WANTROUE (2)

Ek het ‘n paar dae terug oor WANTROUE geskryf. Meeste van ons het die gewoonte aangeleer om op hierdie negatiewe manier te reageer wanneer ons agterkom dat mense ons nie vertrou nie. Dit help natuurlik nie ‘n mens weet net van ‘n slegte gewoonte nie – jy moet ook die slegte gewoonte met ‘n goeie gewoonte vervang.

Dalk vyf koninkryks-reaksies op wantroue.

1. In plaas van verdedig – gebed.

Die oomblik wat ‘n mens jouself wil verdedig, dan gebeur daar iets in ‘n mens wat maak dat jy minder sensitief is vir die ander een se gevoelens of nie regtig daarop ingestel is om te luister nie. Wantroue maak ‘n mens seer, maar in plaas daarvan om die seer na vore te laat kom deur jouself te verdedig, kan jy eerder bid en vra dat die Here jou sal help om hierdie persoon te sien soos Hy hom/haar sien.

Met bid bedoel ek nie ‘n gebedjie soos: “Here seën asseblief vir …” nie, maar eerder iets soos: “Here maak my oë oop om te sien wat hierdie persoon regtig nodig het en wat veroorsaak het dat hy/sy so teenoor my voel sodat ek kan weet hoe ek hierdie wantroue kan oorbrug.”

2. In plaas van seerkry – verstaan.

Dit is nie lekker om te hoor dat iemand jou nie vertrou nie, en dit maak seer, maar in plaas daarvan om die “seer” te troetel kan jy probeer verstaan wat veroorsaak dat die persoon sukkel om jou te vertrou. Dalk is dit iets wat jy gedoen het, dan kan jy dit regmaak. Dalk is dit iets wat in die persoon se lewe gebeur het, dan kan jy ‘n hand van begrip en liefde uitsteek en wys dat jy verstaan en dat jy nie weggestoot word deur die wantroue nie.

3. In plaas van vermyding – verhoudingsbou.

Dit is ‘n mens se natuurlike reaksie om jouself nie verder bloot te stel aan ‘n verhouding waar iemand jou nie vertrou nie, maar vermyding bring afstand tussen mense. ‘n koninkryks-reaksie kan wees om verhouding te bou deur bv. saam met die persoon te begin doen wat hy/sy doen, met ander woorde tyd saam deur te bring. Hoe belangriker die verhouding vir my is, hoe meer moeite sal ek doen om tyd te maak om saam met die persoon te wees en so ‘n verhouding te bou.

4. In plaas van veroordeel – erkenning.

Wanneer ‘n mens veroordeel mis jy nie ‘n geleentheid om te wys op elke dingetjie wat die ander persoon verkeerd doen wat wys dat hy/sy wat jou nie vertrou nie, nie juis die reg het om jou nie te vertrou nie, want hy/sy bly ook maar ‘n ‘n “glas-huis”.

Erkenning beteken dat ek met dieselfde toewyding op die uitkyk is vir iets wat die persoon goed en reg doen sodat ek sy aandag en ander mense se aandag daarop kan vestig. (Hierdie erkenning moet natuurlik eg wees, anders is dit van geen waarde nie.)

5. In plaas van argumenteer – verwelkom.

Redenasies en argumenteer bring mense nie nader aan mekaar nie – inteendeel, mense neem standpunt teenoor mekaar en dan word kyk ons wie kan die meeste punte aanteken. In plaas daarvan kan ons eerder die risiko loop om hierdie persoon ‘n kans te gee om in ons wêreld in te kom en deel van ons wêreld te word. Laat die mense toe om in jou lewe in te kom en te sien wie en wat jy werklik is, totdat dit gebeur, sal die persoon oortuig wees daarvan dat hy/sy reg is in sy/haar oortuiging om jou nie te vertrou nie.

Nie een van hierdie reaksies is “natuurlike” reaksies nie, maar dit is maniere om verhoudings te bou en verhoudings te herstel. Dalk is dit juis wat ons hierdie kers-seisoen nodig het – verhoudings-herstel tussen mens en mens een mens en God.

23 thoughts on “WANTROUE (2)

Add yours

  1. vertroue is die mees kosbaarste besitting wat n mens kan besit. Hoe min vertroue is daar net nie vandag nie. Die tragiese van alles is dat jy nie eers meer jou medegelowige kan nie vertrou nie. Is die uitroep nie van alle kante”Ekhet hom/haar vertrou, en kyk wat het gebeur….ek sal nooit weer iemand kan vertrou nie.’ Dit is soms n lang en steil pad om iemand weer te leer om te vertrou.
    Dit is die rede vir soveel wantroue in ons samelewing,,en daar is wettige redes voor.
    Christus vul ons verstand met idees om die wereld se probleme op te los deur die medium van christelike etiket. Maar soos HY dit self stel die grote mederheid stel nie belang nie. ”Want die port is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind”
    Ek stem saam ons sal nie veel verrig deur net te preek en te sing nie. Wat is die antwoord in die dilemma? Leef en sterwe in die kennis dat n paar die lig gesien het en die moed het om Christus te volg?..God verbied.
    Die mens moet weer n rede gegee word om te lewe want die meeste bestaan net. Christus het gekom sodat ons n lewe in oorvloed mag besit, en die het niks met rykdom te doen nie.Mense wat nooit bekeerlinge sal word net om die hel te ontvlug nie,sal dan bereid wees om hulle lewe aan Hom toe te vertrou, om te help bou aan n beter beskawing. As ons toelaat dat ons vrees ons verlam om nie foute te maak en die bewustheid van ons vele tekortkominge die wyse van ons lewe bepaal sal ons gevind word in die samekoms van die wat nie waag om godsdienstige taboos en ander konvensie eenkant te smyt.
    Dit is soos jy dit stel Attie . Ons moet die wereld weer gaan vertel van die goeie nuus..maar ons kan dit nie preek as die beginsels nie ons lewe beheer nie….tensy die koninkryk nie in ons is nie….sterkte.

  2. burger: God se koninkryk kom waar vrede kom – waar sy kinders ten spyte van meer as genoeg rede om te wantrou, skouer aan die wiel sit en die self kruisig en verhoudings herstel.

  3. MMMMmmmmmm

    Gebed + Verstaan + Bou + Erkenning + Verwelkom = Vertroue = Verhouding

    Maak sin vir my !! (Net nie so maklik nie)

  4. Ek dink ook dit is nie maklik nie, maar ek moet nou vir myself vra hoe belangrik is die verhouding vir my. My probleem is ek weet die verhoudings is “bad” maar ek weet nie altyd wat ek kan doen om dit reg te maak nie. Hierdie lyk vir my prakties.

  5. Attie, dit is n baie belangrike onderwerp wat jy aan geraak het . En ek glo dit kort aandag, juis omdat daar so baie wantoue en agterdog bestaan. Dit is maklik vir ons wat die wedergeboorte deelagtig geword het…maar wat van hulle wat nog sukkel met die bekering, om die regte gesindheid te besit.. Dit is net die God van vrede wat ons harte en sinne kan bewaar, en net die Heilge Geees kan die liefde van God in ons harte uitstort.. Iemand het onlangs gevra ”Wanneer laas was jy net jouself…sonder die masker?”
    Soos Pieter en Twyfelaar dit stel ”maak sin…net nie so maklik nie.ek weet nie wat ek kan doen om dit reg te stel nie”..
    Ons moet besef daar is baie mense wat diep seer gekry het. wonde le nog rou op die oppervlak. Gelukkig is daar die balsem uit Gilead

  6. Wantroue is die vrug wanneer vertroue ‘n knou toegedien is.Hierdie “toestand kom net by mense voort.Selfs ‘n dier ervaar wantroue wanneer jy hom seergemaak het.God verlang egter van ons om op Hom en Hom alleen te vetrou sodat die vrug van wantroue nie ‘n ervaring by ons word nie.Helaas,ons wil eers op die harde manier leer en dan op God, en partkeer leer ons na ‘n paar kere eers.In ons toestand van ongereddenheid het ons op mense vertrou,maar nou,in wedergeborenheid,net op God.As jy eenkeer op God vertrou het en God het vir jou deurgekom,sal jy NOOIT weer op ‘n mens vertrou nie.God is onfeilbaar.

  7. Ben: Hoe sou jy die verhouding tussen ‘n ouer en ‘n kind en die verhouding tussen man en vrou beskryf as “jy NOOIT weer op ‘n mens vertrou nie.?

  8. Ek wil graag my eiertjie ook lê: Ben jy verbaas my elke keer oor hoe goed jy die Bybel ken en veral hoe jou kennis van hoe weergeboorte werk duidelik blyk.

    Ek sien jy skryf: “God verlang egter van ons om op Hom en Hom alleen te vertrou sodat die vrug van wantroue nie ‘n ervaring by ons word nie.”

    Twee vragies:
    1. Is dit om God nie te wantrou nie?
    2. Is dit om mense nie te wantrou nie, omdat ek geleer het om God te vertrou.

  9. Twyfelaar:Se God se woord nie,dat ons nie op ‘n arm van vlees moet vertrou nie,maar net op ‘n arm van Gees.Is God dan net in sekere gevalle goed genoeg.?

    Ek het nooit gese ek ken die Bybel goed nie.
    Kennis van wedergeboorte:Vergelyk wat ek se met die Skrif.
    Ek en my vrou en kinders is wedergebore,en saam vertrou ons op en in God,as ‘n familie eenheid.Ons weet wie ons voorsiener is en verlosser.God wil he ons moet afhanklik van Hom wees en Hom ken in al ons wee.Dit is wat ons leef.Ons is nie meer deel van die koninkryk van die aarde nie,ons behoort aan God en nie aan mense nie.Ons vertrou op God en nie op mense nie.Ons is nie meer van hierdie wereld nie,ons beweeg net hierdeur.God is ons arm van vertroue.As Hy mense gebruik om die uitkoms te gee,se ek vir Hom dankie en nie vir die persoon nie.Ons roem net in God,want sonder Hom is ek verlore.Hy is alles vir my.As ek geld wil leen om uitkoms te he uit ‘n posisie,vra ons vir Hom en nie nir iemand om vir ons te leen nie.God is eerste ,nie tweede uitkoms nie.Dit is ook skriftelik.
    Hoe sal jou ouers voel as jy vir die buurman geld vra om te leen of uit te help met ‘n probleem,as jy nie jou eie ouers EERSTE vra nie.
    Is dit nie om jopu ouers dan te wantrou nie?

  10. ek het lank gedink wat die oorsaak en wat die verklaring van wantroue is. In my eenvoud kom ek tot die slotsom….is dit nie maar net geloof nie? As ek iemand se vertroue skend dan verloor daardie persoon geloof in my en anders om. Ek stem saam met Ben dat ons ons nie op die arm van die vlees moet verlaat nie. Hy ,God is tog ons vader wat die beste vir ons toewens….maar aan die anderkant is ons deel van n liggaam en lede afsonderlik..waarvan Christus die Hoof is.{en nie soos wat baie geestelike leiers voorgee…”Dit is my kerk…so en so staan aan die hoof van die kerk]
    Wat ek eintlik wil se is dit..ons het mekaar nodig ons het mekaar se vertroue nodig, en ons moet hierdie vertroue na buite lewe. Reg , Ben, wat het ons wat ons nie ontvang het ..hetsy van bo of van n ander wat n insae in my lewe gelewer het…daarom se die skrif dat ons ,ons voorgangers moet eer. Ek het al so baie van die mees eenvoudigste mense geleer..God het die dwase verkies om die wyse te beskaam…en hiermee se ek nie hulle was dwaas nie..maar net dat hulle hulle nie slim voor God gehou het nie. Jesus self is n voorbeeld, Hy het net gese ”Daar staan geskrywe ..en daar staan geskrywe.

  11. Ben: Ek dink jy het my verkeerd verstaan – ek kon dit aflei uit die manier waarop jy deelneem en ek het dit eintlik as ‘n kompliment bedoel.
    Ek dink het ons as weergebore kinders in hierdie wereld tussen mense geplaas sodat ons hier sout en lig kan wees. Ek stem saam met “burger” wanneer hy skryf dat ons mekaar nodig het. Dit is juis die kinders van die Here wat moet uitleef hoe liefde vir God en liefde vir die naaste in die praktyk lyk.
    Mense het my al baie kere gehelp en dan se ek graag vir daardie mense dankie om te wys dat ek hulle liefde en omgee waardeer, maar ek sal nooit nalaat om ook vir die Here dankie te se dat Hy mense gebruik het om sy liefde vir my te wys nie.
    Alles, alles is genade – God het ‘n mens gebruik om my by Hom uit te bring en ek het die ander dag die man gebel en net dankie gese dat hy toegelaat het dat die Here hom gebruik. Sy woorde was: “Hierdie oproep kom net op die regte tyd.” Ek weet dat daardie oproep hom aangespoor het om getrou te wees in sy roeping om die Evangelie te verkondig uit te leef.

  12. Ben: Ek is een van die jonger geslag – ‘n skeptiese geslag. Ons is skepties omdat Christene nie juis daartoe bygedra het dat die wêreld ‘n beter plek is nie. Skepties omdat Christene van ‘n wonderlike verhouding met die Here getuig, maar nie ‘n verhouding met die mense rondom hulle het nie. Skepties omdat Christene so besig is met die dinge van die hemel dat hulle vir niks op aarde goed is nie.

    As God dan hierdie wêreld geskep het en as God gedink het die wêreld wat Hy geskep het is goed, hoekom ontvlug Christene van God se wêreld deur te sit en wag vir die dag wanneer die Here Jesus weer kom.

    Die aanhaal van teksverse beïndruk my nie. Die allerhande uitsprake oor weergeboorte beïndruk my ook nie. Ek is deel van ‘n geslag wat op soek is na verhoudings – as Christene nie hierdie verhoudings prakties gaan uitleef nie, dan gaan ons ons nie aan julle steur nie.

    Sien dit is die probleem – die aanhaling van teksverse skep ‘n ons – julle verhouding. Ons staan teenoor mekaar. Terwyl ek dink Paulus gesê het dat hy vir die soos ‘n Jood geword en vir die Grieke soos ‘n Griek sodat hy soveel mense as moontlik vir Christus kan wen.

    Ons is op soek na ‘n geestelike ervaring, maar ‘n geestelike ervaring gebou op verhoudings – basiese beleefdheid soos om vir iemand wat goed is vir my dankie te sê. ‘n Geestelike verhouding wat my in aanraking bring ‘n Opperwese – verkieslik die God van die Bybel van wie ek van jongs af gehoor het, maar nie noodwendig nie.

    Wil jy nie ‘n slag luister na iemand wat nie al die kennis het nie en nie al die antwoorde het nie en net probeer verstaan…

  13. Heb.12:2 psalm 51:12.”Skep in my n nuwe gees.”
    Hoeveel waarde heg ons net nie aan die woord ”gees” Slegte gees..goeie gees ,verlore gees, verkeerde gees ,mooi gees ens.
    Wat bepaal die menslike gees. Wat is die bedoeling van die woord gees. Een verklaring se ”dit is die karakteristiek of kenmerk van die mens.”
    Dit is my gees wat gaan bepaal watter uitwerking of effek dinge of mense op my gaan uitoefen ..en nie die teenoorgestelde nie. Ons kla so baie oor die uiterlike dinge en omstandighede en verklaar dan dat dit n uitwerking op ons gees het of gehad het…dit hoort nie so nie. Dit is met watter gees ek dinge aanvaar wat gaan bepaal of dit enige uitwerking op my gaan uitoefen..Die skrif se mos ”Hy wat sy gees kan beheer kan n stad inneem” Baie van ons kan ons gees nie beheer nie dan skrywe ons dit toe aan ons ”humeur” maar dit bepaal juis wat se gees jy besit.
    Dit is soos n vol glas water as jy dit stamp gaan dit net oorvloei met water niks anders nie….die bepaal die inhoud..so ook met ons as ons stampe kry is die oorvloei n bewys waarmee ons gevul is..en as jy vol van die Heilige Gees is ..nou ja. En dit is die gesindheid wat weer gaan bepaal of ons mense se vertroue on wantroue gaan wen.
    Watter gees, gesindheid moet in ons wees..? Dieselfde wat in Christus Jesus was..Filip. 2:3-8. Ek dink dit beantwoord die gebed in Ps. 51.

  14. Ek moet nou hier toetree tot die gesprek. Ek stem ongelukkig saam met Iemand se vraag. Ben en Burger, julle is welkom om deel te neem aan die gesprekke, maar hou asb. by die onderwerp. Die manier waarop julle deelneem maak dat ander nie insette wil lewer nie.

  15. jammer ” Iemand” ek het ongelukkig nie op jou plasing gereageer nie. Ek stem volkome met jou saam..dat christenskap meer is as bloot net kerk toe gaan en dat ons as ouer christene nie altyd ons christenskap op n praktiese manier uit gelewe het nie. Maar jy moet besef ander kan vir jou die weg wys maar dit is net jy wat dit kan loop.
    Mense gaan jou teleurstel, maar ons moet ook onthou die hele dissipel korps was n totale mislukking in Jesus se tyd totdat…die dag van Pinkster aan gebreek het….en hier wil ek jou bemoedig..kry jou oe van mense af en aanskou die Onsienlike…Hy het belowe dat hy in die laaste tyd Sy gees op julle jongmense gaan uitstort..ek dink dit is nou julle tyd..gryp die geleentheid aan en wees soos die jong Thomas n voorbeeld vir die gemeente..ek vra weer om verskoning en sterkte.

  16. Dagsê Doom!

    Ding wil vanmore vir Twyfelaar kom sê: jy praat die taal wat Ding gepraat het toe Doom die eerstekeer oor wantroue gepraat het.

    Twyfelaar, daai wat jy praat van weergeboorte en van luister na ouens met kennis en geestelike verhoudings – man, Ding hou so van wat jy sê!

    Kyk, Ding het nie ‘n probleem met mense wie kennis het van die Skrif nie – dis broodnodig.

    Ding reken nogal Burger het by #13 waardevolle insette gelewer. Enigste punt waar Ding sal verskil: Burger, ons bly steeds onvolmaakte mense wat beteken dat ons denke en optrede nie noodwendig ALTYD sal luister en volg wat die “gees” in ons wil dikteer nie. Derhalwe, manman mag momenteel reageer as humeurig, maar die vraag is: sal manman darem oomblikke later by die punt uitkom dat hy na sy gees luister?

    Ding reken nogal op ‘n manier gesels almal hier in een rigting en dit is:
    Wantroue word herstel deur vertroue te kweek met dade, dade wat voortspruit uit die kennis van hoe “christene” behoort op te tree, kennis wat fundamenteel of selfs afgeleid aan die Bybel ontleen word. ‘n Persoon se ingesteldheid (gees) word gelei deur die kennis en wete van wat behoort te wees, van hoe opgetree behoort te word. Geen twee mense se siening en standaarde is presies dieselfde in elke opsig nie. Gevolglik gaan ons altyd in debat en in die lewe in die algemeen sterker, strenger, nouer en meer toegeeflik, minder nougeset en wyer opinies vind.
    Is die kuns nie maar net:
    1. Klaar met jouself uit hoe JOU lewensloop moet lyk, hoe JOU gees moet groei en lewe; en
    2. Leef en laat leef deur verdraagsaamheid sonder om jou gees se lewensloop te “compromise” nie?
    Verhoudings is dinamies: dit groei deur wedersydse begrip en toegewing.
    Dankie vir die geleentheid, Doom

  17. Twyfelaar se bydrae getuig van iemand wat soekend is. Die feit dat hy op soek is na ‘n geestelike ervaring wat gebou is op verhoudings, bewys maar net weer eens dat hy sy Godgegewe en -ingebore versmagting na ‘n verhouding met die Skepper van die heelal en ook met sy medemens nie kan ontvlug nie. Moontlik is dit die rede waarom iemand op ‘n dag gesê het: “Man’s soul remains restless until he finds eternal rest in God.”

    Ongelukkig verontagsaam hy die enigste wyse waarop so’n verhouding tot stand gebring kan word. Enige verhouding begin by ‘n ontmoeting en kennismaking. Dis tog logies dat jy nie ‘n verhouding met iemand kan aanknoop nie tensy jy deur iemand anders aan daardie persoon voorgestel word. Dit is juis die rede waarom Christus mens geword het om verlore sondaars aan sy Vader voor te stel en hulle in die regte verhouding met Hom en ook hulle medemens te bring. Die Here Jesus het dan so duidelik gesê dat ons niks sonder hom kan doen nie. Dit beteken gewoon dat enigiets wat ons sonder Hom wil doen – soos o.a. om in eie krag en op ander maniere ‘n verhouding met God en jou medemens te kweek – gewoonlik op ‘n fiasko en mislukking uitloop.

    Ai! Twyfelaar, een van die eerste kenmerke van ‘n getroue vertroueling in enige verhouding is om jou by jou eie reëls en leuse te hou, en ek is jammer om dit te sê, maar jy slaag nie jou eie toets nie. Jy het ‘n kleintjie dood aan die aanhaal van Bybelsverse en allerhande uitsprake oor wedergeboorte beïndruk jou nie, maar jyself gryp baie gou na Paulus se uitspraak dat hy vir ‘n Jood geword het soos ‘n Jood en vir ‘n Griek soos ‘n Griek sodat hy hulle vir Christus kan wen. Wat anders beteken die uitspraak “om hulle vir Christus se wen” as om iemand tot bekering te lei?

    Ek wil jou van harte aanraai om in jou soeke na ‘n verhouding met die God van die Bybel en jou medemens by Christus te begin. Glo my, daar is geen ander manier nie.

  18. Ai Thomas, wat kan ‘n mens nou sê. Ek is jammer dat ek nie jou geestelike volwassenheid het om oor hierdie sake te redeneer nie. Dit is juis hierdie aanvallende en verkleinering van mense wat anders dink en anders voel, wat ons geslag skepties gemaak het. Het jy ‘n idee hoeveel mense het die sondaarsgebed (sinners prayer) gebid wat by bekering gebruik word en vandag nog getuig dat hulle hemel toe gaan, maar leef asof hulle nog nooit van God gehoor het nie. Om mense vir Christus te wen beteken tog seker ook om mense sover te kry om in Jesus Christus se span te speel – by wyse van spreke. Jy kan tog nie aanspraak maak dat jy iemand vir die Blou Bulle gewen het as die persoon nog steeds die Leeus ondersteun nie.

  19. Twyfelaar: Verstaan ek jou reg dat jy my en alle Christene soos volg opgesom het?: Ek het nie juis daartoe bygedra dat die wêreld ‘n beter plek is nie. Ek het nie ‘n verhouding met die mense rondom my nie. Ek is vir niks op aarde goed nie. Ek ontvlug hierdie goed geskepte aarde deur te sit en wag op die Wederkoms.

    Waarom skryf jy dan vir Thomas: “Dit is juis hierdie aanvallende en verkleinering van mense wat anders dink en anders voel, wat ons geslag skepties gemaak het.” Kom nou. Thomas is die enigste een wat vir jou die antwoord gegee het. Jy skuld hom ‘n verskoning en ‘n beleefde dankie.

    Dalk het jy nie van sy antwoord gehou nie en voel jy geregverdig in jou voorneme om jou nie aan Christene te steur nie tensy hulle aan jou verwagtinge voldoen nie? Twyfelaar, jy hoef regtig nie Christene sleg te maak nie. In die spieël van die Wet, weet ons klaar dat ons vername sondaars is:

    Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie. Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Eer jou vader en jou moeder, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie. jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie, jy mag nie jou naaste se huis begeer nie, jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.

    Wat jou opinie oor Christene is, is nie van belang nie, maar jou opinie oor Jesus Christus, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Die Here het vir jou ‘n gewete gegee wat jou sal oortuig dat jy ook skuldig staan voor die Heilige van Israel, of jy in Hom glo of nie. Wat gaan jy doen? Hoe kan jy jouself regverdig?

    Daar is ‘n ons-julle werklikheid en die sleutel is in die Bybel.

  20. Sorry Thomas, volgens Amanda skuld ek jou ‘n verskoning.

    Niks hier het my oortuig dat daar begrip is vir mense met wantroue – vir watter rede ookal nie. Ding het die naaste daaraan gekom om te hoor wat ek sê.

  21. Twyfelaar: Jy is reg om mense te wantrou, maar waarom wantrou jy Jesus Christus wat jou uitnooi: Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig. Mat 11:28-30.

    Thomas het vir jou die woorde van die ewige lewe gegee in ooreenstemming met Jesus wat gesê het: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Joh 14:6.

    Watter onreg het jy in Jesus Christus gevind wat maak dat jy Hom nie wil vertrou om jou volle redding te bewerkstellig nie?

  22. Twyfelaar, jy kan verseker weet dat ek, nes jy, nie veel vertroue het in die sg. “sinner’s prayer” nie. Ek lees nêrens in die Skrif dat iemand ‘n gebed agter iemand anders moet opsê om gered te word nie. Ek weet reeds dat jy nie daarvan hou om met Bybelverse toegetakel te word nie, maar laat my toe om ten minste die volgende waarheid uit die Woord van God vir jou te noem.

    Toe die skare die Here Jesus gevolg het, het Hy nie na hulle omgedraai en gesê: “Dié van julle wat my wil aanneem, kom vorentoe en bid asseblief hierdie sondaarsgebed saam met my” nie. Hy het telkens vir sy dissipels en die mense wat agter hom aangekom het daaraan herinner dat daar net een manier is om Hom te volg, en dit is om jouself te verloën, jou kruis oop te neem en Hom te volg. Hiermee het die Here Jesus deurgedring na die kern van ons almal se probleem en dit is dat ons ons eie harte nie kan vertrou nie (Jer 17:9 – “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”). Vergeet dus maar gerus van jou wantroue in ander mense, terwyl dit ons eie harte is wat onbetroubaar is. Miskien sal jy my weer daarvan wil beskuldig dat ek jou aanval en verkleineer, maar laat my asseblief toe om eerlik en opreg met jou te praat. Wanneer ons ander mense wantrou, is ons maar eintlik besig om soos die Farisieër daarop te roem dat ons nie soos ander mense is nie. Ons kan hulle nie vertrou nie maar hulle kan so waar as vet vir my vertrou omdat ek nie soos hulle is nie.

    Redding of verlosssing gaan ten diepste om ‘n eerlike en opregte kykie na jouself – natuurlik in die lig van die Bybel want dit is in God se spieël dat ons ons eers werklik kan leer ken. Dit is eers wanneer iemand bereid is om na die Lig te kom dat hy of sy agterkom dat hulle verlore is. Ek sê altyd vir mense dat iemand wat nog nie tot die besef gekom het dat hulle verlore en op pad hel toe is nie, kan nie gered word nie. Ek sê dit op sterkte van Jesus se woorde in Lukas 19:10: “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” Hy kan alleenlik diegene vind wat weet hulle is verlore. Iemand wat nie besef hy is verlore nie, het nie ‘n Saligmaker nodig nie. Het jy ‘n Saligmaker nodig, Twyfelaar?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: