hipotetiese geval

Ek kry van tyd tot te doen met jongmense waar die meisie  swanger is en dan moet hulle die groot besluit neem oor of hulle gaan trou of nie. Natuurlik is dit belangrik dat die twee mense self die besluit neem, maar dit is die meeste kere, indien nie elke keer nie, ‘n emosionele  besluit en nie ‘n rasionele of weldeurdagte besluit besluit nie.

Hierdie emosies wat maak dat die rede waarom hulle op die ou end besluit om te trou, wissel. Soms is dit ‘n skuldgevoel. Skuldig teenoor die ander persoon indien ons nie trou nie. Die ander een kan dit dalk as verwerping beleef en dink dat die ander een net in die verhouding was vir die seks. So kan die redes waarom die mense besluit om te trou wêreldwyd van mekaar verskil en kan elke paartjie waarskynlik hulle eie rede hê waarom hulle daarvan oortuig is dat hulle wel behoort te trou.

Ek gaan ‘n hipotetiese geval skep: (Alhoewel daar ooreenkomste is, is van die feite aangepas.)

Sy is negentien jaar oud. Sy was eerste jaar op Universiteit om in ‘n wetenskaplike rigting te studeer. Sy het sonder twyfel die vermoë om die graad te behaal alhoewel sy twee vraestelle nie deurgekom het nie. Haar verduideliking waarom sy nie deurgekom het nie is dat sy baie gesukkel het om aan te pas by die Universiteitslewe. Haar ouers is geskei maar hulle bly nie ver van mekaar af nie, hulle is beide weer getroud en die twee gesinne kom baie goed oor die weg en kuier soms saam en het ook mekaar se tweede troues bygewoon. Haar verhouding met haar ma en haar pa is baie goed, ‘n mens sou selfs kon sê beter as wat die deursnee ouer -kind se verhouding is waar die ouers nie geskei is nie.  Beide ouerpare weet dat sy swanger is.

Hy is ook negentien. Hy is nou in matriek nadat hy Graad 10 moes herhaal. Hy het al verskeie kere by die skool moeilikheid gehad en was onlangs weer in ‘n bakleiery by die skool betrokke wat tot dissiplinêre optrede gelei het.  Sy ma is onlangs oorlede en hy bly by sy oupa en ouma aangesien sy pa niks met hom te doen wil hê nie. Verlede jaar het sy ouma hom vir ‘n tyd lank die huis belet na een van sy eskapades by die skool. Sy oupa weet nog nie dat die meisie swanger is nie. Hy het nog nie duidelik planne wat hy na skool sal gaan doen nie.

Hulle is nou agtien maande saam. Aan die begin van die Universiteits-vakansie het hulle ‘n lekker aandjie saam uit gehad, wat daarop uitgeloop het dat sy swanger is en nou staan hulle voor die reuse besluit of hulle behoort te trou. Hulle het oor die laaste agt maande ‘n seksuele verhouding gehad.

Sy besef dat sy nie sal kan teruggaan universiteit toe nie, maar het reeds besluit dat sy by UNISA gaan inskryf en steeds haar kwalifikasie gaan kry om haar droom te verwesenlik. Hy is gereed om skool te verlaat (Wat hy in elk geval lankal wou doen) en ‘n werk te kry sodat hy vir haar en hulle babatjie kan sorg.

My vraag: Watter raad sou jy onder hierdie omstandighede vir HAAR gee en hoekom juis daardie vraag?

Dalk het jy ‘n soortgelyke ervaring gehad en jy moes ‘n soortgelyke belsuit neem. Hoe voel jy vandag oor daardie besluit en indien jy dink dat jy ‘n ander besluit sou neem as jy kon, hoekom sê jy so?En watter emosie het gemaak dat jy daardie besluit neem?

Ek hoor graag van die ouens wat hier lees.

Advertisements

18 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

18 responses to “hipotetiese geval

  1. Jo-Ann

    My eerste raad sal wees dat sy met haar ouers moet praat – regtig praat – om te bepaal of hulle haar met die kind sal bystaan. En dat sy nie trou nie. Beide van hulle is eenvoudig te jonk en dit kan op ‘n gemors uitloop. Ek sou eerder sien dat hulle voortgaan met hulle verhouding as hulle wil, maar dat hulle eers tyd en ruimte gegun word om klaar groot te word, emosioneel klaar te groei en gevestig raak voordat hulle eens dink aan trou. Sy kan die kind met ‘n goeie ondersteuningsbasis op haar eie grootmaak en sy kan die pa insluit, maar daar is geen groter broeiplek vir ongelukkige kleuterjare as juis daar waar die ouers nog nie gereed was om die kindjie te ontvang nie. Juis omdat beide van hulle nog nie hulle potensiaal ontwikkel het om goed te kan verdien nie, gaan hulle met ‘n finansiële agterstand sit en die gesegde van armoede in by die voordeur en liefde uit by die agterdeur is baie waar. Op hierdie ongelyke speelveld wat hulle met ‘n voortydige huwelik sal betree gaan ‘n kindjie staan wat onder die elende sal ly. Ek weet hulle kan eers trou en steeds deeltyds studeer, maar as ‘n meisie eers vas is met werk, ‘n klein baba en ‘n huishouding, dan bly daar min tyd vir studeer oor en bly dit maklik agterweë. As hy so maklik skool wil opskop, klink dit vir my asof hy regdeur sy lewe van rigting gaan verander…

    Mens se eerste gevoel is dat mens moet trou. Hoekom? Omdat die gemeenskap dit so wil hê of omdat die kerk dit wil hê? Daar moet aan trou nooit ‘n “moet” wees nie. Ds Attie kan bevestig wat die huishoudelike siening van die kerk is in die geval – word sensuur nog toegepas op meisies wat buite die eg swanger raak of word hulle met liefde en begrip ondersteun?

    Goed, dit is duidelik dat my mening meer op die meisie as die seun gemik is. Ek sal daarvan hou om die mening uit ‘n ander hoek te hoor.

    Die belangrikste bly egter om nie besluite te neem voordat al die rolspelers eers regtig met mekaar gesels het en al die opsies op die tafel gesit is nie en, hoe pynlik ookal, al die gevoelens eerlik teenoor mekaar uitgespreek is nie.. Niemand moet ‘n besluit neem omdat hulle gedink het dit is wat iemand anders wou hê nie. Dit is ‘n lewensveranderende gebeurtenis en geen aannames moet gemaak nie. “Ek dog dis wat Pa wou hê” kan die seël op groot ongelukkigheid wees.

  2. Dis ‘n moeilike situasie en ekself het nie so iets ervaar nie, so ek kan nie raad gee nie. Ek dink net dat die feit dat sy swanger is nie genoeg rede is om te trou nie. Mense trou te maklik deesdae en dit loop op baie meer hartseer as enige iets anders uit. Ek sou eerder voorstel dat hulle moet wag met die hele trou-ding en kyk hoe draai dinge uit. Ja, mens wil he jou kind moet in ‘n heel huis grootword, maar ek dink mens rig meer skade aan as jou kind in ‘n huis grootword waar daar heeltyd ‘n bakleiery is en geen liefde. Dis natuurlik ook nie te se dat dit is hoe dit gaan uitdraai indien hulle sou trou nie. Ek dink net nie ek sou trou net omdat ek swanger is nie.

  3. Duusman

    My probleem is dat met konsepte soos “trou” sekere vooropgestelde idees kom. Trou klink kerklik, maar is eintlik geregtelik. Trou klink soos “man sorg vir vrou”= onafhanklikheid. Trou klink soos “regmaak” vir dit wat ander as verkeerd sien.

    Jou voorbeeld: Is hulle lief vir mekaar? Indien wel, hoekom kan die meisie en die ou nie presies dieselde doen, as wat hulle(en hul ouers) beplan het om te doen nie- bv verdere studie. Getroud of nie , hulle ondersteuningstrukture(ouer-hulp) kan net so in plek bly.

    So hulle so skei oor (hipoteties) 5 jaar, beteken dit noodwendig dat hulle hele huwelik ‘n mislukking was of was daar ook goed daar in?

  4. Jo-ann: Ons plaas nie meer sulke mense onder sensuur nie. Ons sien ons rol eerder as begeleiding ten einde op ‘n punt te kom waar die belange van al die partye in ag geneem word.
    kaalvoetinireen: Jy is reg, twee mense wat getroud is waarborg nie ‘b gelukkige gesin nie.
    Duusman: Alhoewel troue ‘n geregtelike element het, sien die meeste mense wie ek trou die geregtelike deel as ‘n bysaak, maar stel hulle eerder daarin belang om met die huwelik in die teenwoordigheid van die Here te begin.

  5. Duusman

    Ds Attie- het hulle dan nie alreeds nie?

  6. duusman: Daar is ‘n verskil tussen seks tussen twee mense en om te trou. ‘n Instemming om seks te hê is op geen manier ‘n wedersydse belofte van trou nie.

  7. Plek in die son

    Ek het getrou toe ek 19 was, ek was nie swanger nie maar het kort daarna swanger geraak. Dit was die grootste fout van my lewe wat ek gemaak het om so jonk te trou. Op daardie stadium het dit vir na n uitkoms gelyk om weg te kom van my omstandighede en “happily ever after” saam die man vir wie ek baie lief was te leef.

    Alhoewel ek en die man met wie ek getrou het, mekaar al 2 jaar geken het, sou ek nooit kon droom dat, ons mekaar eintlik glad nie ken nie. Respek was een van die eerste goed wat by die deur uitgestap het, daarna kon dit wat oorbly nie hou nie. Ten spyte van alles, was ons 10 jaar lank getroud voor ons geskei het en dit was 10 jaar van bitter ongelukkigheid waar my kinders die swaarste gekry het.

    Ek het geen ondervinding van die lewe gehad nie en het nie die kans gekry om my drome te vervul nie. Skielik moes ek hierdie rol van n volwasse getroude vrou speel, en my eie identiteit is onderdruk.

    My raad sal wees, vind eers jouself en jou plek in die lewe. Daar bestaan nie so iets soos moet trou nie. Daar is net so iets soos keuses, en die die keuse vir die volgende moontlike 60 jaar dink ek nie moet op 19 gedoen word nie. Gee jouself die geleentheid om jou eie plek en identiteit te vind.

  8. Ek was nog nie self getroud, swanger of in ‘n verhouding nie.

    As ek die meisie was, sou baie afgehang het van my ouers se ondersteuning. Ideaal sal wees dat sy met haar studie kan voortgaan, aan ‘n universiteit soos voordat sy swanger geraak het. Die pa en groot ouers kan na die baba kyk terwyl sy klasdraf. Sy sal seker net eers ‘n semester/jaar moet afvat om die kraam en eerste paar maande net uit die pad te kry.

    Trou is beslis die laaste ding wat sy moet doen. Hoe lank sal die pa hulle kan ondersteun sonder enige verdere geleerdheid. Sy soek dalk nou na ‘n “bad boy”, maar oor ‘n jaar of 5 soek sy standvastigheid. Gaan hy nog steeds daardie behoeftes kan vervul? Sy moet nou groot word, maar hy kan kop uittrek as dinge te veel raak.

  9. tanzie

    Ek sou dink dat dit belangrik is dat sy haar eie besluit neem. Dit is die enigste manier waarop dat nie verwyte gaan wees nie. En dan sou ek se die Ma & Pa en beide gesinne sal saammet haar moet bid vir leiding in die besluit. Ek het nog nooit gedink dit kan nodig wees om te moet trou nie, en daaruit kan mooi en moeilik kom. Maar die enigste ding wt ek verseker weet is dat daar die pragtigste beloftes opgesluit le in Die Woord vir die wat daarin glo, en dus sal die beste besluite geneem kan word met die hulp van Ons Wonderlike Vader wat vir ons liewer het as wat ons selfs kan dink. Maak almal van ons nie elke dag maar foute nie … soms met langtermyn gevolge. Vinnige oplossings en donker besluite het ek wel al geleer is nie regtig ‘n oplossing nie. Soms klink dit soos ‘n moeiliker pad maar glo my as babatjie die eerste keer skop of glimlag of … ja selfs huil – dan groei die rose op daardie moeilike pad. Help haar om die mooi te sien in hierdie moeilike situasie. God sal voorsien … selfs ‘n antwoord op die trouvraag. Ons moet leer om te vertrou. Jeremiah 5:19 Cleanse your own heart from unworthy and unwarranted suspicions concerning Gods faithfulness. GOD IS FAITHFUL Miskien moet ons net ons lee bedelaarshandjie hou soos Ds se blog vandag se

  10. Attie, ek het nie antwoorde nie, maar wil almal darem net daaraan herinner dat huwelike vroeër jare baie vroeër gesluit is. Ek weet natuurlik niks van daai tyd nie, en kritiek sou daarteen kon ingebring word. Maar vroeg trou het nie gemaak dat ons oupas nie respek vir ons oumas gehad het nie! Die probleem lê baie diep dink ek… en ek weet nie waar nie.

    Maar elkgeval, raad vir die girl… nie veel nie, ek het wel raad vir haar ouers. Ek hoop hulle sal seker maak dat haar omstandighede so is (versorging van die kind, geld ens) dat sy nie moet trou nie. Maak dit vir haar moontlik om nie te moet trou nie. Sou sy dan nog steeds wou… dan is dit haar besluit, maar moet nie dan minder doen vir haar as wat julle sou nie.

  11. Duusman

    “Daar is ‘n verskil tussen seks tussen twee mense en om te trou. ‘n Instemming om seks te hê is op geen manier ‘n wedersydse belofte van trou nie.”– Ons is nog by die hipotetiese voorbeeld?

    Geen liefde= sê cheers aan mekaar. Liefde= getroud in ‘n christelike God se oe( met alle respek niemand het ‘n dominee of enige iemand anders nodig om hul huwelik te kanoniseer nie.

  12. 20ger

    cobus: my ouers is redelik vroeg getroud en hulle is vandag nog saam en baie gelukkig getroud, maar in die tyd toe hulle getroud is het hulle “loopbane” na matriek begin. ‘n Baie kleiner persentasie het verder gaan studeer. In die Bybel se tye was dit soveel te meer die geval. Vandag begin mense se loopbane op ‘n baie later stadium en daarom trou mense later. Daarom dink ek nie kan ‘n mens die sprong maak na vandag se omstandighede nie.

  13. wilna

    duusman: Ek is in die kerk getroud. Dit was my keuse en ek wou graag in die teenwoordigheid van die Here en voor die mense wat vir my belangrik is ‘n huweliksbelofte aan my man maak. Ek weet hy voel dieselfde. Die deit dat mense voor die landdros trou, en dikwels ook mooi en goeie huwelikke het maak natuurlik jou stelling waar. Die dominee wat ons getrou het het ‘n paar gesprekke met ons gehad en ons gehelp om mekaar beter te ken en te verstaan en bewus te maak van die eise wat die huwelik aan ons stel. Ek dink weer ‘n predikant kan ‘n baie belangrike rol speel in die bevestiging van ‘n huewlik – ek dink darem jou “kanoniseer van ‘n huwelik” is bietjie skerp.

  14. Duusman

    Beste Wilna- jou keuse is net dit- jou keuse. Hierdie is ‘n hipotetiese geval ,waar ‘n bree beginsel bespreek word. Natuurlik is daar mooi en skoonheid in die kerkseremonie, natuurlik het sekere paartjies begelyding nodig. Maar is jy minder “getroud” as jy nie die staatlike protokol volg nie? Het gelowiges ‘n middelganger nodig om ‘n belofte aan God te maak?

    Dit is vir my interessant dat die protestante, wat die hardste baklei het om die kerklike middelganger tussen God en gelowige uit te sny, die meeste vas klou aan staatlike seremoniele mag.

  15. Wilna

    Duusman: Nee, gelowiges het nie ‘n tussenganger nodig om ‘n belofte aan God te maak. Die huwelikseremonie is ‘n simboliese herhaling van wat in die Paradys gebeur het. Die kwessie oor minder getroud as die staatlike protokol nie gevolg word nie, moet jy dalk vir die staat vra. Gelowiges sien hulleself eers as getroud wanneer hulle in die “teenwoordigheid” en voor die Here hulle beloftes afgelê het. Die predikant by die seremonie gaan nie oor ‘n tussenganger nie. Die paartjie maak hulle belofte aan die Here en nie aan die dominee of deur die dominee. Die dominee “fasiliteer” die geleentheid waar die paartjie die beloftes aan die Here maak. Die kerk plaas ook lankal nie meer mense wat saamwoon onder sensuur nie, maar doen hulle bes om hulle te begelei om te trou, en as hulle nie trou nie dan laat hulle dit daar sonder om daarmee te sê dat hulle die saamwoon goedkeur. Verdraagsaamheid noem ons dit.

  16. Getroude in die kerk

    Duusman: Die optrede van ‘n geestelike leier by ‘n huwelik het sy oorsprong in Ou Testamentiese tye – In Levitikus 21 word ‘n priester reeds verbied om ‘n Jood en ‘n nie Jood met mekaar te trou. Christene ontleen hulle gebruike aan die Bybel.
    Alhoewel die Hervormers inderdaad in opstand gekom het teen die Pous as “tussenganger” tussen mens en God, is daar geen ooreenkomste tussen die “tussenganger” rol in die Rooms Kerk en die rol wat ‘n leraar vandag by ‘n huwelik speel nie.

  17. Ek het al by ‘n vorige geleentheid geskryf oor saamwoon en ook oor die redes waarom saamwoon voor die huwelik nie goed dis vir enige verhouding nie, asook die redes waarom mense dit as aanvaarbaar sou vind.

  18. tanzie

    Jer 6:16 Stand @ the crossroads and look ask for the ancient paths ask where the good way is and walk in it, and you will find rest for you souls NOG ‘N BELOFTE VAN GOD

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s