dankbaarheid

Ek is vir die afgelope paar maande betrokke by ‘n gesin waar die sestienjarige seun ‘n uiters kwaadaardige gewas op die brein het. Die seun het reeds ‘n breinoperasie gehad waar die gewas verwyder is waarna hy ook chemo gekry het. ‘n Paar weke nadat die chemo behandeling  klaar was, het dat die dokter gesê dat daar geen tekens van die gewas of die kanker meer is nie.

Ek onthou so goed die ma se ekstase en getuienis dat haar seun genees is en dat hy nie weer siek gaan word nie want die Here het ‘n wonderwerk gedoen.

‘n Paar maande later het die simptome wat die seun voor die eerste operasie gehad het, weer teruggekom. Alhoewel die gesin vermoed het wat die dokter gaan sê, was die slegte nuus dat daar weer ‘n gewas is ‘n reuse skok en teleurstelling. Alhoewel die gewas (nog) nie so groot was soos die vorige keer nie, was dit daar. Die vorige gewas was ‘n baie aggressiewe kanker, indien hierdie gewas dieselfde sou wees as die vorige een, was sy lewe sonder twyfel in gevaar en sou daar nie meer as 3-6 maande vir hom oor gewees het om te lewe nie. Die moontlikheid op ‘n tweede operasie so kort na die vorige een, het ook nie goed gelyk nie.

Die seun het weer chemo begin neem in die hoop dat dit die groei van die gewas sou verhinder.

As gevolg van die skokkende en teleurstellende nuus, het die gesin se hoop en geloof verkrummel en daar was dikwels selfs aggressie en byna woede teenoor God. Tot op daardie stadium was my betrokkenheid by die gesin sporadies. Na die nuutste diganose, het die ma begin om my op ‘n weeklikse basis te sien. Elke een in die gesin het sy lyding en swaarkry op sy eie hanteer en dit was vir hulle moeilik om mekaar te ondersteun. Ek het gehoop dat ons saam deur die geloofskrisis sou werk en dat ek haar sou help om die werklikheid te aanvaar en te hanteer en steeds haar verhouding met God sou behou. Haar verwagting was dat ek haar sal deurhelp want sy kon net nie meer hierdie geweldige las alleeen dra nie.

In die paar weke wat ons mekaar gesien het, het ons oor baie dinge gesels en selfs haar diepste emosies van onbegrip vir God se werkswyse en twyfel het dikwels na vore gekom. Ander tye was haar vrees en pyn oor haar kind en vir haar kind deel van ons gesprek.

Haar wens om eerder in haar seun se plek te sterf, het my diep laat dink oor Jesus Christus wat in ons plek gesterf het. In hierdie situasie het ek weer oor daardie liefde begin dink.

Verlede week was ons laaste gesprek voor die volgende ondersoek wat Maandag 5 Februarie moes plaasvind. Aangesien die prognose nie goed gelyk het nie, het ek haar probeer help om die verskillende moontlikhede raak te sien: Die gewas kon dalk nie verder geroei het nie;  ‘n volgende lewensgevaarlike operasie kan dalk nodig wees; Hulle sou hoor dat daar niks is wat hulle kan doen nie.

Ons het ook gepraat oor die moontlikheid van ‘n wonderwerk. Die uiteinde van daardie deel van ons gesprek was dat ons weet Hy kan, maar ons weet nie of Hy gaan nie. En sy het begin besef dat as haar verhouding met die Here afhanklik is van of Hy haar gebed gaan verhoor, dan is daar eintlik nie veel van ‘n verhouding nie.

Ons het vir die wonderwerk gebid.

Met die gesindheid en geloofsingesteldheid het sy die ondersoek benader. Sy het my gister vertel dat haar laaste woorde vir die gesin toe hulle by die hospitaal stop was dat dit nie saak maak wat vandag gebeur nie, hulle sal hier deur kom.

Die uitslag was wonderlik – die gewas het nie gegroei nie. Interessant – sy het nooit die woord wonderwerk gebruik nie.

In gister  se gesprek het ons gepraat oor hoe haar belewenis van hierdie gebeure verskil van die vorige keer toe hulle gehoor het dat daar geen teken van die kanker was nie. Haar eerste antwoord is: “Ek besef nou, kanker is soos Russian roulette. Jy weet nooit wanneer daar ‘n patroon is nie…”

Dit is vir my ‘n realistiese geloof. Sy het herhaal wat ons gesê het dat ons weet dat God kan maar nie weet of God gaan nie. Sy het ook gesê dat sy onuitspreeklik dankbaar is vir wat nou gebeur het, maar dat sy nie weer toelaat dat haar  verhouding met God afhanklik is van die verhoring van haar gebed nie. Sy het bevestig dat sy weet dat die kanker weer sou kon terugkom, en dat sy waarskynlik weer gaan sukkel om dit te hanteer, en weer moedeloos en selfs geloofloos  en hooploos  gaan voel, maar tot dan leef sy in dankbaarheid vir wat die Here nou vir haar gegee het.

Was dit ‘n wonderwerk? Was dit maar hoe dit bedoel is om te wees? Maak dit saak?

Haar laaste woorde voor sy weg is by my: “Wat ek is,  is net genade; Wat ek het, is net geleen… ”

Die Here het haar seun nog ‘n tydjie vir haar geleen, hoe lank… dit maak nie nou saak nie.

Realistiese geloofsvertroue is wat ek dit wil noem.

(Jy kan vir haar ‘n boodskap skryf as jy wil, sy gaan hier kom lees. Kom ons noem haar M.)

Advertisements

9 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

9 responses to “dankbaarheid

  1. Iemand

    Wat ‘n amazing storie. Die gedagte dat my verhouding met God nie afhanklik kan wees van die verhoring van gebede nie, maak my dink. M. Geniet elke oomblik saam met jou seun en jou gesin.

  2. Ek lees hierdie en dit is vir my moeilik om nie emosioneel te raak nie. Ag tog daar is ek nou in elk geval emosioneel maar dit maak nie saak nie.

    My broer is 8 jaar terug oorlede aan kanker en skielik terwyl ek hierdie lees beleef ek weer al daardie emosies wat deur my gegaan het vir die 7 jaar wat hy ‘n stryd daarmee gehad het. My broer was nie getroud nie en het ons hom aan huis geneem toe hy gediagnoseer is. Hy en ek was twee beste vriende en het ons verhouding oor die jare wat hy by ons gebly het sterk gegroei.

    Na sy dood het ek vir ongeveer ‘n jaar in opstand gekom teen God totdat die Here ‘n vriendin my pad gestuur het wat vir my die volgende visioen vertel het, wat sy beleef het nadat haar broer presies dieselfde tyd met dieselfde gewas oorlede is en sy geworstel het met opstand en rebellie.

    Sy sien haarself as ‘n klein dogtertjie. Sy is in haar ouerhuis. Haar pa sit en werk in die studeerkamer. Soos hy sit kyk hy op die studeerkamer se deur, maar sy kop rus op sy hand, maw dit lyk nie of hy sien dat sy by die deur inkom nie. Op daardie oomblik is sy baie kwaad vir haar pa want hy het ‘n rukkie terug met haar geraas oor iets wat sy verkeerd gedoen het. Haar doel met die inkom is om haar bal te gaan haal wat agter haar pa se studeerstoel lê en sy voel dat sy niks met hom te doen wil hê nie. Toe sy inkom glo sy dat haar pa haar nie sien nie.

    Dan verander die visioen en sien sy skielik die hele prentjie uit haar pa se oog. Sy sien haarself by die deur inkom. Sy sien die kwaad op haar gesig. Dan ervaar sy dit wat haar pa ervaar. ‘n Glimlag kom op die hoeke van sy mond en hy dink. Hi my dogter, ek het net die beste vir jou in gedagte. Alles wat met jou gebeur en alles wat jou hartseer maak, maak my ook hartseer. Ek verstaan dat jy kwaad is, ek verstaan selfs dat jy vir my kwaad is, maar ek het jou baie lief en maak nie saak wat nie, ek sal jou altyd liefhê.

    Nadat sy hierdie vir my vertel het, het genesing begin intree. Partykeer wonder ek nog maar ek weet dat God net die beste vir my in sy gedagtes het en so vir elkeen van ons. As ek mooi terugdink dan besef ek die 7 jaar wat my broer by ons gebly het was die tyd wat hy en ek die beste verhouding gehad het en die meeste dinge saam gedoen het.

  3. Riaan: Terwyl ek hier geskryf het en toe ek nou weer jou verhaal lees dink ek aan Romeinse 8:28 – alles werk te goede mee. Ons – ek in elk geval – verstaan bitter selde, maar dit is my voorreg om dit te bely. Mooi beeld wat daardie vriendin gebruik het.

  4. M, ek bid jou en jou gesin baie sterkte toe in hierdie stryd van onsekerheid. Slim woorde het ek nie, maar ek weet dat God daar is: soms stil, soms skynbaar afwesig, maar Hy bly by julle.

  5. Gerrit

    Ek was 1 sept 2007 vir n operasie waar n gedeelte van my dik derm verwyder is. Kolonkanker. As die groot K eenmaal aan jou deur geklop het bly dit maar altyd soos n skaduwee oor jou hang. Jou geloof verander gou gou in wanhoop as daar net die kleinste simtoompie sy kop uit steek maar God belowe dat Sy genade vir ons genoeg is. Isak Burger skryf in sy boek ” vyf minute voor jou dood” dat kanker n genadige siekte is omdat dit mense tyd gee om gereed te maak vir die dood. In dieselfede tyd wat ek deur al die dinge geworstel het is n friend oorlede in n motorfiets ongeluk. 40jr oud, blakend gesond, skielik. Ek het besef dat ten spyte van al die dinge, redenasies, slim stories ens staan een ding soos n paal bo water. ons moet altyd gereed wees om God te ontmoet. Baie sterkte vir hierdie seun en sy gesin. God wil vir hom iets doen (sien mat 8 vers 2 & 3)maar Sy weë is nie ons weë nie en dit bly altyd Sy besluit en Sy wil.

  6. Blondie

    My hart is stukkend vir jou M en ek het nie die woorde nie.
    Ek bid vir jou en jou gesin.
    Ps 34 v 18: The Lord is close to the Brokenhearted and saves those who are crushed in spirit

  7. Herman

    Attie
    Dankie vir die begeleidende werk wat jy gedoen het. Deur jou # is ek onder die indruk dat jy ‘n instrument is in Sy hand.
    M
    Wonderlike nuus. Prys die here van hemel en aarde. Mag jy en jou gesin deur hierdie tyd bewus raak van die grootheid van God. Lees gerus Jes. 62:3 “Die Here sal jou soos ‘n sierlike kroon in sy hand hou, jou God sal jou soos ‘n koninklike tulband in sy hand vashou”. Jy kan goedskiks die woord “jou” met ons (jul gesin) vervang.

  8. meermin

    Attie terwyl ek hier lees, loop die trane sommer, Gerrit ek is jammer om jou verhaal hier te lees, sterkte vir jou!

    M baie sterkte vir julle ook.

  9. M

    Baie dankie. Ek waardeer dit opreg. Baie groete.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s