” musiek nie. Goeie instrumentele orkestrasie vir gemeentesang word nie uitgesluit nie maar liedere word egter geskryf om ‘n bepaalde belewenis / boodskap te bring en daarom kan die melodie, tempo en lirieke nie los van mekaar gemaak word nie. Dit is ‘n verkragting van die komponis en digter / liriekskrywer se werk en die gemeentelid word beroof en gekaap in sy deelname en belewenis van die erediens.
    Skep asseblief “nuwe” liedere vir “nuwe kontemporere begeleiding” maar die “jazzifisering” van bestaande kerkliedere ondersteun en rig my nie in my aanbidding, verheerliking en belewenis van gewydheid tydens ‘n erediens nie.
    Dit was beslis my laaste bywoning van ‘n kerssangdiens in Jeffreysbaai se NG Kerk.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s