Ek lees Genesis 32, daardie baie bekende gedeelte oor Jakob by die Jabbok toe hy oppad is om sy broer Esau, wat hy by meer as een geleentheid lelik om die bos gelei het, te “face”.
In die Jabbok is hy doodsbenoud, hy het alles moontlik probeer, maar Esau is met 400 man op pad na hom toe. Jakob bid alleen en hy bid ‘n baie besondere gebed wat, as een van baie, gebruik kan word om gebed ‘n bapaalde struktuur te gee.
Daar is egter iets in die gebed wat my opgeval het en waaroor ek lank gedink het, en nog steeds dink.
Wanneer Jakob besig is om te bid dat God sal ingryp in sy ontmoeting met sy broer, kyk hy terug op sy lewe en verwys na die besondere manier waarop die Here in sy lewe aan die werk was.
Hy verwys dan na die omstandighede 20 jaar voor hierdie gebeure toe hy van Esau af weggevlug het om by Laban te gaan wegkruip. Jakob onthou dat hy destyds net ‘n kierie gehad het, maar dat hy nou geweldig baie rykdom en besittings het.
Die woorde het my laat dink aan dankbaarheid.
Wanneer ek vir die Here wil dankie sê, dan soek ek meestal na iets wat op hierdie stadioum in my lewe aan die gebeur is waarvoor ek kan dankie sê.
Nadat ek Genesis 32 gelees het, het ek in my eie lewe teruggekyk en vir myself gevra waarvoor ek vir die Here kan dankie sê wat in die laaste vyf, tien of selfs vyftien jaar gebeur het.
Ek kon vir die Here dankie sê vir die wonderlike vrou wat vyftien jaar gelede in my lewe gekom het en my vandag nog steeds baie gelukkig maak.
Ek kon vir die Here dankie sê vir my oudste dogter wat eintlik dood moes gewees het, maar wat vandag nog lewe.
Ek kon dankie sê vir my seun wat deur die Universiteit is en die feit dat ons bitter min skuld moes maak om hom te laat studeer.
Daar is nog soveel ander dinge waarvoor ek in die laaste paar dae vir die Here kon dankie sê.
Die belangrike wat ek leer is: Op die korttermyn, sukkel ek soms om dinge te kry waarvoor ek dankbaar kan wees, maar oor ‘n langer termyn, is daar meeste van die kere meer dinge waarvoor ons vir die Here dankie kan sê.
Skielik kyk ek heeltemal ander na dankbaarheid… en na die Here se teenwoordigheid in my lewe.
Doom, welkom terug, wou al gister hier ietsie los maar kon nie.
Ek besef vandag hoeveel goed ek het om oor dankbaar te wees. Dankie!!
Zee: Ek was so lanklaas hier, dat ek bietjie vergeet het hoe die “blog” se binnegoed werk. EK voel klaar welkom, ek het vergeet hoe lekker hierdie vorm van kommunikasie is.