Ongeveer 80 mense van ons gemeente het hierdie naweek by Emerentia Geldenhuys naby Warmbad gekamp. Tannie Eva en tannie Betsie was lankal daar toe die res van die motors en die karavane die een na die ander aangekom het. Die wat nie karavane gehad het nie, het baie “knussies” in die kamers geslaap.
Die vure vir bring en braai is om en by 19:00 aangesteek en ons het daar heerlik gekuier, selfs ‘n paar liedjies probeer sing, maar niemand het al die woorde van enige liedjie geken nie. Op ‘n stadium het daar ‘n donderwolk opgesteek wat ‘n paar druppels laat val het en Johan van der Westhuizen kon nie wag om almal daarop te wys dat ds. Attie ‘n baie swak weervoorspeller is omdat hy vroeër die aand gesê het dat die weerburo gesê het dat daar in die volgende ses maande baie min reën gaan val.
Teen 21:00 was feitlik almal klaar gebraai en is ons saal toe waar ons die stywe litte van die ouer mense losgekry het en die jonger litte moeg gekry het met ‘n vorm van dans wat “dozi-douz” genoem word. Op ‘n stadium het ons net die onder 25 op die vloer gehad en toe was ons onder 25 dominee, ds. Chris, ook daar. Aan die einde van die aand is ons elkeen na sy eie kamer toe vol verwagting dat ons hierdie naweek baie lekker gaan kuier. (Op daardie stadium was van die kleiner kindertjies in elk geval lankal moeg.)
Saterdag het begin met ‘n “Piet my vrou” wat veral die ouens by die karavane en tente vroeg wakker geroep het. Daarna was dit tyd vir ‘n toewydingsgeleentheid waar ds. Chris ons daaraan herinner het dat ons God in elke stukkie van die natuur kan sien, maar dat ons as die kroon van sy skepping die eerste plek is waar ons God kan sien – in mekaar.
Nadat elkeen sy eie “brunch” voorberei het en jy alle denkbare vorms van eiers: Die mooiste eier; die meeste eiers in ‘n pan; die deurmekaarste eiers; ‘n eier wat soos ‘n boom lyk; ‘n eier met ‘n kuikentjie in ( so sê hulle) gesien het, het ons heerlik gekuier en mekaar al hoe beter leer ken. Ons het wel uitgevind dat as ‘n mens so saam kuier na ‘n laataand soos Vrydagaand dan is ‘n mens geneig om inligting te deel wat jy later gewens het jy liewer nie gedeel het nie.
Na ‘n vinnige middagslapie het ons begin voorberei vir die rugby en is die vure aangesteek vir potjiekos – een potjie wat amper negentig mense kos gee. Dit was nou amper negentig want deur die loop van die oggend het Gerda en Ebert en Monique bygekom. Ons het die rugby op die grootskerm gekyk en toe Schalk Burger sy eerste drie druk, het almal gedink: “Hier kom ‘n ding!” maar O weë!, alles verniet. Na die rugby het ons almal soos teleurgsteld maar honger, opgeruk om daardie potjie waarvan ons so baie gehoor het, en geruik het, dit gaan proe. Niemand was teleurgestel nie, en die potjie is boomskraap geëet.
Na ete is ons saal toe om ‘n paar Afrikaanse liedjies (Selfs Steve se “Pampoen”) te sing en daarna ‘n bietjie nagedink oor die pad waarlangs die Here tot hiertoe met elkeen van ons geloop het en die pad wat ons graag sal wil hê die Here met ons moet loop. Die saam sing om die Here te loof en te aanbid, was ‘n wonderlike manier om die dag af te sluit.
Sondag-oggend was dit erediens en nagmaal. Ds. Chris het ons aandag daarop gevestig dat van die Psalms geskryf is om gesing te word terwyl die Jode oppad was na die tempel toe en dat ons ook moet onthou dat die Here met ons as gemeente oppad is en dat Hy ons aan mekaar gegee het sodat ons as huisgesin van God met mekaar en veral saam met Hom oppad kan wees – die toekoms in. Hy het ook gesê dat ons net ‘n nuwe toekoms sal kan beleef as ons toelaat dat die Here ons help om nuut oor die gemeente te dink en te praat. Tydens die nagmaal het elke pa sy gesin met nagmaal bedien. Die persoon wat vir een of ander rede alleen daar was, is deel gemaak van ander gesinne.
Na die diens het sommige agtergebly om nog te kuier terwyl ander terug huistoe is.
As ons terugdink aan die naweek dan was dit wonderlik om mense beter te leer en om gesigte wat ons elke dag sien aan ‘n naam te koppel. Daar was niemand op die kamp wat nie vir die eerste keer ‘n ander persoon se naam gehoor het nie.
Ons almal sien reeds uit na volgende jaar se gemeentekamp.
Laat 'n boodskap