zimbabwe in hierdie tye

Ds. Piet van Vuuren van Zimbabwe gaan van 15-18 Februarie ‘n toewydingsweek in ons gemeente aanbied. Hy gaan vertel hoe dit in Zimbabwe gaan en hoe hulle as Christene in hulle geloof staand bly. Hy skryf hierdie week vir my hierdie stukkie:

GOEIE NUUS EN SLEGTE NUUS

Peter Godwin se boek “Mukiwa” beskryf sy kinderdae in wat toe nog Rhodesië was. Dis ‘n storie wat my met heimwee laat terugdink na die goeie dinge wat ek self van daardie era kon meemaak. “Mukiwa” beteken “witman”.

Deel van daardie “goeie ou dae” was vakansies op my skoonouers se plaas. Van die oomblik wanneer jy van die grootpad afdraai, afsak na die driffie in die bloekom bos en dan tussen die tabaklande met hulle hoë kontoerwalle opry na die plaashuis waar die honde en die familie jou altyd met groot vreugde verwelkom, is jy in ‘n ander wêreld. Van soggens sonop wanneer die klok slaan om die werkers te roep, tot saans laat wanneer almal klaar hulle beurt in die badkamer gehad het, is daar gelag en gekuier, tennis gespeel op die klei baan, gestap en koppies geklim, perd gery, geswem, op vaste tye geëet en tee gedrink, kaart gespeel, naaldwerk gedoen, of sommer net ontspan met ‘n boek. Daar was gewoonlik baie van ons. Die ou plaashuis het baie kamers gehad, maar met die aanwas van kleinkinders moes daar soms nog ‘n tent opgeslaan word om vir almal ‘n lê-plek te kry. Onvergeetlike, heerlike tye.

My vrou sukkel nou om Peter Godwin se opvolg-boek klaar gelees te kry. “When a crocodile eats the sun” vertel die storie van die afgelope klompie jare se gewelddadige plaas-onteienings. Dis vir haar swaar om te lees van die goed wat so na aan ons is, want dit roep weer al die baie gevoelens van angs en onsekerheid, van woede en frustrasie op; die ongeloof oor die blatante onreg wat gepleeg is vir politieke self-behoud. Die familieplaas is in al kleiner stukkies opgesny, die nuwe eienaars het begin intrek en probeer boer, soms net tot groot vreugde van die inwoners van die bobbejaankop, haar ma – diep in die sewentig – is gearresteer, en uiteindelik is die laaste stukkie grond ook weggevat sonder kompensasie. Al wat ons oorhet, is ‘n skildery van die ou plaashuis en die goeie herinneringe van die wonderlike tye wat ons daar kon deurbring.

Ek lees vandag ‘n beriggie oor navorsing wat wys dat mense wat baie lang ure televisie kyk en video-speletjies speel meer geneig is om aan depressie te lei. Al die slegte nuus en swak rolmodelle het ‘n impak. Dit neem mens natuurlik ook weg van gesonde sosialisering en fisiese aktiwiteite. Dan is dit dalk glad nie so sleg om soms volstruis-politiek te beoefen nie: om te sê ek wil nie die koerante lees en televisie-nuus hoor nie, want ek is moeg van al die slegte nuus. Ek moet nou hierdie boek eers neersit.

My vrou lees baie makliker aan die “Goeie Nuus”. Geen twyfel dat dit ons krag gee en troos en “‘n regte lewenswyse kweek” nie. Dit herinner ons mos ook dat daar in ons Vader se huis baie plek is en dat Sy geregtigheid die laaste woord sal hé.

Wil jy nie vir die mens in Zimbabwe ‘n boodskappie skryf nie?

Advertisements

1 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

One response to “zimbabwe in hierdie tye

  1. Die woede, hartseer en moedeloosheid oor Zim, is nou al binne my uitgewoed. Ek het regtig nie meer woorde of gevoelens oor nie. Ek dink ek het seker maar nou die situasie in Zim aanvaar – amper soos iemand wat vrede gemaak het met ‘n terminale siekte by ‘n geliefde. En dis juis teen hierdie tipe aanvaarding van geweldsmisdaad in SA wat ek myself wil teesit.
    Ek het verlangse familie in Zim aan my Ma se kant (met wie sy nog kontak het) en dit wat ek hoor is soms ysingswekkend en so tragies. Al wat ek vir die lydende burgers van Zim kan se, is dat ek vir hulle bid en hoop dat hulle krag ontvang om die lyding te verduur. Ek kan egter nie se dat ek werklik glo dat die situasie binne die afsienbare toekoms gaan verbeter nie. Afgesien van die feit dat die Zim-situasie voor Bob se deur gele kan word, is dit ook ‘n skreiende refleksie van Suid-Afrika en ander Afrikalande se helder-oordag verraad teen die burgers van Zimbabwe. Die Suid-Afrikaanse regering (en spesifiek die voormalige Mbeki-administrasie) moet hulself skaam!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s