KAN DIE ANC BINNE DIE VOLGENDE 8 JAAR…?

Die dinge in ons ou landjie lyk nie goed nie.

Misdaad word steeds erger.

ESKOM se krag is skielik weer skaars as dit naby aan begrotingstyd kom.

Korrupsie word erger.

In hierdie week se koerant lees ek weer van ‘n konstabel wat een van die ministers se drywers is, wat ‘n ander man se band stukkend skiet omdat hy nie vinnig genoeg uit sy pad uit kom toe hy verby jaag nie. Die man het op die ou end teen ‘n aankomende vragmotor gebots. Toe die polisie hom wou arresteer het ‘n paar van die ministers probeer keer dat hy gearresteer word.

In vanoggend (Maandag) se Beeld is daar ‘n berig oor ‘n man wat met die Provinsiale Owerheid se verkeersvoertuig 246 km per uur in ‘n 120 km area gery het, maar geen boete gekry het nie en die LUR mag om veiligheidsredes nie die besonderhede bekend maak nie.

Die ANC raas met die SABC om die Pres. Motlanthle meer aandag kry as Zuma.

Brand daar voor in die wapad dalk ‘n lig?

Gister se koerant berig dat die ANC se ondersteuning besig is om te daal en dat die ANC tydens die volgende verkiesing selfs 20% minder stemme kan kry. Volgens die uitslae van 2004 het die ANC net minder as 70% van die stemme gekry. Ek dink nie ons sou realisties wees om te verwag dat dit by die volgende verkiesing al gaan gebeur nie, maar selfs ‘n meerderheid in die omgewing van 55% sou ‘n groot verskil kon maak.

Regeringsamptenare en organisasies pleeg bedrog en vedraai feite onder andere en selfs hoofsaaklik omdat hulle daarop kan staat maak dat die regering, wat op die oog af met so ‘n meerderheid en volgens Zuma se Graad 8 wiskunde en logika, tot by die wederkoms gaan reageer.

Maar nou, “there is a new kid on the block”. Ek dink nie COPE kan die verkiesing wen nie. Ek dink ook nie die DA kan die verkiesing wen nie. Ek dink ook COPE gaan ‘n hele paar van die DA se ondersteuners vat. Maar, as die ANC se meerderheid sou kon daal tot om en by 55%, kan dit wees dat dinge sal verander?

COPE gaan waarskynlik saam met ‘n paar van die ander partye in enkele provinsies en beslis in ‘n hele paar stadsrade die oorhand kry.

Kan dit wees dat regeringsamptenare ‘n bietjie meer versigtig gaan wees vir bedrog omdat hulle geen waarborg gaan hê dat hulle vfir altyd beskerming gaan kry nie. Daar sal altyd die wees wat bedrog pleeg – daar was ook die wat dit voor 1994 gedoen het.

Kan dit wees dat wetstoepassers anders na misdaad gaan kyk omdat hulle meer onder die indruk gaan kom dat hulle vir die mense van die land werk en nie vir die party met 70% verteenwoordiging in die land nie?

Kan dit wees dat die regering van die dag dan sal begin besef dat hulle hulle sokkies sal moet optrek indien hulle die kiesers by die volgende verkiesing hulle kruisies op die regte plek wil laat trek?

Dalk is dit alles spekulasie, maar is hierdie nie die tyd waar ons mense moet aanspoor om te gaan stem nie. Maak nie saak vir watter party nie. Ek sou wou pleit dat daar ‘n stem uitgebring word om die ANC se magsposisie te laat wankel en van daar af na die volgende v erkiesing kan die politieke speelveld verander, en wie weet, dalk vind daar weer ‘n wonderwerk plaas en ons word ‘n ware demokrasie in Suid Afrika waar verskillende partye met grasie die bewind aan ander oorgee.

Ek begin voel dat dit my Christelike plig is om ter wille van ons voortbestaan in hierdie land, nie net te gaan stem nie, maar ook ander aan te moedig om te gaan stem.

Wat dink jy?

6 thoughts on “KAN DIE ANC BINNE DIE VOLGENDE 8 JAAR…?

Add yours

  1. Weetie so mooi nie doom, die tipe haatspraak wat heen en weer vlieg is baie dieselfde as net voor die Rwanda volksmoord, en die tipe geweld lerieke in umshiwame en SAKP en die anc jeugliga wat se hulle sal dood maak vir Zuma laat my worrie

  2. Weetie… ek hoor Lekota sê ook hierdie dinge, maar Pik Botha het by geleentheid ook vertel hoe die Natte en die Sappe mekaar by vergadering met die vuiste getakel het en vergaderings opgebreek het.

    Natuurlik is die omstandighede anders, maar ek wonder steeds of hier nie tog dalk ‘n sprankie hoop kan wees nie.

    Ek bly kom wat wil, waarom dan nie met hoop bly nie?

  3. Attie, ek dink darem nie dis ‘n “Christelike” plig om te stem nie. Dit is wel die voorreg van burgers om te stem (of nie) en moontlik ‘n “burgerlike” plig. Die verwikkelinge in die politiek is interessant en kan as positief gesien word. Ek dink egter nie mens moet sommer aanneem dat alles wat fout is in die land voor die ANC se deur gele kan word nie. Dit gaan ook nie noodwendig beter gaan as hulle ‘n kleiner minderheid het of dalk nie meer regeer nie. Ek sal nooit stem “net om ‘n stem teen die ANC” uit te bring nie. Dis ‘n valse motivering. Ek sal stem slegs wanneer daar ‘n ander, alternatiewe party is wat goed-deurdinkte, innoverende, regverdige en haalbare beleidsrigtings het wat in ooreenstemming is met my eie waardes. Andersins smous ek nie my stem nie.

  4. BiB jy maak nogal ‘n baie nugtere punt hier. Ek is meestal geneig om glad nie te wil stem nie omdat die hele proses vir my net nie werk nie. Maar nou met al die boodskappe wat van alle kante af op my afkom dink ek tog maar ek sal my bydrae maak. Ek verwag nie dat daar enige party sal wees waarmee ek volkome saamstem nie. Nogtans het ek reeds besluit vir wie ek gaan stem met ‘n definitiewe rede daarvoor.

    Stemreg is ‘n reg dis nie ‘n voorreg nie en ook nie ‘n plig nie. ‘n Reg sluit die reg in om dit nie te doen as mens voel jy wil nie.

    Wat Christenskap betref. Dis ‘n burgerskap in ‘n heeltemal ander volksverband waarvoor daar nie grense is nie en waar ons nie stem vir die regering nie.

  5. Môresê, Doom!

    Ding swyg oor die politiek soos Ding swyg oor sy slaapkamer.

    Ding reken self dat BiB en Flipfaan beide hierbo nugter denke verwoord het.

    Ding het egter ook begrip vir Doom se mening. En al is Ding se kennis van die Skrif maar uiters gebrekkig, is Ding oortuig daarvan dat Doom sy stelling regmatiglik sal kan motiveer – bloot omdat dit so is: herders behoort na hulle skape om te sien op alle gebiede.

    Dat die nommers op die oomblik nie lekker loop in hierdie land van ons nie, is ongetwyfeld so. Ongeag die uitslag van die verkiesing, bly dit ons plig om in naasteliefde elke dag deur te bring en wat ons doen, na die beste van ons vermoë te doen.

    Ouding reken egter tog maar dat die kerk baie versigtig met die politiek moet omgaan. Die twee het vir net te lank, selfs in ons land, ‘n te intieme verhouding gehad. Vir net te lank was hulle ongeoorloofde bedmaats.

    Grondgroete
    D

  6. Flippie en Bib – julle maak geldige punte.Ek wonder as ‘n mens sou praat van Christelike verantwoordelikheid of dit dalk beter sou klink.

    BiB: In ‘n mate stem ek saam met jou dat dit nie sin het om net ‘n teenstem uit te bring nie, maar ek het ‘n vermoede dat as meer van ons stem, gaan meer van ons eienaarskap aanvaar vir wat in hierdie landjie gebeur.

    Ding: Nooit sal ek my lidmate motiveer om vir ‘n spesifieke party te stem nie, soos jy sê – history. Dat ek hulle gaan motiveer om te stem is ongetwyfeld so.

    Soos jy sê, die nommers loop deurmekaar, maar dit is maar politiek.

    Hierdie is die onvolmaakte landjie waarin die Here hierdie onvolmaakte mens geplaas het. Hier sal ek lewe en hier sal ek sterwe.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: