Ek glo in God. Ek glo dat God ons gemaak het om in ‘n verhouding met Hom te lewe, en dat hierdie verhouding ‘n verhouding van wedersydse liefde is, waar ek deur my gehoorsaamheid my liefde vir God wys en dat ek God se liefde op verskillende tye op verskillende plekke in my lewe beleef.
Is “detail” vir God belangrik?
Is die fyner besonderhede van my lewe vir God belangrik?
Ek worstel eintlik met hierdie vraag, maar dalk is dit nie nodig nie. Hoe belangrik is die kleiner dingetjies in ons lewens vir God? Sien ons God dalk op plekke waar ons Hom nie behoort te sien nie?
Bv. My dogter het aansoek gedoen vir Universiteit en ook vir ‘n plek in drie koshuise van haar keuse. Toe die vorms kom, toe het sy nie een van haar keuses vir ‘n koshuis gekry nie. My kind se hart was gebreek, dalk onnodig, maar steeds. Ons het toe vir die Here gevra om op een of ander manier uitkoms te gee. Twee weke later is ek by ‘n byeenkoms en die primaria van een van die koshuise word aan my voorgestel, ek verduidelik vir haar die probleem en vra uit hoe die dinge dan nou eintlik werk. Skielik sê sy maar sy het as primaria ook ‘n paar plekke wat sy kan toeken, en binne ‘n paar dae het my kind plek in die koshuis.
Intussen sterf duisende mense elke dag aan vigs.
Ons verhuur ‘n huis, ons kom deur drie stelle huurders wat ons lelik om die bos gelei het. Toe ons weer ‘n advertensie plaas, toe vra ons dat die Here vir ons goeie huurders moet stuur. (Ek kan nie onthou of ons die vorige keer so gebid het nie, maar dit maak nie saak nie.) Een van die eerste mense wat op die advertensie reageer is ‘n vrou en ‘n rukkie later haar man. Uit 36 mense wat belangstel, kies my vrou vir hierdie huurders en is hulle van die beste huurders waarvoor ‘n mens kan vra. Hulle doen verskillende verbeterings aan die huis; versorg die tuin; maak ‘n gebreekte “Wendy” op eie koste reg; ens.
Intussen sterf miljoene mense van honger.
‘n Paartjie se seun is sterwend aan brein kanker. Hulle het hom onlangs wildtuin toe gevat, want dit is sy gunsteling kuier plek. Hulle vra toe vir ons om saam te bid dat hy leeus sal sien. Twee dae later stuur hulle ‘n “sms” wat sê dat hulle nou al meer as ‘n uur sit en kyk na ‘n trop van ses en dertig leeus.Hoekom het die Here ni eerder ons gebed om genesing verhoor nie?
Intussen is daar mense in hierdie bitter koue wat vannag nie ‘n dak oor hulle kop gehad net nie.
Ek het al soveel redenasies gehoor dat God vir sekere mense bv. koshuis keuses of huurders gee of leeus laat sien, terwyl daar baie ander dinge is wat veel meer betekenis kon gehad het, waaraan God eerder sy aandag moes gegee het.
Is hierdie fyner besonderhede van ons lewens vir God belangrik?
Hoe ver kan ons van God verwag om in ons lewens betrokke te wees?
Wat dink jy?
Die rumour het geloop dat Doom se blog weer oop is.
My vraag: Moet God die probleme van klein na groot oplos? Met ander woorde, moet Hy eers al die VIGS lyers gesond maak voordat Hy aan my gebed vir my kind wat swaarkry kan aandag gee?
Welkom terug Doom.
Dankie vir Sondag se preek.
Ek is al deurmekaar oor waarvoor ek kan bid en waarvoor nie. Soos doom Sondag gesê het: Nou bid ek maar liewers: “Seën my gesin en familie en vreinde.”, dan los ek die res maar in God se hande sodat Hy kan besluit wat Hy onder seën verstaan.
Ek vermoed hierdie inkongruensie is hoekom soveel mense twyfel in hulle geloof. Self glo ek alle goeie goedjies is maar “klein” gebaartjies, en daarom juis so kosbaar. En ook doenbaar.
Rampe/hongersnode/siekte bied ons mere mortal beings die geleentheid om uitsonderlik liefdadig te kan optree. En, as ons onze klein (doenbare) aksies loods, saamgesnoer, dan kan ons die grootskaalse probleme netjies bietjies-bietjies in die geheel oplos.
Dalk is die probleem dat ons te selfsugtig bid: ons vra vir gesondheid, promosies en welstand; ons verlos onsself van alle verantwoordelikheid om iets te doen deur te bid goddelike ingryping t.o.v. vigswesies en huislose armes.
Dalk moet ons eerder nie bid dat ‘n god na siekes en armes moet omsien nie; ons moet bid vir insig in en die moed om self barmhartig te wees en die probleem te help oplos. En dan kan ons ook nie net geld gooi na die probleem nie; ons moet bereid wees om ‘n babatjie op te tel en te troos.
Ja, oor leeus het ons waarlik geen beheer nie; en koshuisplek dikwels ook nie, maar siekte en hongersnood en winterkoue is geleenthede vir ons om medemenslik te kan wees; dalk selfs goddelik. En dit nie net weg te bid nie.
In ons verjouding met God, is Hy selfs in die kleinste detail betrokke, glo ek. Dit is sy karakter, want jy word nie net sy “kind” genoem nie, maar ook sy “vriend”. Daarom is hy daagliks betrokke. Die ander kant van die munt is dat ons dankbaar moet bly vir al hierdie klein dingetjies. Telkens as ons op ons lewens terugkyk, kan ons God se hand daarin sien, al het ons nie op daardie spesifieke oomblik in tyd God se teenwoordigheid beleef nie.
mnr.muller: Jy laat my wonder of God nie dalk by die klein dingetjies in ons lewens betrokke kan wees sodat Hy deur ons die groter dinge kan aanspreek. Soos daardie primaria ‘n antwoord op ons gebed vir ons dogter was, kan ek die antwoord op iemand anders se gebed vir kos wees.
BiB: Ons verhouding met God laat my baie wonder… as die klein dingetjies in my verhouding met my vrou vir my belangrik is, hoekom sal die klein dingetjies nie vir God belangrik wees in ons verhouding nie?
Ek stem.
Doom het self ook al gepreek dat ons moet bid vir wat onmoontlik is en self doen wat moontlik is, soos wat die Mnr. hierbo sê moet ons die dinge aanpak wat vir ons moontlik is en die ander in dinge (selfs Ding ook) in God se hande los. Ek stem saam met Boer dat daardie klein dingetjies ook is deur in verhouding met Hom te lewe. Hy wil ons ook gelukkig sien en gee/skenk vir ons ook die klein dingetjies. As ons in Sy wil lewe sal ons ook in Sy guns geniet en ontvang.
Pieter: Ek glo dat ons moet bid asof alles van God af hang en dan moet werk en doen asof alles van my afhang, terwyl die een nooit die ander een uitsluit nie. Ek moenie op ‘n stadium kom waar ek werk en nie meer bid nie, en ook nie op ‘n punt waar ek bid en nie meer werk nie.
Daar kom tog sekerlik ook daardie dinge waaraan ek niks kan doen nie, waar ek maar net moet laat staan en nooit ophou bid nie. Somtyds is dit omstandighede, ander kere is omdat ek nie meer kan nie.
Onseker: Partykeer doen ek alles wat ek moontlik kan doen deur net aan God vas te hou.
My comment wou nie by “God is in detail” werk nie en hierdie onderwerp sluit baie nou daarby aan. Ek verstaan nie altyd waar en hoekom dinge gebeur nie, maar ek’s ‘n detail mens en dis baie lekker om Sy detail in my lewe te sien en hoe Hy dinge in plek laat val met klein en groot dingetjies