Wat dit ookal was wat die jongste seun in die vreemde verloor het – sy vriende; reputasie; selfrespek; innerlike vreugde of vrede – een van daardie of almal, hy het nooit opgehou om die jongste seun van die Pa te wees nie.
Hierdie jongste seun se terugkeer begin die oomblik wanneer hy by die varke sit en besef dat hy nooit opgehou het om sy Pa se seun te wees nie, ten spyte van die feit dat al die waardigheid wat met sy “seun-wees” gepaard gegaan het, nou verlore was. Inteendeel dit was juis die oomblik toe hy besef het dat hy alles verloor het, wat hy sy ware identiteit as seun van sy Pa weer ontdek het, toe hy besef het: “Ek het deur dit alles heen steeds “seun” gebly.
Hy weet hy is nog steeds “seun” maar hy erken ook dadelik dat hy die reg om “seun” te wees verbeur het en hy berei homself voor om die status van ‘n bediende in sy Pa se huis te hê en nie aanspraak te maak op sy status as “seun” nie. Daar is wel berou in sy hart, maar dit is nie die berou wat gepaard gaan met ‘n bewustheid van die onmeetbare liefde van God nie, maar dit is berou met die gedagte en motief van oorlewing. In sy Pa se huis gaan hy selfs as bediende nie doodgaan van honger nie, in sy pa se huis sal hy oorleef.
Sy berou is eerder tipe van ‘n erkenning: “Ek kon dit nie op my eie waag nie, ek het my pa nodig. Ek sal teruggaan en ek sal bereid wees om met ‘n mindere straf saam te leef, net sodat ek kan oorleef.” Met hierdie tipe van gedagtes bly God harde en veroordelende Regter wat gevrees moet word en wat die hele tyd besig is om my so skuldig as moontlik te laat voel.
So dikwels is berou eerder ‘n verleentheid omdat ek uitgevang is as ‘n erkenning dat ek verkeerd was, en as dit wat ek gedoen het op enige manier my bestaan of my leefstyl sou bedreig, dan is ek gereed om te erken dat ek steeds “seun” is en dat ek bereid om met die (verkieslik) minimale gevolge van my oortreding saam te leef. Die posisie waarin die jongste seun homself bevind het sy voortbestaan ernstig bedreig, en daarom: “Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan… ”
Ons Vader is ‘n God van onmeetbare liefde en genade. Een van die grootste uitdagings van my lewe as kind van die Vader, is om te aanvaar dat God anders is as die prentjie wat ek van Hom het. (More skryf ek ‘n bietjie meer.)