Na gister se inskrywing oor “Geestelik maar nie Godsdienstig”, besef ek dat die groep mense wat op soek is na ‘n geestelike belewenis met ‘n Opperwese die kerk en kerkleiers nie meer vertrou nie – daar is wantroue, ernstige wantroue. Een moontlike reaksie op hierdie situasie van wantroue is om vir die kerk tong uit te steek en te sê: “Kyk wat het julle aangevang!”So ‘n opmerking sal egter nooit die saak van die koninkryk van God kan bevorder nie.
Ek kom baie kere agter dat mense hierdie wantroue uitspreek of wys wanneer hulle hoor dat ek ‘n Christen is. Dikwels word die gesprek summier beëindig.
Dit is natuurlik vir niemand ‘n aangename ervaring om te hoor of te beleef dat hy/sy nie vertrou word nie. ‘n Natuurlike en meestal negatiewe reaksie op so ‘n ontdekking van wantroue, kan enige van die volgende wees:
1. Verdedig: Wanneer ons agterkom dat mense negatief oor ons dink is ons eerste reaksie gewoonlik om te verdedig, deur die fout eerder by die ander persoon te soek en die foute van die verlede te probeer verduidelik. Verdediging maak egter dat ek my afsluit van die persoon wat my nie vertrou nie.
2. Kry seer. As ons agterkom dat ons nie vertrou word nie, neem ons dikwels persoonlik aanstoot. Alhoewel ons dit baie moeilik sal erken, sien ons onsself as die een wat in hierdie situasie benadeel is. Die gevolg van hierdie reaksie is dat enige openheid vir begrip van die ander persoon se situasie benadeel word.
3. Vermyding. Skep afstand tussen my en die persoon wat my nie vertrou nie. Dit is veel makliker om die liefde van God uit te dra en uit leef teenoor mense wat soos ek dink en voel. Die probleem is vanselfsprekend – ek kon mos nie die goeie nuus na die wêreld neem as ek net met eendersdenkendes besig is nie.
4. Veroordeel. As gevolg van seerkry en trots (selfs hoogmoed) is ons natuurlike reaksie die van veroordeling. Ons kan nie glo dat mense nie die positief reageer op die wonderlike boodskap van God se liefde wat ons bring nie, dat veroordeling ons laaste wapen word – “… kyk net na sy/haar god-lose en kerk-lose lewe, dan sal jy verstaan.”Hierdie benadering bevestig net vir die persoon dat hy/sy reg was om nie te vertrou nie.
5. Argumenteer: Ons beleef dikwels mense se reaksie van wantroue op ons Christenskap as ‘n uitdaging. Dan probeer ons hierdie mense met een of ander vorm van logika oortuig en ons moet te alle koste seker maak dat ons nie die rondte verloor nie. Ons wen dalk die rondte, maar verloor die persoon.
Hou in gedagte dat ek “boots en all” my “geestelike” verstand gekry het toe hierdie vyf reaksies nie net natuurlik was nie, maar ook geregverdig is. Ek betrap myself male sonder tal, dat ek nog met een van hierdie “natuurlike” rekasies reageer – soms dink ek dit is die natuurlike mens waarvan Paulus so skryf.
Wat ek wel vandag besef, is dat nie een van hierdie reaksies ooit daarin sal slaag om wantroue om te sit in vertroue nie.
Dalk moet ons in navolging van God meer soos hulle word soos Hy mens soos ons geword het.
Doom
Ek stem, “Meer en meer soos Jesus”. Ek is ‘n getroue kerkganger en is betrokke. Wat as dit moeilik raak om mense IN die kerk te begin vertyrou eerder te begin wantrou, soms moet ons verdedig, agrumenteer en kry ons seer. Is dit ook net reaksies of is dit dalk teleurstelling in wat ons nie verwag van mede christene nie.
As ons mense nie kan vertrou nie raak dit al moeiliker om God in alles te vetrou – ek hoop Doom verstaan wat ek wil sê. Ons soek tog ook die Jesus in ander mense.
Pieter: Ek dink die wantroue wat maak dat mense “geestelike maar nie godsdienstig” is nie, is juis as gevolg van Christene wat anders optree in verhoudings as wat van hulle verwag is. Ek dink anders optree het nie in die eerste plek te make met “petty” sondes soos moenie drink nie, moenie rook nie, moenie, vloek nie. My mening is dat hierdie wantroue is as gevolg van verhoudings-mislukkings, en dan seker ook gemeenskaps-mislukkings. Maar… ek sou graag wou sien wat sê van die ander hieroor.
Die wan persepsie by mense is dat hul dink christene is perfek, wat nie die geval is nie, en sal ook nooit wees.
Ongelukkig oor die eeue heen het mense die bybel verkeerd geintrepreteer, om vir mense te se so en so leef ‘n christen, soms sal ons hoor mense se pietie is ‘n goeie christen, maar wat ons sien is net oppervakkig. as ek die bybel reg lees het Christus vir niemand gevra om perfek te wees nie, hy het juis gese dat hy gekom het vir die wat sondig is.
Wat ons moet preek is liefde en dankbaarheid, nie vrees of iets wat ons weet onmoontlik is om te behaal nie, die enigste ding wat mense verander is liefde, aanvaarding en om daad by woord te voeg.
Môresê Doom!
Ding wonder nogal of enige van die reaksies regtig so van die wal af is, Doom.
Ding reken die ware grondvereiste is opregtheid. Voeg daarby Tiens se laaste paragraaf van sy kommentaar.
Ding meen nou maar: ding sê vir Doom in opregtheid dat Ding vir Doom en die kerk eenvoudig nie vertrou nie. Ding sal eerder vir die oomblik Doom se opregte reaksie, wat enige van die gelystes mag wees, ervaar, as ‘n gekunstelde, gevleuelde reaksie omdat Doom eintlik vir Ding wil probeer oorhaal om wel te vertrou.
Doom, Ding mis die punt waarskynlik hier – dis net dat Ding nogal reken dat vertroue/wantroue ‘n besluit en ingesteldheid is wat manman op grond van sy waarneming en ervaring maak en woorde van ‘n ander man gaan nie sommer daardie besluit en ingesteldheid woeps waps verander nie. Vertroue/wantroue is diep, groot begrippe en dit het gevolge wat ver paaie loop.
Grondgroete
d
Ds. Attie
Ek is diep geraak deur hierdie stuk.
Ek is seergemaak deur ‘n geestelike leier. Hy is (of was?) een van my menstors. Hy belowe goed, maar kom dit bitter selde na. Hoe kan ek geestelike leiers (of enige leiers) ooit weer vertrou?
Wat Tiens se (“Die wan persepsie by mense is dat hul dink christene is perfek, wat nie die geval is nie, en sal ook nooit wees.”) verstaan ek nie. Hulle is nie perfek nie, ek besef dit, maar moet hulle nie ‘n poging maak om anders te wees nie?
Ag, ek praat anyway nie oor “gewone” kerkgangers nie. Ek is so ‘n “gewone” kerkganger. Ek praat oor geestelikie leiers: Dominies, pastore, en jeugleiers.
seergekry: Ek wens ek het vir jou ‘n kort en vinnige antwoord gehad. Ek het nie. Wat ek weet is dat geen geestelike leier ooit aan al die verwagtings van mense voldoen nie, maar ek dink jy praat van iets anders. jy skryf die persoon was jou mentor. Ek vermoed die persoon weet nie eers hoe jy voel nie. Wat belangrik is, is hoe hierdie gebeure jou raak. Jy moet jou bes probeer om hierdie saak agter jou te kry, nie ter wille van die persoon nie, maar ter wille van jou eie verhouding met jouself en met die Here. Vertrou die Here om vir jou ‘n ander mentor te gee – en onthou: Jy is die beste Christen wat iemand anders ken.
Sterkte
Dankie Ds. Ek skat dit sal ‘n tydjie vat. Maar ek gaan probeer