Vir Christene is gebed die dieptepunt van hulle verhouding met God. Deur gebed (be)leef ons ons verhouding met God. Die kwaliteit van ons gebedslewe is ‘n aanduiding van die intimiteit van ons verhouding met God. Gebed is om met God te praat en na God te luister en die teenwoordigheid van God te te geniet.
Gebed kan verskillende vorme aanneem – Byvoorbeeld: Aanbidding; Belydenis; Danksegging; lof; voorbidding; ‘n stil tyd van wag op die Here waarin ek sy teenwoordigheid beleef.
Gebed is baie meer as net die sê van ‘n paar woorde, en gebed is nie die herhaling van sekere formules nie. Ons God is op soek na intieme verhoudings van egtheid, openheid en spontaniteit. Jesus het ons opdrag gegee om nie sommer net betekenislose woorde te herhaal wanneer ons bid nie en daarom het Hy ons die modelgebed (Die Ons Vader) geleer met woorde wat vol betekenis is, maar dwarsdeur die Nuwe Testament is daar voorbeelde van gebede wat nie beperk was tot die enkele gebed wat Jesus ons geleer het nie, maar eerder gebede wat oorloop van intensiteit en verwagting.
Om te sê dat gebed ‘n gesprek met God is, is juis om in sy teenwoordigheid met Hom te praat oor die dinge wat op ons harte is, te praat.
In hierdie tyd is die mense in ons dorp wat hulle werk verloor op my hart, ek praat met die Here daaroor.
My kind in haar eerste paar dae op Universiteit is in my gedagtes, ek praat met die Here oor haar.
Vanoggend was daar ‘n baie moeilike dag voor my, ek het met die Here daaroor gepraat.
Gebed is om soms die slagte fluistering van die Heilige Gees te hoor, wanneer Hy soos vanoggend die woorde van ‘n Psalm gebruik om my daaraan te herinner dat Hy alles sien en alles weet. Ek het gebid: “Laat ek U hoor sê: ‘Ek red jou!'” (Pslam 35:3)
Ek is daarvan oortuig dat ek Hom dit hoor sê het.
Nou is die dag verby. Ek is daarvan oortuig ek het nie verkeerd gehoor nie.
As gebed nie kan beteken dat ek my hart voor God kan oopmaak nie, dan het gebed ‘n ritueel geword – dalk ‘n betekenislose ritueel.
Ds sonder gebed is mens mos ‘n leè dop!
meermnin: Is waar, gebed gee ‘n bepaalde betekenis aan ‘n mens se lewe wat ons nie altyd kan formuleer of verduidelik nie.
Daai prentjie sê vir my alles: Gebed is ‘n gesprek tussen vriende – alhoewel God nooit my gelyke of my “maatjie” kan wees. Vriende hou nooit op om anders te wees nie, maar daar bly wedersydse aanvaarding en eerlikheid.
Dankie, ek wil graag my gebedslewe verryk, maar ek weet nie altyd hoe nie. Ek wonder wat doen ander om hulle gebedslewe meer sinvol te maak.