Ek lees Sondag in Tim du Plessis se artikel in Rapport hierdie woorde:
Gewone Suid-Afrikaners en leiers in ander invloedsfere sal toenemend die inisiatief neem vir sulke noodsaaklike dinge soos groter nasionale eenheid, morele herstel, die verligting van menselyding, die skep van geleenthede en vir alles wat val onder die breë rubriek van “Om Suid-Afrika ’n beter plek te maak”.
Die artikel kan ook by Tim se blog gelees word.
Volgens Tim het die regering nie die wil of die vermoë om die dinge te doen wat daartoe sou kon bydra dat Suid Afrika ‘n beter plek vir almal kan wees nie. Hy sê dat leiers in ander invloedsfere al hoe meer die inisiatief sal moet neem vir nasionale eenheid, morele herstel, die verligting van menselyding en die skep van geleenthede.
Ek dink natuurlik die maklike antwoord is: “Dit is almal se verantwoordelikheid.” Maar, daar is ‘n Engelse gesegde wat sê: “Everybody’s responsibility is nobody’s job.”
Ek dink byvoorbeeld dat ek as leier in die kerk of ten minste in ons plaaslike gemeente en gemeenskap ‘n bydra sou kon lewer met betrekking tot morele herstel en die verligting van menselyding, sonder om daarmee te sê dat ek apaties en neutraal sou staan met betrekking tot die ander belangrike sake.
Ek het twee vrae:
Eerstens: By watter van die “noodsaaklike dinge” sou jy kan betrokke raak op grond van die invloedsfeer waarbinne jy funksioneer?
Tweedens: As jy die woorde “morele herstel” hoor, waaraan dink jy?
As jy nie met vakansie is nie, sou ek graag van jou wou hoor. As jy gewoonlik hier lees, maar nie kommentaar lewer nie, gebruik die geleentheid.
“noodsaaklike dinge” – Om iets vir die land se kinders te doen, want hulle is die toekoms van ons land. Maar nie net DOEN nie – leer hulle die regte waardes en gee hulle die regte gereedskap om die lewe in te gaan. En hiermee verwys ek na die beginsel van: – gee ‘n man ‘n vis, en hy het kos vir ‘n dag, leer hom om self vis te vang, en hy het altyd kos.
“morele herstel” – dit gaan hand aan hand met wat ek hier bo geskryf het. Ons moet weer ons kinders leer bid, leer glo, die regte waardes leer, maar ons moet ook die voorbeeld stel. Ons moet hulle dissiplineer en terselfdertyd moet ons self so lewe sodat ons ‘n voorbeeld is vir hulle, nie net vir ons eie kinders nie, maar vir ons land se kinders. Dis moeilik, ja, maar ek glo ons kan dit doen.
Ek het ongelukkig geen slim woorde vandag nie. Wou net se ek hou van hoe jou blog nou lyk.
Ek lees gereeld hier maar het nog nooit kommentaar gelewer nie. Toe jy nou onlangs met vakansie was toe kom ek eers agter hoe ek dit mis om jou blog se updates te lees. Seker ook omdat ek meer tyd gehad het om te lees as normaal weg.
Hier waar ek is verskil die kultuur baie van die kultuur in SA. Ek was onlangs weer verbaas oor die bereidheid van mense om hulle vrye tyd te gee om ander te help en te vermaak. Ek verwys aan die hulp tydens Kersfees om hawelose mense ‘n warm ete op kersdag te gee. Verder ook die menige programme wat deur kerke aangebied het. Hoeveel ure en ure se oefening gaan daar nie in om jaarliks to produksie van die kers boodskap te bring.
Kan ‘n mens dit beskou as “noodsaaklik” om elke dag bereid te wees om iets goeds vir jou naaste te doen? Is dit waaroor die lewe gaan?
Morele herstel begin by die huis. Wat is die voorbeeld wat ouers stel aan kinders? As ouers egter self ‘n swak voorbeeld as kind gehad het, waar leer hulle van die regte morele standaarde? Die media wat fokus op die negatiewe en die verontregtes? Die skool waar godsdiens verban is? Die kerk / motiverings organisasies (TV evangeliste) wat poog om met postiewe opbouende boodskappe mense te kry om die beter oor hulself te voel en in die proses volgens beginsels te lewe wat op die Bybel gefundeer is?
Laat mens dink..
Beste ds Attie
Ons bly op ‘n plot aan die buitewyke van u dorp. Ek lees gereeld u blog.
Ons word hier op ons plotte geteister deur misdaad, hoofsaaklik diefstal. Ek het ‘n sms-stelsel met die Polisie se goedkeuring begin om almal van misdaad wat gepleeg word op ons plotte in te lig. Weet u hoeveel doen dit in ons gemeenskappie. Almal bel en vertel van misdaad op hul eiendomme, ek sms dit en wat tans besig is om te gebeur dat ons as gemeenskappie vir mekaar begin omgee, mekaar weer leer ken, respekteer ens. Soos bv. “SMS bietjie dat almal hul karre moet toesluit, myne is laasnag gesteel.” Selfs ons arbeiders dra by en ‘n wonderlike samehorigheid begin hier posvat. Ons het prakties begin toepas wat almal altyd oor praat en die gevolge is wonderlik. Aan die misdaad kan ons nie veel doen nie, maar aan ons menswees, dis ‘n lieflike verhaal.
Dit is mos net met God se wil dat so iets kan gebeur, want ek glo vas dat niks maar niks buite Sy wil gebeur nie.
Groete
Irene van Zyl
Sonkind: EK stem saam dat waardes weer aangeleer moet word, maar wat dink jy met watter waardes sal ons kinders weer ‘n verskil kan maak.
Bib: Dankie.
Christo: Ek het gewonder wanneer jy gaan begin saam gesels. Die bereidheid om op te offer om ander te help, het ons ook getref toe ons daar getoer het. Dieselfde gesindheid is besig om hier by ons pos te vat. Verskillende van ons lidmate het op Kersdag aan 180 gesinne kos gaan aflerwer – moet sê, ek het die gedagte by die Amerikaners gesteel.
Irene: Hierdie verhaal van jou maak my opgewonde. Ons kan nie wag vir amptelike organe om misdaad te verhoed nie. Elke een van ons sal moet help om dit nie net al hoe moeiliker te maak nie, maar ook om enige misdaad of oortreding van die wet aan te meld.