MET GOD OPPAD

Dit gaan bietjie vinnig en dol met my. Hier is my preek van Sondag. Dalk is hy bietjie lank, maar lees dit maar stukkie vir stukkie as jy ‘n behoefte het.

MET GOD OPPAD

As jy op soek is na ‘n voorbeeld van geloof, dan sal jy waarskynlik nie ver kom voordat die naam Abraham na vore kom nie. In Romeine 4 gebruik Paulus ook vir Abraham om vir die gelowiges in Rome te verduidelik hoe ‘n belangrike rol geloof in die lewe van God se kinders speel.

In Hebreërs 11 word Abraham tussen al die ander geloofshelde uitgelig as die mees besondere voorbeeld van geloof. Abel, Henog, Noag en dan Abraham. Elkeen van die ander geloofshelde kry hoogstens twee verse, maar in Abraham se geval word twaalf verse gebruik om sy geloof te beskryf.

DAAR IS NIE ‘N DEFINISIE VAN GELOOF NIE

Geloof kan ‘n selfstandige naamwoord, of ‘n werkwoord wees.

Geloof as selfstandige naamwoord gaan oor inhoud, die dinge wat ek glo. Byvoorbeeld: Ek glo God is die Skepper van die hemel en die aarde; Ek glo Jesus is die Seun van God; Ek glo Jesus het uit die dood uit opgestaan; Ek glo Jesus kom weer. Dit is geloof wat ek bely soos ek dit byvoorbeeld in die geloofsbelydenis doen.

Wanneer geloof egter as werkwoord gebruik word, dan gaan dit oor geloof wat geleef word.

In die Abraham gebeure word geloof as selfstandige naamwoord net een keer gebruik. Wanneer Abraham se geloof in Hebreërs beskryf word, word die werkwoord vir geloof 19 keer gebruik en die selfstandige naamwoord net een keer.

Dit beteken dat ons nie die lewe van Abraham kan gaan lees met die hoop om ‘n netjies geformuleerde definisie van geloof te kry nie of in een sin te kan sê wat dit beteken om te glo nie, maar ons kan wel na die lewe van Abraham gaan kyk om te verstaan wat dit is om gelowig te lewe.

HIERNA

Genesis 22 begin met hierdie woorde: “’n Ruk na die vorige gebeurtenisse…” (Genesis 1:1) Watter vorige gebeurtenissie? Alles wat gebeur het vandat God Abraham geroep het tot aan die einde van Genesis 21. Hierdie tien hoofstukke vertel van sewentien gebeurtenisse in Abraham se lewe oor ‘n tydperk van 175 jaar en duisende kilometer.

Wanneer God die eerste keer met Abraham praat, is die heel eerste woord wat God gebruik “Trek” en vir 175 jaar sou Abraham in gehoorsaamheid aan God se opdrag duisende kilometer trek, van Ur tot by Haran tot by Kanaan tot by Berseba, terwyl hy:

Verskeie kere dwarsdeur Kanaan altare bou waar hy aanbid;

Op ‘n onselfsugtige manier vir sy nefie Lot eerste grond laat kies;

In Egipte in twyfel sy eie planne maak;

Melgisedek ontmoet en vir hom ‘n tiende van al sy besittings gee;

Elke keer beleef hoe God die visie van die verbond vir hom die hele tyd duideliker maak;

By God die besnydenis ontvang as herinneringsteken van die verbond;

In twyfel en ongeduld vir Ismael by Hagar verwek;

Gasvry optree teenoor die vreemdelinge by Mamre.

Voorbidding vir Sodom doen en hulle oordeel beleef;

Met Abimeleg onderhandel.

Al hierdie dinge en nog meer gebeur in tien hoofstukke totdat Abraham aan die einde van Genesis 21 ‘n tamarisk boom by Berseba plany en God daar aanbid. Hoofstuk 22 is dan na al hierdie dinge gebeur het.

ABRAHAM WAS OPPAD

In die tien hoofstukke voor Genesis 22 was Abraham die hele tyd aan die beweeg. Abraham lewe in ‘n tyd toe ‘n nomadiese bestaan vir niemand vreemd was nie en die meeste van die mense deurlopend aan die trek was van die een plek na die ander. Die een groot verskil tussen Abraham en die ander, was dat hy met God op pad was.

Ek en Renate kyk graag na die TV reeks “The Amazing Race”. In die reeks is die deelnemers altyd op reis na ‘n sekere bestemming. Aan die begin van elke dag gee die aanbieder van die program vir die spanne instruksies oor wat hulle elke dag moet doen. In die eerste plek kry hulle nooit aan die begin van die dag instruksies wat sê waar hulle aan die einde van die dag moet wees nie, hulle kry net instruksies waarheen hulle moet gaan en as hulle daar kom kry hulle die instruksies vir die volgende been van die wedloop. Wanneer hulle aan die einde van die dag by hulle bestemming aankom, dan is dit nie die einde van die resies nie, hulle kry net ‘n nag om te rus sodat hulle die volgende dag weer verder kan gaan met die wedloop.

Abraham se lewe was in ‘n sekere sin ‘n “Amazing Race”. Hebreërs 11 beskryf sy lewe so: “Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom.” (Hebreërs 11:8)

Abraham het Ur en Haran verlaat en tot by Sigem getrek. By Sigem het hy sy volgende instruksies gekry en tot by Betel getrek. By Betel het hy die volgende instruksies gekry en na Egipte toe getrek. In Egipte het hy sy volgende instruksies gekry en tot by Gerar getrek. By Gerar het hy sy volgende instruksies gekry en tot by Berseba getrek By Berseba het hy sy volgende instruksies gekry en tot by Mamre getrek. By Mamre het hy sy volgende instruksies gekry en weer na Berseba toe getrek. By Berseba het hy ‘n Tamariskboom geplant en  God daar aanbid. Na al hierdie dinge, toe Abraham by Berseba was, het hy sy volgende instruksies gekry.

Oppad wees was die kenmerk van Abraham se lewe, altyd aan die beweeg, sonder om te weet wat sy eindbestemming sal wees.

Nêrens langs die pad kon Abraham ontspan en sê: Hier wil ek wees; dit is hoe ek dinge wil hê; hier gaan ek bly nie. Hy kon nie bekostig dat dinge vir hom te gerieflik raak nie, want hy moes altyd gereed wees om weer te trek. Van Genesis 12:1 af, tot by Genesis 22:12 word daar sestien keer gepraat van trek of wegtrek of verlaat.

Elke keer het hy die bekende verlaat vir die onbekende. Elke keer het hy die veilige verlaat en moes hy bereid wees om te waag. Weereens Hebreërs 11. “In tente het hy daar gewoon… want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.” (Hebreërs 11:9-10)

Die kerk het ‘n geskiedenis van trek. Die eerste gelowiges wou die Here Jesus se opdrag om die evangelie na die verste uithoeke van die wêreld te neem met alles wat in hulle was  gehoorsaam, en daarom was hulle altyd oppad. Paulus is natuurlik die beste voorbeeld hiervan, maar dit was nie net Paulus nie. Ook Barnabas, Markus, Timoteus, Lukas en vele ander.

Maar oppad wees beteken nie net trek van die een punt na die ander nie. So byvoorbeeld het die kerk in ‘n mate vasgesteek by die Rooms Katolieke manier van kerkwees. Die hervormers soos Luther, Calvyn en ander het ook daar hulle tentpenne uitgetrek en verder gegaan, getrek.

In ons Christelike lewe is dit ook baie kere nodig dat ons trek, wegtrek, verlaat, laat los. Ons ontwikkel met die verloop van tyd ‘n gemaksone. ‘n Stukkie lewe waar ek veilig voel en waar ek nie graag aan gekrap wil hê nie. ‘n Stukkie van my lewe waar ek mense so ver as moontlik uithou want ek weet as iemand daar besig raak, dan gaan die lewe vir my ongemaklik word. Ek sal dalk ‘n tentpen of twee moet uittrek om te trek. Eintlik wil ons ook nie vir God daar toelaat nie en wanneer ons net ‘n vermoede het dat iemand daar in daardie gemaksone gaan besig raak, dan verdedig ons met alles wat ons het.

Soos Abraham moet ons ook oppad wees, nie te gemaklik waar ons is en hoe ons dinge doen en wat vir ons belangrik is nie. Geloof is om oppad te wees.

Die wêreld waarin ons lewe is die hele tyd oppad. Ons ry nie meer ossewa soos 100 jaar terug nie, ons ry in motors wat in ‘n dag se tyd so ver kan ry as wat ‘n ossewa soms oor jare gery het. Ons luister nie meer radio om te weet wat in die wêreld aangaan nie, ons kyk meestal nuus oor die TV. In ons alledaagse lewe praat ons van hierdie oppad wees as vooruitgang, tog jammer dat ons nie in die kerk dieselfde oor die dinge dink nie.

‘n Goeie voorbeeld is motors. Elke keer as ‘n motor beplan word, doen die ontwerpers die beste wat hulle moontlik kan doen. Maar die oomblik wat die motor klaar ontwerp is, begin hulle om die volgende een te ontwerp. Altyd aan die beweeg, altyd vorentoe, nooit op die punt wat hulle terugsit en sê: Hierop kan ons nie verbeter nie.

Ons is geroep om kerk te wees in ‘n “oppad-wees-wêreld”. As ons nie ook ‘n “oppad-wees-kerk” is nie, gaan ons vinnig ver agter raak. Ons verwelkom meestal vooruitgang in ons alledaagse lewe, maar ons skop teen vooruitgang in die kerk.

ABRAHAM WAS MET GOD OPPAD

Abraham was anders as al die ander nomades van sy tyd in die sin dat hy met die Lewende, Ewig Teenwoordige God oppad was. Hy verlaat Ur in gehoorsaamheid aan God en kom by Sigem in die land Kanaän. Sigem was ‘n plek van aanbidding en Abraham het ook daar aanbid. Vers 7: “Toe het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: ‘Aan jou nageslag gee Ek hierdie land. Abram het daar ‘n altaar gebou vir die Here wat daar aan Hom verskyn het.” (Genesis 12:7-8)

Daarna het Abram tot by Bet-El getrek. Bet-El was nie ‘n plek van aanbidding nie, maar Abram het dit ‘n plek van aanbidding gemaak. “Daar het hy ‘n altaar vir die Here gebou en die Naam van die Here aangeroep.” (Genesis 12:8)

“Oppad wees” was waarskynlik die duidelikste kenmerk van Abraham se lewe, maar aanbidding beskryf die manier waarop Abraham oppad was. Hy het weer en weer altare gebou: By Sigem en Bet-el en Mamre en Berseba en op die ou end ook op die berg Moria.

‘n Altaar is bedoel as ‘n plek van aanbidding, maar in die tyd van die Ou Testament was ‘n altaar ook ‘n plek van offer. By die meerderheid altare het God die beloftes aan Abram beter en beter verduidelik. En elke keer as Abraham God se belofte bietjie beter verstaan, het hy ‘n altaar gebou en God aanbid. Hy het al hoe meer op God se beloftes staat gemaak en al hoe meer sy eie pogings om vir hom ‘n beter lewe uit te werk laat vaar, en op die altaar wat hy gebou het geoffer.

Al hierdie dinge het gemaak dat Abraham in sy geloofslewe gegroei het. Alhoewel Abraham geestelik gegroei het, en hy meer en meer volwasse geword het, was hy nie volmaak nie. Met tye was die onbekende net te veel van ‘n waagstuk. Soos bv. die geleentheid toe hy na Egipte toe is. Hy het nie geweet hoe die Egiptenare teenoor hom gaan optree nie. Dalk sou hulle hom doodmaak. Toe bedink hy sy eie plan om die waagstuk ‘n bietjie minder van ‘n risiko te maak. Hy besluit om te lieg en te sê dat Sarai sy suster is en nie sy vrou nie. Ander kere het hy gedink dat hy God dalk net so bietjie moet help met die belofte wat Hy gemaak het soos die keer toe hy besluit het hy om ‘n seun by Sarai se slavin Hagar te hê omdat God te lank gevat het om te doen wat Hy belowe het.

Om met God oppad te wees beteken nie ‘n foutlose volwasse geloof nie. Om met God oppad te wees is om gewillig en afhanklik met God oppad te wees. “Here ek wil, maar sonder U kan ek nie.”

ABRAHAM WAS ALTYD GEREED

In Genesis 22:1 sê God net hierdie een woord: “Abraham!” (Genesis 22:1) en Abraham se onmiddelike reaksie is: “Hier is ek!”

As God Abraham se naam sê, dan is Abraham se onmiddelike reaksie: “Hier is ek!” Gereed om God te gehoorsaam, soos hy al soveel kere in sy lewe gehoorsaam het.

“Hier is ek.”

Ek het op die mooiste plek in die hele wêreld studeer, Stellenbosch. Sewe jaar op Stellenbosch was nie vir my genoeg nie en nadat my sewe jaar verby was, was dit my hartsbegeerte om in daardie omgewing te bly, en ek het dikwels gebid: “Ag, Here, gee tog dat daar in die skaduwee van Tafelberg tussen die wingerde van die Boland vir my ‘n plekkie sal wees. “

Hoekom? Dit is waar die lewe vir my maklik en gerieflik was. Die Boland was vir my bekende omgewing, daar het ek ‘n idee gehad van wat om te verwag. Maar in daardie tyd was beroepe skaars, jy moes maar vat wat jy kon kry en toe die beroep na Rustenburg Bergsig gemeente kom, het ek geen ander keuse gehad as om my tentpenne uit te trek en te gaan nie. As ek vandag terugkyk dan besef ek dat ek van die mooiste dinge in my lewe sou gemis het as ek nie gegaan het nie en gebly het waar dit vir my gerieflik was. Ek wonder hoeveel kere in my lewe was daar wonderlike dinge wat ek gemis het omdat ek nie gereed en gewillig was om te gehoorsaam nie.

Wanneer ‘n mens met God oppad is, is ‘n mens onseker op pad na die onbekende, terwyl ek van net een ding seker is – en soms nie eers baie seker nie – die Here sal my bring waar Hy wil hê dat ek moet wees. En as die stem kom, dan sal ek soms bewend en onseker sê: “Hier is ek!”

GELOOF IS OFFER – OFFER IS GELOOF

Wanneer Abraham in antwoord op God se roep sê: “Hier is ek!”, kom die bekende en ontstellende woorde. “Vat jou seun, jou enigste , Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.” (Gen 22:2)

Om gehoorsaam oppad te  wees beteken ook dat ek by herhaling bereid sal moet wees om prys te gee, om dalk iets wat vir my waardevol en kosbaar is te los – met ander woorde, ek sal baie kere bereid moet wees om te offer.

In Genesis 12 sê God vir Abraham dat hy moet aanhou trek tot hy in die land kom wat God vir hom sal aanwys. Hierdie keer is Abraham se wegtrek en verlaat anders, hy moet na die berg toe gaan wat God vir hom sal aanwys, maar hierdie keer sal hy dit wat vir hom die waardevolste en die mees kosbare is, moet offer, prysgee, laat los – sy seun Isak. Die enigste bewys dat God sy belofte van ‘n groot nageslag vir Abraham waar sal maak. Soos so baie kere in sy lewe sal hy ‘n altaar bou, maar sal dit ‘n altaar wees waarheen hy sal wil terugkom om te aanbid?

Ons mag nie vergeet dat Abraham ‘n regte mens was en dat hy nie soos ons geweet het waar en hoe hierdie nuwe “trek” opdrag gaan eindig nie. Alhoewel Abraham die hele tyd gegroei het in sy verhouding met God, was hy nooit sonder foute nie en was sy geloof en verhouding met die Here nooit van so ‘n aard dat hy rustig en sonder bekommernis gehoorsaam het nie.

Nadat Abraham hierdie opdrag van God gekry het, staan daar: “Vroeg die volgende môre het Abraham ‘n donkie opgesaal en hout gekap vir ‘n brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak.” (Gen 22:3)

Een ding wat my hierdie week tref terwyl ek hierdie tien hoofstukke lees, is dat Abraham nie een keer iets vir homself vra nie. Hy het baie kere aanbid, en die een keer wat hy vra, vra hy nie vir homself nie, maar vir die mense van Sodom en vir sy nefie Lot. Wanneer hy nou die opdrag kry om sy seun Isak te offer, vra hy nie dat hy hierdie moeilike opdrag gespaar sal bly nie, hy probeer nie met God onderhandel soos by Sodom nie.

Abraham het die brandhout en die donkie en die twee slawe en sy seun Isak gevat en hy het die drie dae lang reis na Moria aangepak. Drie dae in ‘n geskiedenis van 175 jaar saam met God, maar drie dae wat seker vir hom langer moes gevoel as die 175 jaar wat hy saam met God oppad was, want hierdie keer vra God die een ding wat hy nie sou wou gee nie, sy enigste seun Isak.

Ek kan nie begin om te dink wat in daardie drie dae deur Abraham se gedagtes moes gegaan nie. Ek weet wat alles deur my gedagtes gegaan toe ek en Renate by geleentheid in Unitas in die hospitaal gesit en wag het terwyl ons oudste dogter na ‘n baie ernstige ongeluk ‘n brein-operasie ondergaan het. Vir agt ure nadat die ongeluk gebeur het en sy by die hospitaal aangekom het, het ons gewag. Agt baie lang ure. Hoe moet dit voel om drie dae te wag voordat iets gebeur wat jou meer seer sal maak as enige iets anders wat al in jou lewe gebeur het , en om te weet dit gaan gebeur.

Wanneer ateïste redes aanvoer waarom hulle nie in God glo nie en waarom hulle daarvan oortuig is dat daar geen God is nie, dan gebruik hulle hierdie gedeelte. Hulle vra: “Hoe kan jy ‘n God aanbid wat van ‘n man vra om sy eie seun te offer terwyl Hy weet dat dit nie gaan gebeur nie?” “Hoe kan jy ‘n God aanbid wat ‘n man vir drie dae lank deur so ‘n hel laat gaan?”

Dit is een van die redes waarom dit vir ons ook belangrik is om ‘n antwoord te kry op die vraag: “Waarom doen God dit?”

God doen dit om Abraham se geloof te toets “’n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel.” (Genesis 22:1) Ek dink daar was ander toetse in Abraham se lewe. Die heel eerste opdrag om weg te trek uit Ur was ‘n toets: Sal Abraham gehoorsaam wees en trek – hy het daardie toets geslaag. Die tyd in Egipte was ‘n toets: Sou Abraham God vertrou om hom en sy vrou te beskerm? – daardie toets het Abraham nie geslaag nie. Die belofte dat God vir Abraham by Sarai ‘n seun sou gee was ‘n toets. Sou Abraham geduldig genoeg wees om te wag totdat ek dit doen, of sal hy sy eie planne maak? Daardie toets het Abraham ook nie geslaag nie.

Hierdie was Abraham se grootste toets, wanner God vir hom die opdrag gee om Isak te gaan offer. Sou Abraham bereid wees om te gehoorsaam sonder dat hy weet wat die uitkoms gaan wees? Sou Abraham bereid wees om te gehoorsaam sonder om te weet dat dit ‘n toets is?

Geloof gaan getoets word, dit kan nie anders nie. Geloof gaan met offers getoets word.

Geloof het ‘n woord geword wat al te maklik gebruik word. Die manier waarop ons die woordjie geloof gebruik en hoe ons geloof lewe, maak dikwels dat ons geloof ons in die steek laat. Want ek glo in die prentjie wat ek vir myself in my gedagtes geteken het oor hoe ek dink God behoort te wees. ‘n Prentjie wat gebou is rondom eenvoudige en maklike definisies van wat geloof nou eintlik is. ‘n Prentjie wat gevorm is rondom ander mense se getuienisse oor wat deur geloof in hulle lewe gebeur het en dikwels is hierdie geloof ‘n geloof wat geen offer vra nie; ‘n geloof wat vastigheid en sekuriteit beteken; ‘n geloof waar ek my wenslysie na bo kan stuur met die verwagting dat God sal gee wat ek vra; ‘n geloof wat nie van my sal vra om aanpassings te maak nie.

Almal van ons het al gehoor hoe mense opstaan en getuig hoe die Here in antwoord op gebed die wonderlikste dinge, selfs ‘n wonderwerk in hulle lewens gedoen het. Sulke mense is as ‘n reël baie eerlik en vertel van dinge wat regtig gebeur het. Maar wanneer ek hoor wat God in hulle lewe gedoen het dan verwag ek dat God dieselfde in my lewe moet doen. Ek teken vir myself ‘n prentjie van God wat nie van my ‘n offer sal vra nie en nooit vir my sal vra om te verander of anders te dink nie, dat Hy nooit my geloof sal toets nie.

Elke geloofstoets het net hierdie een vraag: Aanbid jy die ware en lewende God? Aanbid jy die God van Abraham, Isak en Jakob? Of aanbid jy ‘n selfgemaakte god – ‘n afgod?

Wanneer Abraham die brandhout op die donkie se rug laai en die twee slawe vat en sy seun Isak vat, dan het Abraham geen idee wat God gaan doen nie. Abraham se geloof word getoets: “Abraham, in wie glo jy nou eintlik? Glo jy in die lewende God wat in jou lewe teenwoordig was terwyl jy oppad was, of glo jy in ‘n selfgemaakte god?

Alhoewel Abraham by verskeie geleenthede moes los en moes prysgee en agterlaat, was dit nooit maklik nie. Offer is moeilik, baie moeilik. Weer wegtrek, weer oppad wees, weer prysgee, weer agterlaat bly altyd moeilik. Al hierdie dinge was deel van die manier waarop Abraham met God oppad was, of God met Abraham oppad was, maar dit kon nooit maklik gewees het nie.

Die Moria gebeure is deel van ‘n groter verhaal van gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid, geloof en ongeloof/twyfel; ‘n horisontale lewe en vertikale gebed; sigbaar en onsigbaar en wanneer dit alles bymekaar kom, kry ons geloof.

Abraham se toets op Moria is ‘n ware gebeure en vind nie plaas in ‘n laboratorium nie. Die reis na Moria is drie dae binne die van 175 jaar se oppad wees.

Wat wil God toets? God wil Abraham se geloof toets. “Ek glo dat God sal voorsien!” Abraham kom ons toets of jy kans sien om jou belydenis te leef? Abraham kom ons kyk hoekom leef jy in ‘n verhouding met My? Abraham, is jy in hierdie verhouding om My te gebruik, of is jy in hierdie verhouding sodat Ek jou kan gebruik? Gebruik jy My, of gebruik Ek jou?

Die versoeking is altyd daar om te dink dat God daar is om my  te dien sodat ek met my inkopielys na God toe te kan kom. Die toets is: Sê nou Ek steur My nie aan jou inkopielys van verwagtinge en versoeke nie, wat dan? Sê nou Ek besluit om alles te vat wat ek gegee het, wat dan? Sê nou ek gee niks van alles wat jy vra nie, wat dan? Sal jy daarna nog steeds sê: “Hier is ek!”

Hierdie is nie sommer net vrae nie. Sulke dinge gebeur regtig, nie omdat God dit laat gebeur nie, maar omdat dit deel van hierdie lewe is. Mense word op ‘n daaglikse basis vermoor. Gesinne kom soms in motorongelukke om – wat gebeur in my verhouding met God wanneer sulke dinge gebeur?.

Ons geloof gaan toets geword, want ons kan onsself mislei. Ons kan onsself wysmaak dat ons God vir die regte redes dien en dat dit oor Hom gaan, en nie oor onsself nie. Jer 17:9 sê dit is moontlik: “Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? Ek die Here die Here deurgrond en toets hart en verstand.”

Weet, wanneer jou geloof getoets word, dan toets God of jy dalk jouself mislei het, en of jy nie dalk vir jou ‘n beeld van God geskep het wat nie is wie Hy regtig is nie. Wanneer geloof getoets word, word hierdie misleiding blootgelê.

Natuurlik mag ons reserweloos en onbeperk enige iets onder die son vir Hom vra, maar net so lank ek nie besig is om God te toets nie. Net so lank die voortsetting van my geloofsreis nie daarvan afhang of God hierdie toets gaan slaag nie.

Ons geloof gaan getoets word sodat ons kan weet dat ons die ware en die lewende God aanbid en nie ‘n selfgemaakte afgod nie.

Op die berg Moria bou Abraham ‘n altaar, en wanneer die altaar klaar gebou is, maak hy sy seun Isak op die altaar vas. Dalk sodat hy nie afspring en weghardloop omdat hy nie verstaan nie. Wanneer Abraham Isak klaar op die altaar vasgemaak het, vat hy die mes om sy seun Isak, sy enigste seun te slag.  In Genesis 12 vra God van Abraham om sy verlede te offer, in Genesis 22 vra God vir Abraham om sy toekoms te offer.

Kan daar ‘n groter toets wees as dit?

Dan roep God weer, net soos God die eerste keer geroep het behalwe dat God hierdie keer twee keer Abraham se naam roep: “Abraham, Abraham!” en net soos die eerste keer is Abraham se baie eenvoudige antwoord: “Hier is ek!” Nog steeds gereed vir wat dit ookal is wat God van hom sal vra en gereed om te gehoorsaam hoor Abraham hierdie woord: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien, jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan my te offer nie.” (Genesis 22:12)

Kan daar ‘n groter toets wees? Ek dink daar kan ‘n groter toets wees. Die grootste toets sou wees om Isak op die altaar te sien lê, die mes te neem en niks te hoor nie. Nie te hoor hoe God ingryp nie, te beleef hoe jy in gehoorsaamheid doen wat jy nie gedink het moontlik is nie.

Jare later sou ‘n Seun in ‘n tuin met die naam Getsemane  kniel en met vrees en angs en bewing sou Hy by sy Pa smeek om Hom nie te offer nie, maar op die ou end bid Hy: “My Vader … moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Amen.

Advertisements

Lewer kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

Die kommentaar is gesluit.