Ek het vanoggend die erediens gehou vir ons plaaslike hoërskool se matrieks. Ek het aan hulle die verskillende seisoene in ‘n tiener se lewe verduidelik aan die hand van die volgende voorbeeld:
Ons het twee honde, ‘n boerboel en ‘n worshond. Die boerboel se naam is Annie en die worshond se naam is Dawie. Annie het ook deur ‘n paar seisoene gegaan. Net nadat sy by ons aangekom het, het ons seker gemaak dat die erf deeglik toe is sodat sy nie kon uitgaan en wegraak nie. Met die verloop van tyd het sy al hoe groter deel van die werf leer ken en ondersoek. Tog was sy binne sig. As sy gate gegrou het of aan die besproeiing gekou het, het ons geraas en later het sy geleer wat ons van haar verwag.
Hierdie seisoen vergelyk ek met die kleuter en laerskool jare van ‘n kind se lewe. Binne sig van die ouers en in ‘n groot mate afhanklik van die leiding wat die ouers gee.
‘n Paar weke gelede het die twee honde ‘n nuwe seisoen in hulle betree toe ek en Renate het met die twee begin stap het in ‘n stukkie veld nie ver van ons huis af nie. Wanneer ons by die erf uitgaan is Annie en Dawie aan ‘n leiband. Hulle mag die wêreld verken, maar net so ver as wat die leiband hulle toelaat om te gaan.
Hierdie seisoen vergelyk ek weer met die tienerjare. In die tienerjare het ‘n die ‘n bietjie meer vryheid, maar binne die grense wat die ouers stel. (Ek weet nie alle tieners gehoorsaam en bly binne die grense nie, maar daar is wel die wat dit so doen.) Ouers sê hoe laat die kinders by die huis moet wees en watter plekke hulle mag besoek en watter nie. Nog steeds is hulle in ‘n sekere sin afhanklik van die raad wat die ouers gee. Ouers verduidelik al hoe meer waarom die grense daar is en leer die kind om nie verder te gaan as wat die leiband toelaat nie.
In die laaste week het Annie ‘n volgende seisoen in haar lewe beleef, sy was redelik gehoorsaam en ek kon dit waag om die leiband af te haal en haar die vryheid van die veld te laat geniet. Met tye hardloop sy wild rond, maar wanneer ek roep, kom sy altyd terug. Soms moet ek meer as een keer roep, maar sy kom terug, ander kere moet ek raas omdat sy nie dadelik gekom het nie.
Ek vergelyk hierdie seisoen met die fase waarin die tieners nou ingaan. Vryheid. Skielik word die leiband losgemaak en die tiener kan hardloop. Die ouer is nie orals waar die jongmense gaan nie, maar die stem is nie weg nie. Dwarsdeur die jare het die ouers vir die tieners geleer wat aanvaarbaar is en wat nie. Baie van hulle het ook geleer wat die Here van ‘n mens verwag en hoe iemand lewe wat vir die Here lief is.
Die stem is nie weg nie, maar die stem is nie meet die stem van sy/haar ouers nie, maar die stem van sy/haar gewete. Ongelukkig het die gewete ‘n negatiewe kleur gekry omdat ons geleer is dat ‘n gewete net funksioneer om ons te oortuig van sonde. Ek is daarvan oortuig dat my gewete my ook waarsku wanneer ek op pad is om ‘n dom ding aan te vang. Voor die tyd gee die Heilige Gees aan my leiding deur my gewete. Na die tyd oortuig die Heilige Gees my van sonde sodat ek reg kan maak met God.
Na skool is die leiband los, die jongmens kan die vryheid geniet en so vinnig en so ver hardloop as wat hy/sy graag wil. Die stem van die Heilige Gees sal egter altyd daar wees, al wat oorbly is om te luister.
Dis ‘n mooi vergelyking. Ek hoop net van harte my kind hardloop nie so vry en lekker rond dat hy nie die stem van sy gewete hoor nie.
Kinders hou jou regtig op jou kniee.
Dankie daarvoor, dit is regtig mooi en ook baie waar. Hoop maar dat my kinders ook eendag daardie stem sal hoor.
Dagse Ds Attie
Baie dankie vir ‘n lafenis van wysheid vir die gemoed. Kan enige kind maar daardie wyse stem van opvoeding en gewete wat hulle lei en beskerm navolg.
Sterkte met die taak op hande.
Groete
Ds Attie
Dit is n uitstekende vergelyking. Ek dink net dat ons as ouers soms so besig is met ons eie dinge en worstelinge dat ons soms nalaat om hulle terug te roep of dan te raas met die laaste fase veral op geestelike vlak. Die tydperk wat daar is, om seker te maak dat hulle bevoeg die wereld ingaan is bitter kort.
Pragtige vergelyking.
Dit was Sondag my meisiekind se belydenisaflegging – haar geestelike leiband is nou losgemaak… dis nou haar beurt.