Ek en Renate maak van tyd tot tyd so ‘n bietjie musiek, sy speel klavier en ek speel kitaar.
Verlede week was een van daardie geleenthede. Ek het my kitaar gaan haal om saam met haar te speel en so ‘n bietjie saam met haar te sing. Maar, voordat ons enige iets kon doen, moes ons eerste seker maak dat die twee instrumente ingestem is. Met ander woorde, die C snaar op die kitaar moet dieselfde toonhoogte wees as die C op die klavier ens.
Die kitaar moet egter ingestem word en nie die klavier nie. Die klavier is die primêre of meester instrument en die kitaar is die sekondêre instrument. Wanneer die twee instrumente op mekaar ingestem is, is daar harmonie en dan kan ons musiek maak en wie ookal daar is kan saam sing.
Ons lewens moet op God ingestem wees. Ek moet seker maak dat ek ingestem is op die “Primêre Instrument” en nie van die “Primêre Instrument” verwag om op my, die sekondêre instrument in te stem nie.
Wanneer gebeur dit?
Daar is baie voorbeelde. Neem byvoorbeeld ‘n man en ‘n vrou wat glo dat hulle vir die Sendingveld geroep is. Na lang gesprekke met hulle geestelike leiers individueel en gesamentlik, is al die geestelike leiers dit eens dat hulle nie behoort te gaan nie. Tog besluit hulle om te gaan omdat hulle glo dat die Here hulle geroep het en dat die mening van die geestelike leiers nie die “stem” van hulle roeping kan oorheers nie.
Na ‘n paar maande op die sendingveld begin dinge skeef loop. Hulle kry nie regtig reaksie nie, en hulle finansiële ondersteuning raak al hoe minder. Skielik is hulle geloof in ‘n krisis. Waar is God nou? Hoekom laat God toe dat hierdie dinge gebeur? Ons is dan hier om die evenagelie te verkondig en die saak van die Koninkryk te bevorder – waar is God nou?
Intussen het hulle van God verwag om by hulle aan te pas in plaas daarvan dat hulle by God aan pas. Die Here het op verskeie maniere vir hulle daarop gewys dat hulle die risiko loop om ‘n “vals instrument” in Sy orkes te wees.
Dieselfde beginsel geld vir huweliksmaats en beroepskeuses en enige ander groot verandering en besluite in my en jou lewe.
Hierdie instel op die “Meester Instrument” gebeur egter nie vanself nie. Dit is iets waaraan gewerk moet word en wat deurlopend moet gebeur. Hierdie instelling vind plaas in ‘n mens se tyd alleen met die Here en in ‘n erediens en in gesprek met ander gelowiges.
Dit geld egter nie net vir die groot besluite en geleenthede nie. Dit geld ook vir klein dingetjies. Dade was wys dat ek God regtig liefhet en dat ek my naaste lief het soos my self. Die klag van ongelowiges, maar ook seer gemaakte gelowiges het daarmee te make dat die musiek vals was.
Mense wat nie bereid is om na ander te luister nie en glo dat hulle altyd reg is en ander verkeerd, is ‘n vals noot in God se simfonie orkes. Op ‘n stadium moet die dirigent stop en die instrument uitwys en sê: Jou instrument is vals, stem hom.
Die manier waarop huidige stryd tussen gelowiges in die openbare media met betrekking tot standpunte oor die opstanding, is ‘n vals noot.
Die klakkelose veroordeling van mense wat bv. gay is, is ‘n vals noot.
Christene wat weet dat sekere dinge in hulle lewens ‘n klad op die naam van alle Christene is, maar tog daarmee voortgaan, is ‘n vals noot.
So sou ‘n mens een voorbeeld na die ander kan neom. Gehoorsaamheid is nie om punte by God te kry nie. Ons gehoorsaamheid het te make met die beeld en die geloofwaardigheid van die kerk en Christene teenoor ongeloiwges en seer gemaakte geloiwges.
Maar, wannneer my en jou instrument ingestem is op die “Meester Instrument”, dan maak ons musiek, en die wêreld dans.
Middag Ds Attie elke keer wat ek hier lees en hier kom kuier kry ek ‘n boodskap!! Dankie.
Baie mooi gestel, Attie!