oor lojaliteit en bendes

Vandag wil ek ietsie sê oor lojaliteit. Lojaliteit is een van die mooier eienskappe in ‘n verhouding maar, lojaliteit moet ook as deel van ‘n groter versameling persoonlike waardes funksioneer ten einde van verhoudings en ‘n gemeenskap ‘n beter plek te maak. Dit is juis wanneer verskillende waardes in spel kom wat verhoudings erg ingewikkeld raak.

Ek het verskillende vlakke van lojaliteit. Ek is aan God meer lojaal as teenoor my vrou; ek is aan my vrou meer lojaal as teenoor my kinders; ek is teenoor my kinders meer lojaal as teenoor enige ander mens of saak.

Maar dit mag nooit blindelingse lojaliteit wees nie.

‘n Voorbeeld: Sê nou ‘n kind se ma kom aan die einde van die dag na jou huis toe en vertel hoe jou kind onregverdig teenoor haar kind opgetree het, en sy wil hê jy moet die saak regstel. Nou is daar verskillende moontlikhede oor hoe om hierdie saak te hanteer.

Jy kan mooi na die kind se ma luister, en as jy klaar geluister het onderneem om die saak met jou kind op te neem en dan daarna die saak reg te stel op ‘n manier waarop jy en jou kind ooreenkom. Die groot voordeel hiervan is dat jou kind nie blootgestel word aan een of ander vernedering omdat jy sy integriteit in die openbaar bevraagteken nie en julle kry ook die geleentheid om die saak rustig na die tyd uit te praat, saam op ‘n plan van aksie besluit.

Of, ‘n mens kan die moeiliker pad loop. Jy kan jou kind daar in die teenwoordigheid van die ander kind en sy ma vra of dit wat jy nou hier hoor die waarheid is, en indien die kind erken dat dit wel waar is, net daar saam te besluit oor hoe die saak reggestel moet word.  Die groot voordeel hiervan is dat jou kind leer, dat ‘n mens nie kan verwag om van die gevolge van jou foute en misstappe gespaar gaan bly net omdat iemand lojaal teenoor jou is.

Daar is ook die ander moontlikheid. Die moontlikheid dat jy net eenvoudig weier om te aanvaar wat die ma sê en jou kind voor die ouer en die seun so verdedig en beskerm, dat jou kind geheel en alles verontskuldig word, die kind wat gekla het tot leuenaar maak tot op die punt waar die ander ouer twyfel of sy kind enigsins die waarheid gepraat het. Wanneer die ander gesin wegstap, kan jy en jou kind selfs mekaar omarm en sê: “In hierdie gesin staan ons saam.”, en as “oorwinnaars” uit die stryd tree.

Maar, het ons dan nie lojaliteit geoffer op die altaar van regverdigheid en eerlikheid nie? Met ander woorde, het ons lojaliteit teenoor mekaar nie dalk so belangrik geraak dat daar nie sprake is van eerlikheid en regverdigheid nie? Wat sou die gevolge wees indien die kind uit hierdie gebeure ‘n waarde aanleer wat hy vir die res van sy lewe gaan toepas?

Blindelingse lojaliteit is een van die slegste dinge wat in verhoudings en in ‘n organisasie of gemeenskap kan gebeur. Dit skep die valse gevoel van sekuriteit, en skep ruimte vir bandelose optrede waar foute en misstappe regverdig en selfs toegesmeer word.

Blindelingse lojaliteit is die spil waarom bendes draai. Meeste van die tienerflieks gaan oor hierdie “bendes” wat ander tieners intimideer.

Daar is bendes wat gewondes en dooies op strate en sypaadjies laat, maar daar is ook daardie “bendes” wat mense wond en soms iets in mense doodmaak en mense in die “gutters” van die lewe loop terwyl hulle oorwinnende wegstap.

Sommige mense ontgroei nooit die “bende” mentaliteit van blindelingse lojaliteit teenoor die ander lede van die “bende” nie. Oor die nadele van so ‘n “bende-mantaliteit” sou ‘n mens verskriklik baie kon sê of skryf.

Die bendes is orals: skole; politieke partye; regering, organisasies en ook in die kerk.

Sulke “bendes” maak dat ‘n mens soms vra of dit waarmee jy besig is en waaraan jy lojaal is, hoegenaamd die moeite werd is, maar die waardes van lojaliteit en regverdigheid en eerlikheid oorheers enige sodanige gedagtes.

Die reuse uitdaging waarvoor die kerk nou staan met betrekking tot sinvol besig wees by die nood in hierdie wêreld en veral in ons onmiddelkike gemeenskappe, is juis as gevolg van die “bende” mentaliteit wat veral in 50-70ger jare in die kerk geheers het en wat in ons land geheers het met die valse sekuriteit dat die lojaliteit van die “pous” van die NG Kerk die waarde van regverdigheid en eerlikheid oorheers het.

Maar dit gaan nie vandag oor die verlede en die foute wat kerk en staat in die verlede gemaak het nie, dit gaan oor die “bende-mentaliteit” wat in alle sfere van die samelewing bestaan.

Die families, gemeentes, gemeenskappe, organisasies, politieke partye en regerings bestaan uit individue wat in hulle eie persoonlike lewens die waarde van lojaliteit besef en uitleef, maar altyd as deel van ‘n groter stel waardes. Soms is dit lojale-regverdigheid, ander kere is dit regverdige-lojaliteit, maar nie twee situasie is dieselfde nie. Soms is dit selfs nodig om ‘n verhouding op die spel te plaas omdat eerlikheid en regverdigheid baie swaarder weeg as lojaliteit.

Elkeen van ons was warskynlik al die slagoffer van die “bende-mentaliteit”, maar in alle eerlikheid (‘n waarde) sal ons ook deurlopend moet vra: Is ek nie dalk in hierdie saak oor deel van ‘n “bende” nie?

Dalk sou hierdie eerlikheid beteken dat ek op my spoor moet teruggaan en my optrede en deel wees van ‘n “bende” gaan verklaar en bely.

Maar, dalk sal ek ook op my eie moet stilraak en “bende-lede” vergewe vir die kerk wat ek “gewond” en selfs “sterwend” in die “gutter” gelê het.

Kommentaar is gesluit.

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: