GOD SE KERSKAARTJIE

Die gebruik van kerkskaartjies het in ‘n groot mate uitgesterf.

Toe ons kinders was, was dit nogal ‘n redelike groot aktiwiteit. ‘n Groot aantal kerskaartjies is gekoop en dan het ons ‘n lys gemaak van al die mense vir wie ons kerskaartjies wou stuur. Die gesin, of die individu wat die kaartjie stuur, se naam is in die kaartjie geskryf en soms met nog ‘n persoonlike boodskappie, dan is die koevert geadresseer en gepos. In daardie tyd het die poskantoor ook aan die begin van Desember begin waarsku dat mense hulle kerskaartjies vroeg moet pos as hulle wil hê die kaartjies moet voor kersfees hulle bestemming bereik.

In ons huis is die kerskaartjies wat ons gekry het, op ‘n plek uitgestal waar enige iemand, selfs besoekers die kaartjies kon lees. Elke keer as die pos uitgehaal is, het ons vir mekaar gesê watter nuwe kerskaartjies gekom het. Op die manier is ons herinner aan kersfees wat aan die kom was.

Die Here het vir ons ook ‘n kerskaartjie gestuur – inteendeel, ‘n hele paar. Voordat “kersfees” – die geboorte van die Messias, die Verlosser daar was het God reeds sy seën wense vir ons gestuur. Op verskillende plekke in die Ou Testament lees ons God se kerkskaartjie in die vorm van veral die profete se voorspelling, maar ook op ander plekke.

Een van die eerste kerskaartjies vind ons reeds in Genesis 3:15. Deur die versoeking van die slang het Adam en Eva gesondig. Hulle sonde het alle verhoudings versteur. Terwyl die mens en God elke dag in die tuin kon wandel het, het die mens nou weggekruip vir God; terwyl Adam en Eva in ‘n verhouding van vrede met mekaar gelewe het, het hulle mekaar nou beskuldig; terwyl die mens in volmaakte vrede met die skepping gelewe het, is daardie vrede so versteur dat die mens met swaarkry uit die aarde ‘n bestaan sou maak en die aarde sou dorings en distels voortbring.

Maar, die kerskaartjie is in Genesis 3:14 wanneer God vir die slang sê:

“Omdat jy dit gedoen, is jy vervloek onder al die diere. Op jou maag sal jy seil en stof sal jy eet, jou lewe lank. Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom aan die hakskeen byt.”

Hierdie Een wat die slang se kop sou vermorsel het in Israel en die Ou Testament bekend geword as die Messias wat sou kom. Aan die begin van Matteus neem die geslagsrester van die Messias wat gekom het, die leser terug tot by Abraham. In Genesis 5 is die geslagsregister van Adam tot by Noag en in Genesis 11 die nagslag van Noag se seun Sem tot by Abraham. Met ander woorde: Verskillende  geslagsregister in die Bybel neem die Messias terug tot by Adam.

Die boodskap van die Bybel is duidelik: Die Een wat in Genesis 3:14 belowe word is gebore in Betlehem, ons ken Hom as Jesus Christus, die Verlosser.

God se eerste kerskaartjie gaan so ver terug as Genesis 3:14. Uitgestal in die Bybel sodat almal God se goeie wense vir “kersfees” – die Christusfees kon lees.

In ons huis het baie mense nooit ons kerskaartjies gelees nie, maar net in die verbygaan daarna gekyk. Ander het dit gelees en was soms verbaas oor die mooi wense in van die kerskaartjies.

Die kerskaartjie in Genesis 3:14 is ook vir jou.

12 thoughts on “GOD SE KERSKAARTJIE

Add yours

  1. Dankie Attie:Ek wil vir jou ook ‘n kerskaartjie stuur.Dit kom voor in Genesis 1 vers 3:En God het gese,laat daar lig wees,en daar was lig.
    Dit vat my na 2 Korinthiers 4 vers 6:Want God wat gese het dat daar uit duisternis lig moet skyn — dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.Laat dit dan ook in jou hart so skyn soos die Bethlehem ster se betekenis vir die wyse manne.Mag hierdie Christusfees vir jou en jou familie ‘n groot seen wees met ‘n spesiale betekenis en rigting vir volgende jaar.Hou net aan om die blink Morester te volg wat elke oggend opkom in jou hart.Shalom

  2. Dit is nou baie spesiaal. Dit is jammer met die tegnologie het hierdie gewoonte uitgesterf, dit was darem die lekkerste gevoel om te wag vir die posman. (‘n SMS is net nie dieselfde nie) Ek sal daardie opgewondenheid nooit vergeet nie! Vandag wag ek nog meer opgewonde vir my Verlosser. Kom Here Jesus, kom…

  3. Pikkie: Ek dink natuurlik dat die kerskaartjies ook ‘n element van verwagting geskep het wat ‘n mens soms ook laat dink het met watter verwagting ons op die wederkoms van die Here Jesus wag.

  4. Ben: Dankie vir die mooi wense. Ek gaan nog ‘n paar dae oor die “kerskaartjies” skryf. Dit is my wense vir jou en jou familie en vir elke leser wat hier lees. Maar… ek gaan dit in besonder nog hê vir volgedne jaar.

  5. Nou voel ek glad nie meer so skuldig nie. 😉 Ek dog ook Kerskaartjies is nogsteeds die algemene gebruik, maar noudat ek daaraan dink, baie mense wat ek ken skryf geen Kerskaartjies nie. Oorsee is dit nog ‘n groot storie, veral in Engeland.

  6. BiB en flippiefanus: Ek het darem hierdie een kerskaartjie geskryf wat ‘n hele paar ouens gelees het, en vir die volgende paar dae gaan ek nog ‘n paar skryf.

  7. Hi Attie,

    Kaartjies het al ‘n cliché geword. In sommige gevalle selfs baie duur vir baie min. Maar dit was lekker om weer te besef dat daar wel iets is wat vir my betekenis het.Dankie vir ‘n “wake-up call” toe ek dit die nodigste gehad het. Mag jy en jou familie die vrede van Christus ervaar hierdie tyd en Sy seën oor julle wees.

    Otto en Thea

  8. Noudat ons almal ons kerskaartjies gekry het, wat vir ons die ewige weg na GOD wys. Is my wense vandag dat niemand ooit hierdie gouekaartjies sal verloor nie.

  9. Ek is baie trots daarop dat ek elke jaar vir familie en vriende ‘n spesiale Kerskaartjies stuur – dit het elke jaar ‘n foto van ons gesin of slegs die kinders op. Soms tik en ‘n lang brief en stuur dit ook saam. So behou ek bietjie kontak met al die ooms en tannies wat definitief nie “Facebook” nie. (My enigste jammerte is dat ek nooit die vorige Kerskaartjies gehou het nie.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: