DIE BLOGOSFEER ‘N NUWE VORM VAN KERK

Een van my verantwoordelikhede by ons gemeente is die bediening aan die tieners. (Hopelik is dit teen 1 Januarie 2009 die wonderlike voorreg van ‘n jonger persoon om die uitdagende werk te doen.) Die tieners in ons gemeente (Graad 7-Graad 12) is ongeveer 400. Ons het elke Sondag-aand ‘n erediens vir die tieners waar ek verantwoordelik is vir die preke. As ons aanvaar dat ons oor hierdie 16 maande elke aand 400 tieners in die kerk gehad het (Wat nie so is nie, want hulle is nooit 100% teenwoordig nie en ons het nie tiener-eredienste in die vakansietye nie.) dan was daar in die 64 weke (16 maande) ongeveer 26 000 (64X400) tieners met wie ek gepraat het.

Ek het op 23 Augustus 2007 my eerste “post” hier geskryf. Sedertdien het ek met die uitsondering van ongeveer ‘n maand feitlik elke dag hier kom skryf – ‘n gemiddeld van 6 “posts” per week. Sommige dae het ek geen kommentaar gekry nie,  ander dae het ek baie kommentaar gekry, maar ek kan ook reken op ongeveer 4 kommentare per dag wat uitloop op ongeveer 28 kommentare in ‘n week.

In hierdie 16 maande het ek kort duskant 60 000 “hits” gehad. Dit beteken dat ek oor ‘n tydperk van 64 weke 938 mense per week gehad het wat na my kom “luister” het – dubbel die getal tieners. Inderdaad was almal nie positief daaroor nie en het almal nie met my oor alles saamgestem nie, maar almal in die kerk en onder die tieners stem ook dikwels nie saam met alles wat ek of enige ander dominee sê nie.

Daar is natuurlik die verskil dat baie mense uit gewoonte uit kerk toe kom – wat sekerlik nie ‘n slegte gewoonte is nie – selfs al hou hulle nie van die dominee nie, kom hulle in elk geval – waarom dit so is weet niemand regtig nie.

Die verskil met die “blogosfeer” is dat mense nie uit gewoonte kom lees nie. As hulle nie wil lees nie, dan bly hulle sommer maar net weg en niemand weet eers dat hulle weggebly het nie.

Die volgende verskil is ook dat die aantal persone wat reageer 99.9 % meer is as die mense wat gewoonlik op ‘n dominee se preek op ‘n Sondag reageer, en dan sê 99 uit die 100 gewoonlik – “dankie dit was ‘n mooi preek” en dan weet ‘n mens nie eers of hulle dit bedoel nie.

Die een groot probleem met die “blogosfeer” is natuurlik wat sommige mense beskryf as die onpersoonlike aard daarvan. ‘n Hele paar van ons sal sê dat dit nie noodwendig waar is nie, die wat gereeld in die “blogosfeer” kuier, sal weet dat die mense wat reageer later vir jou ‘n persoonlikheid begin kry. As ek bv. sien dat Ben of Twyfelaar of flippiefanus kommentaar gelewer het, dan het ek alreeds ‘n idee wat die aard van die kommentaar gaan wees. Met ander woorde, verhoudinge word wel gebou.

Ek dink nie die “blogosfeer” sal ooit kerk kan vervang nie, maar dat die “blogosfeer” se trefwydte die van die meerdherheid gemeentes oortref, behoort iets te wees wat ons in gedagte moet hou.

Vraag: Hoe voel jy oor die gedagte dat die “blogosfeer” sommige mense se kerk kan wees?

13 thoughts on “DIE BLOGOSFEER ‘N NUWE VORM VAN KERK

Add yours

  1. Attie

    Blogosfeer kerk kan die eerste stap wees om te keer dat mense nie heeltemaal kerkloos raak nie. Veral diegene wat die kerk vermy oor sekere mense wat alles oorgevat het.

    Ek dink egter ook dat dit nooit kerk kan vervang nie. Ideaal sal dit mense moet oortuig om weer ‘n kerk te vertrou.

    Dit is nogal jammer dat daar nie meer blogs is wat verskillende kerke verteenwoordig nie.

  2. Adrie: Ek dink ook nie dit sal ooit “kerk” soos in bymekaar kom en mekaar in die oë kyk vervang nie, maar soos jy sê, ek dink dit kan vir die “ver-myers” ‘n halfwegstasie oppad terug wees. Maar, ek dink ook vcir die mense wat deur die “kerk” verstoot is, kan dit kerk word. Al wat vir my belangrik is, is dat ek die kans kry om te doen wat ek moet doen – die Evangelie te verkondig.

  3. Hier is my kerk weg van die kerk af. Ek stem ook nie altyd saam nie, en party van die “lidmate” wen my so nou en dan, maar ek leer so van naasteliefde. Liefde vir mense sonder ‘n gesig…

  4. Dit vervang dalk nie kerk self nie, maar ek dink dit mag dalk ‘n verlore skaap of twee teruglei kerk toe. En vir die wat weens watter rede ook al nie by ‘n kerk kan uitkom nie, is hierdie dalk net die sielevoedsel waarna hulle smag.

    Ekself het beslis al veel meer geestelike kos hier gekry as in ‘n regte kerkgebou.

  5. Dit sal nooit die liggaam van Christus kan vervang nie.Dit dien definitief as middel om iemand wat nie kerk toe gaan nie,of afgedwaal het,of langs die pad gaan sit het omrede hy seergekry het binne in die kerk net te lawe en hom uit sy dop te laat kruip en miskien dalk net eendag weer sy gesig te wys.Omdat niemand regtig weet wie wie is nie,lig mense hulle mening omrede hier nie titels betrokke is nie,en veskillende denominasies hier hulle mening lug.Niemand weet bv.hoe oud ek is nie,of ek ‘n evangelis is nie,of ‘dalk ‘n ouderling in jou eie kerk onder ‘n skuilnaam.As ek dalk 30 grade agter my naam gehad het sou iemand baie jonger my dalk nie aangevat het nie,maar nou dat ek anoniem in gesig en teenwoordigheid is ,maar teenwoordig in blog is dit ‘n ander saak.

  6. Ek wil nooit die indruk skep dat my “blog” ‘n plaasvervanger vir kerk is nie, dalk eerder dat dit ‘n deel is van die manier waarop ons in die 21ste eeu OOK kerk kan wees.

  7. “Kerk” is vir my nie net ‘n gebou of iets wat op ‘n Sondag gebeur nie. Nee “kerk” oftewel die liggaam van Christus is die versameling van alle Christene op aarde wat interaksie het met mekaar. Deel van hierdie interaksie kan oor die internet en spesifiek in die bloggosfeer plaasvind. Bygese, fisiese interaksie is ook nodig en daarom sal kerkdiense en/of Bybelstudie groepies nooit regtig vervang kan word nie.

    Deel van die geloofsbeleidenis lui: Ek glo aan die gemeenskap van die heiliges. Hierdie gemeenskap kan ten minste deels oor die internet plaasvind.

  8. Blogs word ‘n hub wat mense met mekaar oplink. Die blog self word nie kerk nie. Immers, wanneer jou kind doodgaan, dan kan sy nie virtueel begrawe word nie, en het jy meer as virtuele ondersteuning nodig. Maar in hierdie oplink, daar vind kerk plaas. Hier connect mense wat baie keer dan wel die dag wat die popo die fan strike vir mekaar kan kerk wees. Ek het dit besef toe ek begin trou-kaartjies uitstuur so ruk terug en sien hoeveel mense ek as my closeste vriende beskou wat ek deur blogs ontmoet het.

  9. Hierdie is pitkos vir die siel en die opdrag is om die boodskap te versprei; daar is nie voorgeskryf hoe nie.

    Ds Attie, dan is daar mense soos ek wat getrou lees op my eie “blogsurfer” en ek reken dit registreer nie eens as ‘n hit nie.

    Ja, dit vervang nie kerk nie, maar dit bring beslis die boodskap by mense wat dalk nie altyd by ‘n fisiese kerk kan uitkom nie.

    Moet nie ophou nie – ons het hierdie blog meer nodig as wat jy dink!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: