twee maande later

Sondag sal dit twee maande wees vandat ek en Renate en Renè, in ons nuwe gemeente “Waverley” begin het.

Die trek was nie vir ons baie maklik nie. Toe ons die laaste keer deur ons leë huis stap waar ek en Renate ons getroud-wees-lewe begin het, was die hartseer vlak – sommer baie vlak. Ons kon nie glo dat ons uitstap en op ‘n ander plek ‘n nuwe lewe moet gaan oopbreek nie. Renè het nie kans gesien om by te wees wanneer die trek gelaai word nie, ek wens ek was ook nie daar nie.

Ons jongste het soos ‘n kampioen die nuwe uitdagings aangegryp en na die eerste dag op skool huistoe gekom met ‘n paar maatjies wat sy reeds leer ken het. Nou is sy redelik gevestig, alhoewel sy soms deur hartseer oorweldig word wanneer sy na haar naby vriendinne verlang. (Die beste vriendin kuier juis hier vir die naweek.)

Renate kry so ‘n bietjie swaar. Sy mis dit verskriklik baie om musiek te maak, maar toe ons gekom het, het ons geweet dat dit die situasie sal wees. Ons het gelukkig die kans gekry om by die tieners musiek te maak en ons gryp daardie geleentheid met albei hande aan.Ek en sy mis ook die dierbare en kosbare vriende wat in Rustenburg agtergebly het, maar ons sal probeer om steeds kontak te hou, sover kry ons dit reg.

Ons het doelbewus gekies om eers die gemeente mooi te leer ken voordat ons regtig ten volle inspring met die werk in die gemeente en met die mense van die gemeente. Ons is nou besig om die mense in groepe van ongeveer 12 te sien om hulle te ontmoet en net ‘n bietjie nader aan die mense te kom. Ons is verbaas oor hoe die mense reageer, nege uit die tien wat genooi word, woon die geleenthede by.

Waverley is nie ‘n gemeente waar baie lidmate kom en gaan nie. Sommige van die lidmate is reeds soveel as 70 jaar in die gemeente. Maar, ons tel ‘n geestelike volwassenheid by die mense op wat ons nogal verbaas. Dit wil vir ons voorkom of die rede daarvoor juis is omdat die mense redelik gevestig is en deur die loop van jare in hulle vastigheid geestelik gegroei het.

As gevolg van baie redes is die betrokkenheid van die mense nie alles wat dit moontlik kan wees nie (Ons het dit ook geweet toe ons die beroep aanvaar het.), maar die potensiaal is daar. Hier is ses skole in ons onmiddelike omgewingwat beteken dat hier ‘n redelike groot groep jonger mense in die gemeenskap is waarvan net ‘n klein groepie betrokke is by die gemeente. Een van die groter uitdagings is waarskynlik om daardie groep mense te bereik, veral omdat hulle waarskynlik alreeds skepties is oor kerk en ook gevestig is in patrone om nie betrokke te wees by die kerk nie. Daar isnie ‘n resep nie, en soos so baie ander kere in ons lewe, sal ook hier moet vertrou dat die Here ons sal gebruik en dat Hy self die werk sal doen.

Daar is sekere dinge van NG Bergsig wat ek graag net so sou wou oordra na Waverley toe, daar is ander dinge wat ek met stokke en swaarde te alle koste hier sou weghou. Maar die heerlike uitdaging is om saam met hierdie unieke groep mense in Waverley ‘n gemeente te groei en voort te bou op die werk wat reeds hier gedoen is, sodat Waverley alles kan wees wat die Here Jesus, die Koning van die kerk, bedoel het sy moet wees.

En wie weet, dalk kan die gemeenskap van Waverley ook op ‘na manier geraak word wat hulle nie gedink het moontlik is nie.

Lewer kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

Comments are closed.