alles net genade

In hierdie tyd wat dit so baie gereën het, het ons die straatkinders dikwels by straathoeke en verkeersligte sien bedel. Met hulle oop handjies het hulle van kar tot kar gestap met die hoop dat die bestuurders hulle sou raaksien, die ruit sou afdraai en een of ander iets in die leë hand sal sit.

Een dag het ek hierdie een seuntjie dopgehou. Al wat die seuntjie kon doen was staan en wag. Tussen hom en die bestuurders op wie hy sy hoop vestig is daar ‘n ruit. Hy sou kon praat, maar die bestuurder sou lippe sien bewe, maar nie hoor wat hy sê nie. Hy sou selfs so stip kon kyk as wat hy wil, maar as die bestuurder gaan maak asof hy niks sien nie, gaan dit hom niks help nie. Hy was uitgelewer aan die genade van die bestuurder. Die enigste manier waarop hy kan kommunikeer, is die leë handjie wat vra om ‘n stukkie genade.

Die meeste van die kere het die handjie leeg gebly.

Markus skryf oor die gebeure toe mense hulle kindertjies na Jesus toe gebring het, daar is selfs ‘n liedjie daaroor. Die dissipels het egter met die mense wat die kindertjies gebring het geraas, maar toe Jesus dit hoor het Hy met die dissipels geraas en die kinders nader geroep.

Die gevolgtrekking wat meestal hieroor gemaak word is dat kindertjies vir Jesus baie belangrik is, en dit is natuurlikwaar, nie net van Jesus nie, maar elke een van ons kom in opstand wanneer kindertjies op een of ander wyse mishandel word.  Maar wanneer ons ‘n bietjie kyk hoe kindertjies in Nuwe Testamentiese tye hanteer en beskou is, is daar ‘n verdere boodskap.

In die tyd van die Nuwe Testament is kindertjies gesien as tweede klas mense. Nie dat ouers nie baie lief was vir hulle kindertjies nie, maar in die gemeenskap is hulle as tweede klas mense hanteer. Ons sien van tyd tot tyd iets van dieselfde in ons eie gemeenskap met uitdrukkings soos: Kinders moet gesien word, en nie gehoor word nie.

Ander sien kindertjies weer as jong volwassenes en die kinders moet so gou as moontlik op ‘n volwasse manier optree. Bv.: As hulle nie kan stilsit in die kerk soos volwassenes doen nie, word hulle uitgevat en dan word daar probeer om die kind uit die kind uit te  slaan.

Jesus se reaksie is anders. Hy verwelkom die kindertjies en omhels hulle selfs. Daarmee dan die boodskap dat daar by Hom nie eerste en tweede klas mense is nie, maar dat almal vir Hom eerste klas is.

Hy gebruik egter hierdie geleentheid om daarop te wys dat mense wat nie die koninkryk van God soos ‘n kindjie ontvang nie, sal nie in die Koninkryk ingaan nie. Wanneer ek aan ‘n kindjie dink, dan dink ek aan swak, hulpeloos, blootgestel en afhanklik. Dit is die gesindheid waarmee ons die Koninkryk van God moet ontvang.

Genade is bedoel vir bedelaarshande. In effek staan ek ook maar net daar bedelend met my handjie bak, as God my nie raaksien en die ruit oopdraai en sy genade in my bedelaarshand sit nie, sal my hand leeg bly en sal ek nie in die koninkryk ingaan nie.

En… ja ek het toe vir hom ‘n geldjie gegee en ‘n appel wat ek in die kar gehad het, toe ek oor die verkeerslig ry, was ‘n groot deel van die appel reeds opgeëet.

2 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

2 responses to “alles net genade

  1. Duusman

    Om ONVOORWAARDELIK te gee is die mens se mooiste moontlike kenmerk.

  2. meermin

    Dit is so hartseer dat soveel klein kinders deesdae bedel vir geld, by Wonderpark is so klein seuntjie met ‘n oranje bekertjies en ek neem aan dit is sy ma, is blind ek gee gewoonlik so ietsie as ek geld op my het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s