Gisteraand was die afsluiting van ‘n fase in my lewe.
Deur die loop van die dag het 78 jong mense belydenis van hulle geloof afgelê. Die einde van ‘n fase het daarmee te make dat ek klaar maak met my werk onder die tieners. Sedert 1987 het ek aan en af met die tieners gewerk en die laaste vyf jaar was die tieners volledig my verantwoordelikheid – heerlike voorreg en uiters bevredigende stukkie werk.
Alhoewel ek nie meer die ouderdom van die deursnee tiener-dominee was nie, het ek en die tieners meestal goed oor die weg gekom. Daar is so baie van hulle wat uit gebroke huise kom dat daar by hulle ‘n groot behoefte is aan ‘n pa-figuur. Vir ‘n hele paar van hulle het ek daardie rol gespeel. My ouderdom het ook gemaak dat hulle nie net baie keer my raad gevra het nie, maar dit ook gevolg het omdat hulle aanvaar het.
Maar nou is dit tyd om te gaan. Toe ek huistoe ry gisteraand, toe sê ek vir Renate (my vrou) dat ek die tieners gaan mis, maar dat ek weet dat ek die regte ding doen om terug te staan. Ons gemeente is in die proses om ‘n dominee vir die jeug te beroep.
Tog het dit my laat dink aan die seisoene van kom en gaan in my lewe. ‘n Paar sulke seisoene is: Ek het op die mooiste dorp in die land – dalk nog in die wêreld – gestudeer: Stellenbosch. Ek onthou hoe graag ek naby Stellenbosch wou bly, maar ek moes gaan. Die afskeid was vir my swaar, maar voor my was die uitdaging om te doen wat ek graag wou doen: Om vir die Here te werk.
As gevolg van my egskeiding was ek vir baie jare nie in die bediening nie. Ek was dankbaar toe ek eers ‘n werk by die destydse TPA kry, maar gelukkig het die tyd om te gaan eerder vroeër as later gekom. Daarna het ek by Rustenburg Stadsraad gewerk. Ek het my werk daar baie geniet en ‘n lewenslange vriend daar gemaak. Ek was opgewonde oor die tyd om te gaan om dat ek pad terug was na my eerste liefde: Voltyds predikant. Maar ek was ook hartseer om goeie vriende en aangename werksomstandighede agter my te sit.
Dan is daar ook die tyd wat ‘n mens jou kinders moet laat gaan. Twee het reeds die “nes” verlaat en werk alreeds. Volgende jaar gaan die ander een op UP studeer.
So is daar seisoene van kom en gaan in elke mens se lewe. Seisoene wat gepaard gaan met afskeid maar ook opgewondenheid oor nuwe geleenthede en uitdagings wat oor ‘n mens se pad sal kom.
Wat was jou laaste kom-en-gaan-seisoen?
Legitimasie… Donderdag! Definitief ‘n einde van ‘n seisoen.
Dagse Attie
Ek dink uit die aard van my werk is daar gedurig fases van kom en gaan soos hulle begin en klaarmaak. Soms is jy maar te bly as die “probleem kinders” hulle ry kry en jy kan met hulle klaar maak. Dis die ander wat jou weer laat terug staan en verwonder laat oor wat tot stand gebring is en jy neem moeilik van hulle afskeid.
So met werk saam is dit ‘n deurlopende proses. Persoonlik het dit twee jaar gelede gebeur toe ons getrek het na ‘n nuwe blyplek en alles verander het.
Groete
Baie geluk! Jy het die Silwer Ponie gewen!
Wat op dees aarde sou Johan Swarts se opmerking beteken? Sarkasme?
cobus – ek weet jy is opgewonde oor die nuwe seisoen. Sterkte met die reuse uitdaging waarvoor jy kans sien.
White Knkght – dit lyk my die seisoene hou nooit op met kom en gaan nie. Soms is die oorgang groot – ander kere merk ‘n mens dit nie eers op nie.