‘n Paar dae gelede het ek geskryf oor die gedagte dat ons vir mekaar gemaak is, met ander woorde God het ons gemaak om in verhoudings te leef. Die woordjie intiem beskryf iets van hoe naby ‘n verhouding is. Ek het die beste en die mees intieme verhouding met my vrou.
God het ons heel eerste vir Homself gemaak, om in ‘n verhouding wat groei in intimiteit met Hom te leef. In die begin was daar intimiteit wat in Genesis uitgedruk word met die gedagte dat God in die tuin gewandel het waar die mens gewoon het en dat God verwag het om die mens daar te kry. Maar, die sondeval het God se skeppingsdoel in die wiele gery. Deur Jesus Christus se sterwe en opstanding en deur die uitstorting van die Heilige Gees, is God besig om daardie intimiteit te herstel en ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde tot stand te bring.
Nou kan elke mens in ‘n verhouding van groeiende intimiteit met God leef. Dit is my hartsbegeerte om in so ‘n intieme verhouding as moontlik met God te leef. As ‘n mens deurlopend moet bly werk aan jou verhouding met mense, dan is dit soveel meer waar van jou verhouding met God. Die oomblik wanneer my verhouding met God nie die hoogste prioriteit in my lewe is nie, kwyn die intimiteit.
Die volgende paar dinge help my om te werk aan ‘n intieme verhouding met die Here.
1. Die gewilligheid om te gehoorsaam.
Daar is sekere dinge wat ek nie doen nie, omdat ek daarvan oortuig is dat dit die intimiteit van my verhouding met God versteur. Dit het niks daarmee te make dat ek dink die Here gaan my straf daaroor nie, dit beteken net dat ‘n intieme verhouding met God vir my belangriker is.
Ander dinge doen ek weer omdat dit my intieme verhouding met die Here bevorder. Hoe besluit ek watter dinge die intimiteit sal bevorder en watter nie? Dit begin vir my by die Bybel.
2. Die Bybel.
In die Bybel leer ek hoe God wil hê dat ek moet lewe. My verhouding met die Here groei in intimiteit wanneer ek dit wat die Here in die Bybel van my verwag doen. Die Here verwag van my om nie te steel nie; die Here verwag van my om nie leuens te vertel nie; die Here verwag van my om nie te begeer nie. Gaan Hy my straf as ek enige een van daardie dinge doen? Natuurlik nie, maar ek sal met die gevolge van die dinge wat ek gedoen het moet saamleef. As ek rondloop en die hele tyd ander vrouens begeer en na naak fotos kyk, dan moet ek nie eendag wonder waarom my huwelik nie gewerk het nie.
Maar, ek moet ook nie wonder waarom my verhouding met God oppervlakkig is nie.
3. Leerbaar.
Dit is vir my baie moeilik om by ander mense te leer. Sekere mense is nie vir my ‘n probleem nie, maar ek is daarvan oortuig dat daar sekere mens is wat my niks kan leer nie en by wie ek ook niks sou wou leer nie. Maar, as ek bereid is om te aanvaar dat die Here enige mens kan gebruik om my iets te leer, dan luister ek en dan is ek dikwels verbaas oor wat ek by wie leer. Nederigheid is waarskynlik die een woord waarmee ‘n mens dit kan beskryf.
4. Leer God beter ken.
Deur al hierdie dinge leer ek God al hoe beter ken en leer ek sy wil vir my lewe al hoe beter ken en groei ons verhouding in intimiteit.
Ek droom van die dag wanneer God elke moontlike gedagte gevange geneem het in gehoorsaamheid aan Hom.
Goeie woord ds Attie
Ek bid dat almal in ons mooi land n begeerte sal ontwikkel om meer intiem met God te wees, dat ons werklik n Pa-kind verhouding met Hom sal aangaan.
Psa 27:4 Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel.
My verhouding met GOD groei elke dag net sterkter!
Ds jammer ek kon toe nie Sondag by u uitkom nie!!
Ek stem saam Gerrit hierdie is goeie en mooi en waar woorde!!
Dagse Ds Attie
Dit spreek waarhede wat mens ter harte moet neem en beoefen.
Groete
Dagse daar!
Ek lees hierdie stuk en knik gereeld my kop, hoe verder ek lees hoe groter krul die glimlag om my mondhoeke!!
Ek is tans besig om te leer “how to be romancedby God” dit klink dat bietjie snaaks, maar dit handel oor intimitiet met God!!
Dankie vir hierdie stukkie … dit bevestig dat ek op die regte pad is.
Mooi bly