Ek hoor dikwels die opmerking dat godsdiens net ‘n kruk is. Daarmee word bedoel dat mense wat swaar kry godsdiens gebruik om hulle swaarkry en ellende en gebrokenheid meer verdraagsaam te maak in die hoop dat dit in die hiernamaals wel sin sal maak en dat daar ‘n beter lewe op hulle wag. Karl Marx het godsdiens die opium van die volk genoem omdat dit mense verblind het en verhoed het dat hulle in opstand kom teen hulle omstandighede.
Wikipedia skryf hieroor soos volg:
The struggle against religion is, therefore, indirectly the struggle against that world whose spiritual aroma is religion. Religious suffering is, at one and the same time, the expression of real suffering and a protest against real suffering. Religion is the sigh of the oppressed creature, the heart of a heartless world, and the soul of soulless conditions. It is the opium of the people.
As ek reg is, het Freud godsdiens verduidelik as iets wat deur mense gebruik word wat te lui is om vir hulleself te dink en daarom staat maak op vooraf verwerkte filosofie, moraliteit en instruksies vir die daaglikse lewe.
Met ander woorde, die beskuldiging dat godsdiens ‘n kruk is bestaan en is nie nuut nie.
Ons sou nie kon redeneer asof godsdiens en dan in besonder ons geloof in God nie as ‘n kruk dien nie. Daar is egter baie gelowige mense wat in baie moeilike omstandighede leef as gevolg van armoede of siekte of lyding. Sulke mense draai inderdaad na hulle geloof as vertroosting en bemoediging. En daar is baie mense wat graag wil hê dat daar iemand sal wees wat hulle sal help om die regte besluite te neem sodat hulle lewe meer sinvol en gelukkig kan wees en dan word godsdiens vir sulke mense ‘n seker fondament waarop hulle hulle lewens kan bou.
Godsdiens word ‘n ongesonde kruk wanneer dit verkeerd gebruik. So is godsdienstige ekstremiste ‘n voorbeeld van hoe mense deur godsdienstige leiers gemanipuleer kan word en misbruik kan word tot op die punt waar die mense dinge doen wat hulle onder ander omstandighede nie sou gedoen het nie. Ander kere word godsdiens gebruik om die onderdrukte stil te hou en die militantes gehoorsaam te hou.
Maar… godsdiens is ook baie meer as ‘n kruk. Godsdiens kan gebruik word vir persoonlike groei en integriteit en dit kan ook daartoe bydra dat mense in hulle nood gehelp word. Maar, kan dit wees dat godsdiens selfs meer as dit kan wees? Kan dit wees dat godsdiens selfs ‘n noodsaaklike element van die lewe word?
Indien iemand glo dat…
… daar ‘n liefdevolle God is wat ons gemaak het, wat vir ons omgee en wil hê dat ons gelukkig moet wees;
… liefde en waarheid die belangrikste bydra is wat gemaak kan word tot ‘n gemeenskap van liefde en geluk;
… om nader aan God te beweeg en om terselfdertyd te groei in liefde en waarheid dieselfde ding is,
dan besef ‘n mens dat godsdiens meer is as net ‘n kruk, dit is die regte weg. Dan word godsdiens die vlerke waarmee ons vlieg sodat ons alles kan wees wat God bedoel het ons moet wees.
Die vertrekpunt moet wees: “Glo jy dat daar ‘n liefdevolle God is wat ons gemaak het en wat bedoel het dat ons gelukkig moet wees?
‘n Kruk is bedoel om ‘n kreupel persoon te help om te loop. Die ergste wat met ‘n kreupel persoon kan gebeur is dat hy geen kruk sal hê nie. Ek sal die eerste een wees om te sê dat wat my geloof aan betref ek kreupel is en dat ek kruk nodig het.
Waarheen sal ek gaan as ek nie my geloof in God het nie?
Ek is die eerste om te erken dat my geloof ‘n kruk is. Maar tog ‘n beter kruk as dwelms, drank, geld, seks, narcisme, kos of baie ander vorm van krukke. Ek dink nie daar is eintlik mense wat krukloos kan lewe nie, al dink hulle dalk hulle leef krukloos.
Attie uit wat jy skryf kry ek die beeld dat geloof nie ‘n kruk is nie maar vlerke. Ek hou van die beeld.
Wanneer mense Christenskap beskuldig daarvan dat dit net ‘n kruk is dan tref dit my dat so beskuldiging die aanname maak dat daar geen God is nie. Hoe kan mens in die aangesig van God wil beweer dat geloof in God bloot ‘n kruk is?
Wat die manupilasie van mense betref, dink ek, aangesien Christenskap heel eerste van alles ‘n persoonlike verhouding met God is, behoort ‘n Christen nie so vatbaar te wees vir sulke manipulasie nie, want enigiets wat iemand anders in jou kop probeer inprent is ondergeskik aan wat die Hielige Gees vir jou in jou hart influister.