Ek gesels ook op Facebook met ‘n paar mense. ‘n Paar dae terug lees ek by iemand se godsdienstige voorkeur die woorde “Spiritual but not Religious” raak. Ek verstaan toe nie presies wat met die uitdrukking bedoel word nie en gaan lees toe ‘n bietjie meer oor wat met die uitdrukking bedoel word.
Ek kom toe op ‘n artikel van Robert C Fuller af wat verduidleik wat die uitdrukking beteken.
Volgens Fuller identifiseer 1 uit elke vyf – helfte van die kerklose mense – hulleself met hierdie uitdrukking, en is dit moontlik dat verskillende mense die uitdrukking verskillend verstaan. Voor die 20ste eeu was hierdie twee woorde sinoniem – ek vermoed vir meeste is dit vandag nog so. Met verloop van tyd het die woord geestelik meer die betekenis gekry van ‘n mens se private en persoonlike verhouding met ‘n “Opperwese”, terwyl “godsdiens” die openbare en institusionele deel van ‘n mens se verhouding met die “Opperwese” – met ander woorde “kerk” beskryf .
Die volgende help ‘n mens om iets van hierdie groep te verstaan:
- Hulle verwerp die tradisionele vorm van godsdiens as sou dit die enigste of selfs enige bydra lewer tot die bevordering van ‘n mens se geestelike lewe.
- Baie het negatiewe ervarings met die kerk of kerkleiers gehad.
- Hulle kon kerkleiers beleef het as meer bekommerd oor die opbou van ‘n organisasie as met die bevordering van mense se geestelike lewens.
- Hulle het een of ander vorm van emosionele of selfs seksuele misbruik ervaar.
- Hulle fokus meer op die persoonlike sy van die geestelikie lewe en kies dikwels uit ‘n verskeidenheid geestelike moontlikhede.
- Hulle soek na ‘n mistieke element in hulle verhouding met ‘n “Opperwese”.
- Die meerderheid van hulle het ‘n naskoolse kwalifikasie en is deel van die “witboordjie” werkers.
- Hulle het baie liberale politieke oortuigings en hulle ouers was heel waarskynlik nie baie getroue kerkgangers nie.
“Spirituality exists wherever we struggle with the issue of how our lives fit into the greater cosmic scheme of things.”
“An idea or practice is “spiritual” when it reveals our personal desire to establish a felt relationship with the deepest meanings or powers governing life.”
Ek wonder vandag in hoe ‘n mate beskryf hierdie “uitdrukking” mense met wie ons in aanraking kom en in hoe ‘n mate is dit ‘n beskrywing van die mense wat hierdie “blog” lees?
Die probleem is dat mense wil weet hulle lewe het betekenis en dat hulle nie doellose lewens lei nie.
Die spiritsualiteit is meer verdraagsaam teenoor mense van ander denominasies en gelowe, ek sou se die beweging is humanisties van aard en is daarop gerig om mense regte te bevorder omdat daar gevoel word dat die kerk verdeeltheid gebring tussen rasse, gelowe en kulture, die skeiding sal ‘n uitdaging wees vir kerk om die leemte te vul en mense bymekaar te bring, al is dit sekuler van aard.
Ons leef in die 21ste eeu waar baie gebruike gebevraagteken word, hierdie is niks nuuts nie, verandering is so oud soos die wereld self, dis nou die kerk se beurt om ook saam met die tyd te verander sonder om haar basis en sentrale doel te verloor.
Blue Like Jazz was vir lank topverkoper gewees met die subtitel: “non-religious thoughts on Christian spirituality”… hierdie siening is inderdaad baie gewild.
Ek dink een van die groot vrae bly: “Hoe sien iemand sy/haar eie lewe, en die betekenis daarvan?”
En ons word dikwels dan verras met mense se antwoorde op hierdie vraag, omdat ons dink ons weet wat mense dink, maar mense dikwels anders dink as wat ons dink.
Hoe mense mense dus hul lewens beskou, het ‘n wesenlike impak op hoe hulle oor die geestelike dink, en dus ook hul sigbare en nie-sigbare uitlewing daarvan.
Verstommend vir my, is dat hierdie mense uit hul pad sal gaan om ander mense te help, ‘n “Liefde” uit te leef wat nie menslik is nie, sonder om die woord “God” 1 maal te noem. En nogtans, wil hulle nie in ‘n erediens gesien word nie…
Ek dink die kerk sal sy “eind-doel” moet aanpas. As die eind-doel van die kerk bekering met die doel om mense in die kerk te kry is, gaan dit nie werk nie. Die geestelik-maar-nie-godsdienstige mense sal ontmoet moet word waar hulle is met ‘n suiwer agenda. Die eind-resultaat mag dalk in sommige gevalle steeds wees dat hulle in die kerk eindig,maar dit mag nie die agenda wees nie. Gee vir hulle die geestelike belewenis waar hulle is. Help hulle om aan hulle geestelike belewenis inhoud te gee. NB!!! Wag met die evangelie.
Ek dink hierdie inskrywing som spiritualiteit baie goed op – veral hoekom hulle hulself so sien. Ek dink ook dis ‘n teenreaksie teen jare se vormgodsdiens – baie mense het grootgeword met die kergang-ritueel, maar is nooit geestelik gevoed nie.
Haai Attie
So ver my kennis strek van die NT, het Christus in elk geval nie ‘n godsdiens gepropageer nie, maar geestelikheid, dit was myns insiens die apostels wat die stange oorgevat het en struktuur aan die destydse kerk gegee het, tog was dit ook baie eenvoudig omdat van die gemeentes mobiel moes gewees het omdat hulle verdruk was.
Ek kan verkeerd wees maar dalk , net dalk het die kerk sy eenvoud verloor, en agv politiek intern en ook ekstern het dinge baie gekompliseerd geraak deur die eeue heen.
Ek stem saam met boer dat dit wat oorspronklik daar was ontaard het in ‘n vormgodsdiens en God astware ‘n afgod geword het.
In die moderne tye is mense opsoek naiets oorspronklik en eg.
bib, jy praat waar!
Ek wonder nou net, wat is dan werklik ‘godsdienstig’. Moet jy aan n kerk ‘behoort’ om Godsdienstig te wees? Ek dien God alhoewel ek nie fisies aan n kerk ‘behoort’ nie. (alhoewel al my ‘papiere’ by die NG Kerk lê.)
Ek voel ek is beide. Maar ‘kerkloos’ behalwe natuurlik vir my ‘blogkerk’ waar ek mag praat sonder om ‘geoordeel’ te word deur skynheilige predikante en gemeentelede!
Toe Jesus na die aarde toe gekom het in die vlees het Hy nie vir ons nog ‘n geloof met tradisies gebring nie,maar Hy het ons die koninkryk van God gebring.Dit nie ‘n vorm godsdiens nie,met tradisies en gewoontes nie.Dit was sonder tradisies en gewoontes,en dit het behels ‘n persoonlike vrhouding met God self,maar as gevolg van goedjies bylas en gewoontes in te voeg tussen die eeue heen,is die kerk vandag self met sy wereld stelsels self daarvoor verantwoordelik vir die geestelike toestand van sy ledemate,want as gevolg van al die dinge wat God se woord kragteloos maak het mense begin geestelik agteruitgaan en het die kerk sy krag verloor.Daarom dat huiskerke so populer word,want dit is op soeke na die iets oorspronklik en eg ,soos wat dit was,voor ons dit verfomfaai het.Kerk vandag is ‘n tradise en nie meer wat dit was nie.Ek stem heeltemal saam met Boer in Ballingskap en saam met Weetie,Glo net.Die spyker op sy kop geslaan.Ons moet wegbreek en God weer begin soek,met alles wat in ons is.Baie dink hulle gaan Hemel toe,maar daar wag ‘n groot “SURPRISE”vir baie.Ons moet begin wakker word en vinnig word en die ekstra olie vir ons lampies gaan koop.Mense wat opsoek is het nog nooit die ware God ontmoet en ‘n ondervinding met Hom gehad nie.Dit is so goed gestel,God het as ware vir baie mense ‘n afgod geword.Kyk net na spirit sundae en dan sien mens hoe ver ons verdwaal het.
Ek dink die kerk het in ‘n hele paar opsigte gefaal en foute gemaak, maar ek wonder of ons die hele gedagte van die gelowiges as die liggaam van Christus nie buite rekening laat nie. Ek reken die appèl na die gevestigde kerke moet wees dat hulle hierdie spirituele belewenis in hulle verhouding met God moet soek, maar ek wonder of die appèl na die spirituele groep nie dalk moet wees in die rigting van onafhanklikheid na interafhanklikheid.
Ek sou se dat die bestuursliggame wat die besluite neem,die beslissende faktor is wat die foute gemaak het.Die liggaam van christus,die mense moes dan maar net gebukkend gaan onder die besluite(laste)wat op hulle geplaas is,en daaronder ly.Gevolglik word skade aangerig-geestelik,wat dan die oorsaak is dat mense die gemeente.denominasie vaarwel toeroep en by ‘n ander groep gaan aansluit,denominasie,ens..ens,of by die huis gaan sit,of teleurgesteld as hulle uitvind dat hulle die hele tyd gemislei is,en sodoende van die Waarheid beroof is..As hulle egter tyd spandeer en na God luister,sal die dinge nie gebeur nie.Hoe kan ‘n mens geestelik wees en nie godsdienstig nie?Ek sou se dat dit dan vals werke is van die vlees en nie werke van die Gees van God nie.Hoeveel jare gaan die kerk nog faal en foute maak en afwyk in sekere opsigte van God se woord en dan later as die skade gedoen is,se hulle is jammer,nadat die helfte van die kerk dan verdwyn het.dit klink amper soos ‘n vloek wat homself herhaal oor en oor.
Ek is tussen 2 vure op hierdie een. Aan die een kant is kerkgang nie vir my bevredigend nie. Maar wegbly van die kerk is ook nie. God vra beslis dat ek en ander gelowiges in mekaar se lewens moet betrokke wees, mekaar moet ondersteun, soms selfs vir mekaar moet sê: “Dit wat jy nou doen is nie wat God wil hê nie.”
‘n Geloof sonder geloofsgemeenskap vervlak, maar geloofsgemeenskap is baie meer as om net na die predikant te luister Sondagoggend.
Geloofsgemeenskap op die internet is vir my ‘n manier om myself te fool.Ek beweer ek getuig op die internet, maar bedoel die persoon wat my ‘n vraag oor God vra werklik sy vraag? En 93% van wat mens sê word oorgedra nie deur woorde nie, maar stemtoon, liggaamshouding en gesigsuitdrukking. Al daai dinge is afwesig op die ‘net. Ek beweer ek bemoedig ander (internet-)gelowiges, maar ‘n e-pos beteken nie soveel as ‘n kuier nie.
Selkerk dink ek is beter en belangriker as erediensbywoning, maar om saam met ander gelowiges deel te neem aan ‘n geestelike projek met ‘n doel, en saam met hulle te aanbid en voor te berei nog beter. Daarom vind ek betrokkenheid by ‘n Christelike organisasie meer sinvol as by ‘n kerk.