EK GAAN NOOIT WEER KERK TOE NIE (2)

Ek het verlede week geskryf oor ons gemeente se gedagte om lidmate te mobiliseer. Dankie vir almal wat bietjie kommentaar daarop gelewer het. Een van die dinge wat ek nou besef is dat ons sal moet seker maak dat ons nie namens die persone dink wat ons wil mobiliseer nie, maar eerder saam met mense moet dink wat in dieselfde situasie is.

Ons mag ook die doel van hierdie “mobiliseringsaksie” vergeet nie. Na my mening mobiliseer ons lidmate sodat die kerk van die Here Jesus haar effektiwiteit in die wêreld kan verhoog. By wyse van spreke ons mobiliseer die kerk sodat die kerk die wêreld kan mobiliseer.

In elk geval staan die volgende dinge vir my uit indien ons so ‘n aksie sou wou loots:

1. Persoonlike kontak. In hierdie tyd van massamedia en maklike en vinnige kommunikasie sal die kerk moet wys dat ons tyd het om by mense stil te staan na hulle te luister en so die reg verdien om gehoor te word.

2. Sigbaarheid in die gemeenskap of omgewing waar ons kerk is, is belangrik. Die kerk kan nie bekostig om die indruk te skep dat net die kerk belangrik is en nie die gemeenskap nie – selfs vir ons eie lidmate kan dit ‘n aansporing wees.

3. Een van die belangriker opmerkings is die gedagte van “slow coaching”, waar iemand wat na ‘n lang tyd nie in die kerk was nie, nou deur iemand anders gehelp word om die “binne-werke” van die kerk te verstaan en daardie uitdrukkings en taalgebruik wat vir die “ingelyfdes” so vanselfsprekend is, te leer ken.

boendoe stel dit so:

“sagte ‘coaching’, want ek is op hierdie stadium baie ‘wild’ sover dit kerkdinge aangaan.”

‘n Ou vriendin stel dit so:

“Die sagte coaching? Stel iemand nog rerig belang om dit te doen?”

EK hoor graag jou gedagtes oor enige een van hierdie drie.

11 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

11 responses to “EK GAAN NOOIT WEER KERK TOE NIE (2)

  1. 1. Face it, as dit nie vir persoonlike kontak was nie, kon ons soeke om te verstaan op die internet alleen bevredig het. Die probleem is dat dit wat jy oopkrap nie bevraagteken word nie en jy dan aanvaar dat jy reg is. Wat groei belemmer. Min mense gooi hulle geloof op ‘n blog oop.

    2. Ek het 3 kerke binne ‘n 15 km radius wat ek kan bywoon, maar ry 30 km na die kerk wat ek wil bywoon. Ek het die ander al bygewoon, maar dit is nie my kerk nie. Noudat jy dit noem, hulle is nie so sigbaar as die kerk wat ek bywoon nie.

    3. Kan waar wees. Ek sal myself nie daaraan skuldig maak nie, ek sal die mense afskrik. Maar kan suksesvol wees as die regte mense aangewend word.

  2. Adrie: Dankie vir jou inset.

    Wat bedoel jy met “sigbaarheid” – ek wil net seker maak.

  3. Nou eers hierdie twee posts gelees (dink ek het die eerste een gemis terwyl ek met legitimasie goed besig was die week).

    Elkgeval, kyk bietjie na die video van Clay Shirky oor organisasie, en ander gedagtes wat ek hier skryf oor om op ‘n open-source manier oor die kerk te dink.

    As Shirky reg is, dan gaan ons bloot op grond van organisatoriese redes nooit almal in ons gemeente by erediens +1 betrokke kry nie. Die model wat sê mens skep ‘n klomp “+ 1’s” en probeer maksimaal mense daar inkry is bloot gelimit in hoe effektief dit kan wees. Maar as ons met ‘n alternatiewe model begin werk, waar ons die bediening van die kerk “open-source”, en mense toelaat om ‘n “+ 1” te tag, dan kom ons dalk agter dat ons mense op verskeie maniere reeds by bedieninge betrokke is, of op kreatiewe wyses betrokke sal raak by bedieninge waaraan die leierskap van die kerk nooit eers gedink het nie.

    Dit gaan natuurlik ‘n kop-swaai vra, want die kerk gaan nie myle kry uit hierdie goed nie, die kerk gaan nie kan wys na al die wonderlike goed wat hulle organiseer nie, maar die koninkryk mag dalk wen. Ek weet nie of dit nou sinmaak nie, so vra maar…

  4. Cobus: Ek is ook daarvan oortuig ons mense is by baie meer dinge wat die liefde van dei Here Jesus uitdra betrokke, as wat ons dink. Maar… ons geslag (ek sluit myself in) sal moet leer om anders te dink oor hierdie dinge.

    Tog mag ons nie vergeet nie dat die “liefdes-dade” ook op een of ander stadium gepaard moet gaan met die vertel van die goeie nuus van God se liefde en God se Seun nie.

  5. Attie

    Sigbaar – jy sien die kerk buite die mure van die gebou.

  6. Attie, ek het myself uit die kerk ‘verban’, omdat die strooi wat ek aangejaag het onvergeefbaar gevoel het. Nou, jare later, weet ek dis nie so nie. My sonde is vergeefbaar. Maar ek weet wraggies nie hoe om weer in ‘n kerk te kom nie! Dis nie so maklik om as wildvreemde eendag by ‘n kerk in te stap nie. Almal ken mekaar en groet en vra uit oor ditjies en datjies. Ek sluip in, en sluip weer net so vinnig uit. Dit voel of ek soos ‘n seer vinger uitstaan.

    Die ‘slow coacing’ is stupid goed. Ek het bv nie meer ‘n gesangeboek nie. Intussen het ek gehoor van die Liedboek? Lank, lank gelede toe ek laas in ‘n kerk was, het hulle die liedere elektronies vertoon, geen boeke was nodig nie. Ek weet regtig nie wat moet ek saamvat as ek kerk toe gaan nie. 😳

    Ander goed is die ge-opstanery. Wanneer staan jy en wanneer bly jy sit? Dit klink verskriklik, maar ek kan die goed regtig nie meer onthou nie.

    Ek het ook nie die moed om ‘n selgroep/hulpgroep te ‘join’ waar ek niemand ken nie.

    Oukei, dalk is ek maar net ‘n bangbroek.

  7. Adrie – dis wat ek gedink het.
    boendoe: Die meeste gemeentes het deesdae elektroniese borde waarop die liedere gewys word. Die sit en opstaan sal jy sommer binne twee dienste optel. Maar… die belangrike is, probeer.

    Ek het myself ook vir drie jaar uit die kerk uit verban, die goed was vir my net so vreemd.

    Wat ek eintlik hoor is hierdie “soft coaching sou ideaal vir jou wees om jou net weer op jou gemak te laat voel.

  8. Herman

    Attie
    Graag sluit ek aan by die stelling “sal die kerk moet wys dat ons tyd het om by mense stil te staan na hulle te luister en so die reg verdien om gehoor te word”

    In navorsing wat ek in 2007 gedoen het, het ek wat die tieners betref, die volgende bevind. Na aanleiding van Maslow se 5-vlak teorie moet onthou word dat menslike behoeftes hou met mekaar verband, omdat daar aan die mens se basiese behoeftes voldoen moet word alvorens hy sal handel om ander behoeftes te vervul Twee aspekte van Maslow se benadering kan goedskiks in die erediens benut word.
    Ek-behoeftes: Dit omsluit die behoefte van die tiener vir waardigheid, die nood om gerespekteer te word, om “iemand” te wees, maar dis ook ‘n behoefte aan erkenning, prestige, status en om belangrik te voel. Die behoefte aan goedkeuring is by uitstek ‘n sosiaal-affektiewe behoefte. Vervulling van hierdie behoefte aan eiewaarde lei tot gevoelens van menslike behoeftes.
    Behoefte aan selfaktualisering: Dis die strewe om jou moontlikhede optimaal te verwerklik. Dit behels die behoefte om te weet en te verstaan; dis die vervulling van basiese kognitiewe behoeftes. Die tiener is dus iemand wat wil weet.

    Dit lyk dus dat die kerk meer ingestel sal moet wees vir die “kliënt” – die kerkganger en die mens wat versorg moet word. Lidmate sal toegerus moet word met sosiale vaardighede (Attie jy noem dit ‘soft coaching’) ten einde die 5-vlak model van Maslow in die nuwe millennium in die erediens en algemene kerkwees toe te pas.

  9. Jak

    Waarom is dit so belangrik om mense te “mobiliseer” om kerk toe te gaan? Ek dink nie die vroegste kerke in Jesus se tyd het mense gemobiliseer om kerk toe te gaan nie. As die kerk sy werk met integriteit doen sal diegene wat ‘n behoefte het om daarheen te gaan dit vanself doen.

  10. Jak, ek stem heeltemal saam. Maar ek vermoed ook ons is in ‘n oorgangstyd, wat beteken dat partymaal moet ons ons huidige lidmate bietjie op die gat skop (mobiliseer) om buite hulleself te kyk en ‘n hand vir die wêreld en mekaar uit te steek. Maar ek droom ook van ‘n kerk waar ons net kan saam wees, wetend dat elkeen integriteit het en besig is om Jesus se hande en voete te wees.

  11. BEN

    As jy in jou hart reg is en die vuurtjie van die Heilige Gees is nie geblus nie,sal jy die kerk oopsluit,maar as die Heilige Gees ontbreek en die vuurtjie is dood,sit mens by die huis en het nie lus vir kerk nie.Julle kan die mense motiveer en kerk toe bring maar nielank nie,dan “fade”hulle weer.Jy moet die inwonende Heilige Gees he,anders is jy passief.Party mense sal nie preek as daar nie ‘n salaris is die einde van die maand nie,ander doen dit met vuur en uit liefde want hulle weet dat God ‘n voorsiener is en nie mense nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s