die beroep en integriteit

Die wildtuin bly maar vir ons ‘n wonderlike plek om te ontspan.

Ons was gelukkig om die vyf grotes te sien, maar ons is lankal by die punt verby dat die wildtuin net vir ons lekker is as ons die groot vyf gesien het. Ons kan selfs lang ente ry en niks sien nie, en dit sal steeds vir ons lekker wees. Terwyl ons kyk en soek kry ek en vroutjie ons agterstallige kuiertjies in en dikwels draai daardie gesprekke by redelike diep sake oordinge soos ‘n mens se verhouding met die Here.

Hierdie keer het ons gesprekke dikwels gedraai by dit wat vir ons voorlê, maar ook by die vyftien jaar wat ek en sy saam in Bergsig gehad het. Onder andere het ons ook gepraat oor die rol van ‘n predikant in die gemeente, maar ook in die samelewing.

Die volgende vraag is een van die vrae waaroor ons lank gesels het:

Hoe dink jy oor dominees en hulle integriteit?

Ek dink nie ons het klaar gepraat daaroor nie, maar deel van my antwoord was dat geen dominee dit as vanselfsprekend kan aanvaar dat hy as iemand met integriteit beskou sal word nie.

Ek ken predikante wat die indruk skep dat hulle van mening is dat mense nie aan hulle integriteit behoort te twyfel nie, omdat daar ds. voor hulle naam of v.d.m. agter hulle naam staan. Daardie tyd is lankal verby. Integriteit is iets wat mense van jou sê en nie iets wat jy van jouself kan sê nie.  Integriteit maak dat mense vir jou respek het en dat jy deur mense as geloofwaardig gesien word.

Die integriteit waarmee die beroep van predikante gesien word is belangrik omdat dominees ‘n belangrike rol speel in die koms van die koninkryk van God. Ongelukkig is dit so dat dominees ook dikwels baie skade aan die koninkryk God veroorsaak. Alhoewelgeen mens en daarmee saam geen predikant volmaak is nie, is ek tog daarvan oortuig dat die standaard wat ons van n predikant kan verwag effens hoër mag wees.

Een van my kollegas, ds. Jan van Breda, is ‘n man wat in my oë besondere  integriteit het en wie mense met respek behandel en in mense se oë geloofwaardig is.

Jan het ‘n hart vol liefde, baie respek vir enige mens wat oor sy pad kom en leef volgens die waardes wat hy vir homself gestel het.

Jan is nie die beste prediker of spreker wat ek ken nie, en hy weet dit. Tog preek hy graag en die interessante is dat die mense sy prediking geniet en dit as leersaam beleef.

Die rede, Jan het die reg verdien om gehoor te word. Jan se integriteit is nie gekoppel aan die feit dat hy ‘n predikant is nie, met ander woorde, sy titel maak nie dat hy van mense verwag om sy integriteit te aanvaar nie, hy leef met integriteit, en mense sien dit en daarom het hulle vir hom respek en luister hulle na hom, want hy verdien dit deur sy leefstyl.

Jan het nie integriteit omdat hy ‘n mens in ‘n bepaalde beroep is nie, maar mense soos Jan verleen integroteit aan die beroep.

My gebed is dat die Here deur sy Gees aan my die genade sal gee om so te leef dat ek die reg verdien om gehoor te word en aan om deur my aan hierdie beroep integriteit te verleen.

Advertisements

19 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

19 responses to “die beroep en integriteit

  1. Ek stem 100% met jou saam Attie dat mens se beroep nie bepaal of jy integriteit het of nie. Ek sou graag ook soos ds Jan aan die “vrugte” wat ek dra herken wil word, m.a.w my leefwyse moet dit weerspieël.

    Vir ek en my man gaan dit óók lankal nie meer net om die diere wat ons sien as ons Wildtuin toe gaan nie. Ons kuiers daar is ook gewoonlik die tye wat ons die lekkerste diep dinge met mekaar gesels terwyl ons ry. 🙂

  2. Attie, jammer ek was lanklaas hier. Waarheen is jy beroep?

  3. Ag hoe verlang ek nou wildtuin en huistoe.

    Stem saam met Thea dat ek ook aan my “vrugte” herken sal wil word veral hier in die land waar Christene maar 2% van die bevolking uitmaak.

  4. Thea en Sandra: WIldtuin is altytd ‘n fees. Ons sal nooit alles wees wat o9ns moontlik kan wees nie, maar dit beteken nie dat ons moet ophou omm in die regte rigting te beweeg nie.
    Bertus: Ek is na Waverley gemeente in Pretoria beroep. Moenie bekommerd wees nie, ek was self lanklaas hier.

  5. Dagse Attie

    Baie waar woorde. Dankie vir die nuwe kyk na die Vrug van die Gees. Geniet julle tyd met verlof en sterkte met die verandering van omgewing en nuwe Gemeente.

    Groete

  6. Pieter

    Ai, ai Doom, ek is een wat kan se dat ek integriteit by Doom geleer het deur jou as mens maar ook deur jou predeking. Veral deur jou eerlikheid en ook deur jou verhoudings met mense na aan jou. Ek is ook nog nie waar ek moet wees nie maar ek is nie meer waar ek was jare terug toe ek onder jou prediking en lering gelei is nie. Jy was en is vir my ‘n voorbeeld van integriteit. Ek gaan jou mis !

  7. Andrew

    Attie: ek verstaan jou sin vir verantwoordelikheid. Lankaal wou ek ‘n persoonslike nommerplaat op my voortuig gehad het, “Atheism”, maar het daarteen besluit omdat ek soos die blits ry en het gedink dit sal nie die regte indruk skep nie. Indien daar kompetisie is tussen gelowiges en ongelowiges om ‘n morele voorbeeld te wees vir die samelewing dan se^ ek goed so. Die samelewing as geheel sal in die langduur daardeur baat en hopelik sal dit kort voor lank die norm wees.

  8. White Knight: Dankie…
    Pieter: Wat sal ek se: Kom ons gee aan die Here al die eer.

  9. Andrew: Ek dink nie daar hoef ‘n kompetisie vir morele morele voorbeeld te wees nie. Nie een van die twee het ‘n alleen mandaat of verantwoordelikheid om ‘n morele voorbeeld te wees nie. Elke mens kan deur integriteit daartoe bydra om van die wereld ‘n beter plek te maak.

  10. skoenlappr

    Hi Attie

    Ek het ‘n vragie (weet nie of dit juis betrekking het op jou inskrywing nie, maar dit gaan oor integriteit).

    Hoe hanteer ‘n mens die volgende mense:

    Hulle loop met die Bybel onder die arm rond, daar word elke Woensdag selgroep gehou by hul huis. Maar by elke geleentheid wat hul kry, beskinder hulle mense, kraak hulle mense af, praat sleg van ander. Selfs die selgroep se mense loop deur!

    Ek kan dit eenvoudig nie meer hanteer nie!! Konfronteer ‘n mens sulke mense? Of los jy hulle uit en laat hulle maar begaan?

    Groete

  11. Was Sondag daar, het ‘n koeldrank bottel langs die pad gesien!

  12. Attie, ek hoop jy geniet Pretoria. Ek is nie seker waar Waverley is nie, maar daar is baie mooi dele aan die stad.

  13. ding

    Dagsê Doom

    Doom, wanneer doen ons daai koffieding? Smaak vir Ouding ons sal maar ‘n oggendstappie voor koffie moet uitstel tot die Jakarandas blom – Ouding klap vlerke en versamel spoedboetes. Maar ‘n vieruurtjie kan werk net wanneer die Doom so spreek.

    Grondgroete
    D

  14. Skoenlapper: Ai, jong ek weet ook nie altyd mooi hoe om daardie ding te hanteer nie. Ek was gister in ‘n geselskap waar ons oor iemand gepraat het, en een van die mense het net gese: Julle som die persoon verkeerd op. Almal het onmiddelik begin om anders te praat. Dalk is dit ;n moontlikheid.
    Bertus: Waverley is wanneer jy van Pietersburg se kant af regs af draai van die Stormvoel afrit af. Ek weet nie regtig hoe om dit anders te verduidelik nie.
    Boervrou: Skuuks, man, verduidelik bietjie van die koeldrankbottel.
    Ding: Ons gaan daardie ding doen. Ek gaan laat weet.

  15. Iemand het ‘n bottel by hul voertuig uitgegooi langs die pad. Dis terrible, wie sal ‘n koeldrank bottel in die wiltuin uitgooi?

  16. O ek verstaan. Ons was ook nogal geskok oor sulke dinge. Hoekom sal mens wildtuin toe gaan om in die natuur te wees en dan die natuur opmors. Sommige mense????

  17. Attie, mag ek vra wanneer jou eerste (of volgende) preekbeurt in Waverley is? Ek sou nogal graag wou kom luister – maar ek gaan net na oggenddienste want ek hou nie van aanddienste nie – bands is vir my te onstigtelik.

  18. Bertus: Sondag was my intreepreek, maar ek preek eerskomende Sondag weer (08:30). Die kerk is in Cunningham laan. Van die stad af links af van die snelweg by Stormvoel. Reguit aan tot by die sirkel, draai berg se kant toe uit sie sirkel (Fry straat) Hou aan tot by Cunninghamlaan, draai links in Cunningham hou aan totdat jy die kerk aan jou linkerkant sien. Sien jou graag. Kom skud blad na die tyd.

  19. Henry

    Integriteit – hoe skiet ons tog nie dikwels daarvan kort nie?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s