EK WOU IETS KOM SKRYF HET…

Ek het vroeg vanoggend kom sit en telkens probeer om iets sinvol op die blog te kom skryf.

Ek kyk by my venster uit en ek sien die mooi groen gras na die laaste week se reën; ek sien die Magaliesberge waarvoor ek so lief geword het; ek het vir my gesin koffie geneem en terwyl ek die koffie neersit het ek in my gedagtes vir die Here vir elke een van hulle dankie gesê en ook gebid vir dit wat ek weet vandag vir hulle voorlê. Ek hoor nou hoe my gesin in die huis besig is om wakker te word en reg te maak vir die dag.

Maar, na verskeie probeerslae is daar steeds niks om te skryf nie. Niks wat vanoggend nie kunsmatig en halfhartig gewees sou word nie. Dit is nie dat ek moeg is vir “blog” nie, die kontak met ander mense wat my gedagtes stimuleer, is vir my baie lekker. Veral omdat ek graag wil hê dat mense my met hulle insette moet uitdaag om anders en nuut te dink. Dit is nog steeds vir my lekker om te “blog”, die tamheid lê iewers anders.

Die probleem is dat ek nie weet waar die tamheid lê nie. Dit kan wees dat dit die tipiese einde van die jaar “blues” is. Dit kan ook wees dat ek so skrik vir alles wat nog binne die volgende twee weke gedoen moet word, dat ek eerder verlam sit en wonder hoe ek alles gedoen gaan kry. Dit kan ook wees dat die pas van die laaste ses maande sy tol begin eis en dat die energie net nie is wat dit moet wees nie.

Hoe dit ook al sy, vanoggend kon ek nie met iets vorendag kom om hier te skryf nie.

Maar terwyl ek skryf kom woorde in die Bybel by my op: Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs, maar die wat op die Here wag kry nuwe krag hulle vaar op met vleues soos die arende, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

Ek sal op die Here wag… terwyl ek doen wat my hand vind om te doen.

8 thoughts on “EK WOU IETS KOM SKRYF HET…

Add yours

  1. Ek het al op verskeie geleenthede in die afgelope 2 jaar breuke van blog gevat, partymaal a.g.v ‘n gebrek aan tyd, ander kere net omdat… ek weet nie hoekom nie, net omdat ek nie iets gehad het om te skryf nie. Elke keer was dit goed, en iewers dan kom ek terug, en dan het ek so baie om te skryf ek moet myself forseer om by een post per dag te bly.

  2. Dagse Attie
    Lees al gereeld jou koffietafel,en geniet al jou praat dinge.En altyd is daar n boodskap wat my so nader trek,laat stop en dink.Gee maar kans,jou skryf is nog nie klaar nie.
    Sakman

  3. Ek wens my niks het soos joune geklink! Selfs deur jou blues inspireer jy, ek meen dis nie net ons ‘gewone’ mense wat moeg raak nie! Dominees raak ook moeg!

Lewer kommentaar op Cobus Kanselleer antwoord

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑