‘n Gesin rondom ‘n etenstafel is ‘n prentjie van verhoudings binne ‘n gesin. Ouers en broers en susters wat saam eet en saam gesels oor die dinge wat die gesin en elkeen binne die gesin raak. Mense wat vir mekaar gegee is om mekaar te ondersteun en lief te hê en te help groei.
Maar, die etenstafel het nie vir almal positiewe herinneringe nie. In plaas daarvan dat die etenstafel ‘n plek was om ontspanne in liefde en omgee saam te eet, onthou ons seerkry; skerp woorde wat soos sweepslae op ‘n kaal rug geval het, toe ons simpatie verwag het; oordeel toe ons vergifnis verwag het; aggressie toe ons troos verwag het; verwerping toe ons aanvaarding gesoek het; vloek toe ons verstaan wou hê.
Sommige van ons onthou etenstafels (of dan verhouding of verhoudings) as ‘n tyd toe wonde toegedien is, wond op wond, soms ‘n nuwe wond op ‘n rou en bloeiende wond.
Met die verloop van tyd het ons besef dat ons ons self op een of ander manier moes beskerm. Terugveg en terugslaan was nie ‘n oplossing nie, want dit sal net ‘n volgende sarsie houe tot gevolg hê. Die enigste oplossing was om met die verloop van tyd het ons ons self al hoe verder weggestoot van die tafel af en al hoe meer geïsoleer te lewe. Ons het mure rondom ons gebou, sterk slotte aangesit en die sleutel weggegooi, want seermaak verhoudings maak volgende verhoudings al hoe moeiliker tot op die punt waar ons nie meer in verhoudings kan of wil waag nie.
Binne in die selfgemaakte tronk het ons gelewe en het ons begin om na mense deur die tralies te kyk en ons het hulle toegelaat om aan ons hande te raak so ver as wat ons hande deur die tralies kon steek, en ons het hulle toegelaat om aan ons te raak so ver as wat hulle hulle arms deur die tralies kon steek, maar altyd gereed om weg te staan en aanraking te vermy as dit nodig is.
Koning Dawid het gesê dat die Here vir hom ‘n etenstafel met ‘n feesmaal voorberei waar sy vyande moet toekyk en beleef hoe goed God vir hom is en dat God se goedheid hulle vyandskap byna ‘n nietigheid maak.
God het vir my ook ‘n etenstafel voorberei waar dit nie vir my saak maak of my vyande toekyk nie, want al wat saak maak, is dat Hy ook daar is en dat Hy my sien. Aan daardie tafel hoor ek woorde van groei en opbou en verstaan en vergifnis en liefde en ondersteuning. Aan daardie tafel kan ek kom aansit en die wonde van die vorige tafels toelaat om teen my eie pas te genees. Aan daardie tafel word die vyandskap van mense byna ‘n nietigheid.
Wanneer jy hoor dat dit in een of ander gemeente weer nagmaal is, gaan sit aan by God se tafel waar God die Vader aan die kop van daardie tafel sit en rondom die tafel is ander gewonde kinders, jou broers en susters in geloof.
Nagmaal – God se tafel vir gewondes.
“… en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.” (Pslam 23:6b)
Ding, ek dink ook soos jy dink.
Deur sy genade mag ek ook aansit by die Vader se etenstafel.