deel die boodskap – soek die siekes

Ek was onlangs weer in die situasie waar iemand my vra om met iemand wat sy goed ken te praat oor die persoon se verhouding met die Here omdat sy bang is sy verhouding met die Here is nie reg nie. Ek het wel met die persoon gepraat en na sy geloofsreis geluister en met hom iets van my geloofsreis gedeel en ons is uitmekaar uit na ‘n baie goeie gesprek.

Die Bybel laat oor een ding min twyfel en dit is dat ons getuies van die goeie nuus van Jesus Christus moet wees en dat die wêreld deur ons die boodskap  op so ‘n manier moet kry dat hulle  volgelinge van die Here Jesus sal word.

Die interessante van hierdie situasie hierbo, is dat daar van my verwag word om met die persoon oor sy verhouding met die Here te praat, omdat ek die persoon is wat daarvoor opgelei is. Op die ou end kon ek nie anders as om die gevolgtrekking te maak dat die dame wat bekommerd was oor haar vriend se verhouding met die Here, se verhouding met hom van so ‘n aard was dat sy nie die vrymoedigheid gehad het om met hom oor die Here te praat nie, en met hom was dit dieselfde.

lbur Chapman ‘n bekende evangelis het die volgende waarneming gemaak:

Volgens die 4 evangeliste (Matteus, Markus, Lukas, Johannes) het Jesus 40 mense van dieselfde siekte genees. Van die 40 is 34 genees nadat iemand anders hulle na Jesus toe gebring het om genees te word. Dit wil voorkom asof net 6 van die 40 op hulle eie by Jesus uitggekom het.

(Ek het nie al die syfers gekontroleer nie, omdat ek dit ook êrens gelees het, maar die beginsel wat hieruit voortpsruit is tog belangrik.)

Hierdie gedagte laat my in die eerste plek daaraan dink dat bitter min mense op hulle eie by die Here uitkom. Maar, as ons van ‘n paar mense soos predikante, sendelinge, evangeliste en ‘n paar ander mense verwag om dit te doen,  gaan die oes maar skraal wees.

Elke een wat beweer dat hy/sy in Jesus Christus as Verlosser glo, behoort op soek te wees na ‘n “sieke” wat hy/sy na Jesus toe kan bring om gesond gemaak te word.

Ek is daarvan oortuig dat ‘n gebrekkige getuienis wat deur een persoon in ‘n gesindheid van liefde oorgedra word, baie meer waarde het as ‘n baie korrekte getuienis deur iemand wat in geen verhouding met die persoon is nie.

Ek is ook van mening dat dit een van die redes is waarom liefdesgebod so belangrik is, as ek my getuienis deel met iemand vir wie ek net so lief is as wat ek vir myself is, gaan die getuienis ‘n baie groter impak hê. Dit is maklik om die massas lief te hê, dit is moeilik om die individu lief te hê. My getuienis teenoor daardie individu vir wie ek lief is, dit is die getuienis wat saak maak. Jou getuienis gaan baie meer werd wees as die beste preek…

Gaan soek vandag die siekes…

10 thoughts on “deel die boodskap – soek die siekes

Add yours

  1. Puik inskrywing Attie. As ons gaan kyk na Jesus se opdrag was dit gewees om dissipels te maak en nie om kerke te stig nie. Daar is niks fout met kerke nie, want dit is waar elkeen van ons moet behoort om instruksies by God te ontvang, sodat wanneer ons in die makrplein is(ons werksplek) ons die evangelie daar te gaan verkondig. Die dominie of pastoor se plig is om ‘n posman te wees wat instruksies by God kry en dit dan vir sy gemeente (seuns) deur te gee sodat hulle toegerus kan wees om die Woord van God uit te dra.

  2. Ek hoor wat jy sê, Attie, maar dit laat my aaklige terugflitse kry van CSV-diensjaarspanne wat by die skool aankom en jou net probeer bekeer asof jy ‘n nommer is. Jy is hulle siekte wat in getalle genees moet word.

    So ‘n benadering vervreem in my ervaring mense. Ek weet nie of dit is wat jy ingedagte het nie, maar indien dit is, sal dit nie werk met iemand soos ek nie. I’m not your freakin disease. I’m a person.

  3. Riaan: Dit lyk my ons dink in ‘n groot mate dieselfde.
    Johan: Ek dink beslis nie aan ‘n konfronterende benadering nie, ek dink aan ‘n verhouding waar ek met ‘n persoon verhouding bou en in daardie verhouding wanneer die tyd reg is die evangelie deel. Oor die CSV stem ek ook nie altyd saam met hulle beandering nie en my kinders het ook ‘n bietjie van ‘n negatiewe belewenis gehad, maar tog is daar ook mense in wie se lewens dit ‘n groot verskil gemaak het, ons sal maar moet sien of daardie beandering nog vir lank op enige iemand ‘n positiewe impak gaan he, ek twyfel…

  4. Ons kan plant en ons kan nat maak, maar dit is God wat laat groei. Ek glo dat elkeen van ons ‘n spesifieke gawe van die Here ontvang het om saam dissipels te kan maak. Ek het nie die gawe of die geleentheid om te kan preek nie, maar daar is beslis mense wat die gawe het om die Word op ‘n duidelike en eenvoudige manier aan ander kan uitle en verduidelik. As ek met my gawe iemand kan trek of lei na ‘n persoon wat die persoon kan help, het ons albei dalk ons taak in God se koninkryk vervul. Die voorbeeld wat jy noem Attie is dalk net hoe alles saam werk om ‘n persoon te help. Ja, teen hierdie tyd moes baie van ons leraars gewees het want ons het baie kennis van die Woord en het reeds vir ‘n lang tyd ‘n verhouding met Jesus, maar die sorge van die lewe weerhou ons om leraars te wees. Die mensdom het die kerk nodig en die kerk het leraars, herders, evangeliste, profete ens (1 Kor 12) om te funksioneer. Saam kan ons die siekes bereik en help. Op ons eie sal dit maar moeilik gaan.

  5. baie oulike blog Attie, hou so aan.
    Ek wil ook net hier aanlas deur te verwys na Jesus se voorbeeld toe Hy Saggeus in die boom raak geloop het. Vandag sou ons vir Saggeus gesê het dat hy sondag by die kerk op die hoek moet kom inloer want daar is spesiale dienste, of ons sou n blaadjie in sy hand gestop het, of ons sou een of ander metode (resep of formule)gebruik het om hom daar op straat te evangeliseer. Jesus het egter geen van die gedoen nie, Hy het hom uit sy boom genooi en saam met hom na sy huis gegaan. Dit was nie deur die skare goedgekeur nie want jy meng mos nie met sondaars nie. Hy het dadelik begin om n verhouding met die man aan te knoop. Word sy friend. evangeliseer hom met jou voorbeeld. Wys hom dat kinders van die Here ook pret ens. kan hê. Die Heilige Gees sal dan op Sy tyd die werk doen (Joh 16:8)
    groete,
    Gerrit

  6. BiB: Dankie.
    Gerrit: Jesus en Saggeus is ‘n goeie voorbeeld van “Vriendskap Evangelisasie.” Ons gaan later in die jaar in ons gemeente oor ‘n tydperk van 4 weke ons lidmate toerus vir hierdie vorm van Evangelisasie.

  7. Ja, maar tog – kan ‘n mens werklik van liefde praat as daar hoegenaamd ‘n agenda is? Is dit nodig om die evangelie te deel? Kan ‘n mens nie maar net ‘n nederige vriend raak en dit BLY nie?

  8. Johan: Die kerk en elke gelowige se roeping en opdrag is om die boodskap van Jesus se sterwe en opstanding en wat Hy daardeur bereik het uit te dra. God het ‘n “agenda” gehad toe Hy sy Seun mens laat word het – sy “agenda” of dalk is plan ‘n beter woord, was die verlossing van die mens.

  9. Johan vra: “kan ‘n mens werklik van liefde praat as daar hoegenaamd ‘n agenda is”

    Iemand het eenkeer gesê liefde beteken: “Vir jou wil ek my allerbeste gee, op my allermooiste manier, al kos dit my wat.”

    En die reddende krag van Jesus is die allermooiste.

    Oukei, kom ons probeer gou liefde sonder ‘n agenda voorstel. Die ma voer haar baba. Sy leer hom woordjies. Iemand kom in en sê: “Ek sien jy het ‘n agenda. Jy wil nie net vir jou kind lief wees nie! Jy wil hom sommer ook gesond hou en aan die lewe hou en hom leer praat!”

    Die stelling dat mens nie vir iemand lief is as jy ‘n agenda het (‘n agenda om jou beste en mooiste met hom/ haar te deel) nie, is vreemd.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: