HOEKOM MOET EK DAN BID?

Daar is vyf redes waarom ek bid.

1. Gebed bou my persoonlike verhouding met die Here.

Christenskap gaan nie in die heel eerste plek oor reëls en wette wat ek moet gehoorsaam of ‘n studie om te weet wat vir God aanvaarbaar is en wat nie, dit gaan in die heel eerste plek oor ‘n verhouding – ‘n liefdesverhouding tussen God en ‘n mens en sy kerk en sy wêreld.

Vir die voorreg om in hierdie liefdesverhouding met God te mag leef, leef ek dankbaar gehoorsaam, op soek na sy wil vir my lewe. Ek wys my liefde en my lojaliteit aan Hom deur te doen wat Hy wil hê. Dankbare gehoorsaamheid is my reaksie op God se genade. In eerlike en met ‘n oop hart in gebed beleef ek die dieptepunt van hierdie persoonlike verhouding met God.

2. Gebed help my teen versoekings.

Versoekings het nie net te make met dinge wat ek nie mag doen nie, ek dink dit het eerder te make met die versoeking om nie te doen wat ek weet ek behoort te doen nie. Ek was al in ontelbaar baie situasies waar ek geweet het dat ek iemand moet vertel van die Here Jesus, ek kon nie – ek het toegegee aan die versoeking om nie te praat nie.

In die nag voor Jesus se dood is Hy alleen in Getsemane, in gebed. In hierdie oomblikke weet Jesus wat vir Hom wag, hulle gaan Hom gevange neem, martel, verhoor, kruisig en begrawe.

Vir sy dissipels het Jesus ‘n waarskuwing, hulle moet bid dat hulle nie in die versoeking sal kom nie. Die versoeking om te maak of hulle Hom nie ken nie wanneer die gevaar dreig.

Jesus is ons voorbeeld. In Getsemanè bid Hy so intens dat sy sweetdruppels soos bloed op die grond val. Hy bid dat Hy ook nie sal toegee aan die versoeking om nie God se wil te doen nie.

3. Gebed help ons om God se wil te ken.

Wanneer Jesus op die punt staan om die twaalf dissipels te kies, bid Hy die hele nag deur sodat Hy die mense kan kies wat die Vader self op die span sou wou sien. Na die nag van gebed kies Jesus ‘n vreemde span. Hy kies ‘n man wat sou twyfel die eerste keer toe hy teenstand kry; Hy kies ‘n man wat sou weghardloop wanneer Jesus hom die nodigste sal hê; Hy kies ‘n man wat Hom later sou verraai vir ‘n paar stukkies silwer. Hy kies nie die span wat Hy wil hê nie, Hy kies die span wat God wil hê. In tye van gebed kom ‘n mens agter wat die Here wil hê jy moet doen.

4. Gebed berei ons voor vir God se werk deur ons.

Die aand voor die kruisiging is Jesus saam met sy dissipels in die bovertrek. In Jesus se laaste gesprek met sy dissipels, sê Jesus van die belangrikste goed vir sy dissipels. Jesus verduidelik dat Hy en die Vader een is en dat die wat Hom gesien het, ook die Vader gesien het en hoe belangrik die werke is wat Hy gedoen het.

Jesus sê vir sy dissipels dat die wat in Hom glo dieselfde dinge sal doen as wat Hy gedoen het. Dan sê Jesus twee keer dat Hy alles sal doen wat iemand in Sy Naam vra. Natuurlik verwar mense dit met ‘n vrypas om enige iets te vra wat hulle wil en dan te verwag dat die Here Jesus dit sal doen, maar dit is nie hoe die Here dit bedoel het nie. .

Nie almal van ons sal wêreldbekende predikers wees of iemand wees deur wie die Here wonderwerke doen nie, maar almal van ons kan bid. Almal van ons kan bid dat die Goeie Nuus van Jesus by alle mense dwarsoor die wêreld sal uitkom. Almal van ons kan bid en vra dat sy wil sal geskied en sy koninkryk sal kom.

Baie jare terug toe ek nog net twee jaar predikant was, is ek na ‘n man se huis ontbied nadat die familie besef het dat die man besig is om dood te gaan. Die dokters kon nie vasstel wat met hom fout was nie, en hy was besig om te sterf aan ‘n onbekende siekte. Ek en een van die ouderlinge het saam gegaan en ons het gebid dat die Here die man gesond sal maak. Dit het gebeur – niemand was meer verbaas as ek nie, maar dit het gebeur. Die wonderwerk het geen verskil in sy lewe gemaak nie, maar dit het ‘n reuse verskil in die res van sy familie se lewe gemaak.

Sondag-aand 21 Oktober het ek en die ander tieners saam met een van die dogters in die belydenisklas gebid vir die jong man met wie sy uitgaan. Hy was in ‘n motorongeluk en toe ek hom in die hospitaal gesien het, was daar feitlik geen kans dar hy sou herstel nie. Saam met 300 tieners het ons gebid en ek kon Sondag-aand vertel dat Hy nie net sy oë oopgemaak het nie, maar dat hy uit ICU na ‘n algemene saal geskuif is. Ek wag om te sien watter verskil dit aan wie se lewe gaan maak. Ek is nie seker wie se gebed dit was nie, dalk was dit myne, dalk was dit een van die tieners, dalk was dit nie een van ons se gebede nie, maar iemand anders sin – punt is, iets het gebeur wat nie veronderstel was om te gebeur het nie en dit het gebeur omdat ons gebid het.

Maar, daar is ontelbaar meer kere wat die Here sulke gebede en selfs baie minder gebede verhoor het. Met tye was ek teleurgesteld en soms het ek vir weke ophou bid, maar elke keer het ek teruggekom, want my verhouding met die Here is belangriker as die verhoring van gebede.

Maar, ek sal nooit weet watter verskil my gebede gemaak het wanneer ek gebid het vir die mense in verskillende lande waar die boodskap van die Here Jesus nie verkondig mag word nie. Ek sal nie weet watter aandeel my gebede gehad het toe ek saam met duisende ander in 1994 gebid het dat die oorgang na ‘n nuwe regering sonder geweld sou plaasvind nie. Ek sal nie weet watter aandeel my gebede gehad het toe ek vir oom Angus gebid het en saam met duisende ander gevra het dat sy verhaal soos ‘n veldbrand deur Suid Afrika sal waai nie.

Deur ons gebede word die groot werke van God gedoen.

5. Gebed is ons sterkste wapen teen die bose.

In Efesiërs 6 herinner Paulus ons daaraan dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose magte in hierdie wêreld. Die bose magte wat ons in verskeie mense se optrede sien. Magte wat maak dat een seun ‘n ander een met ‘n swaard dood maak en ‘n hawelose man doodskop en ‘n bergie op ‘n kerk se stoep aanrand en weer en weer terugkom totdat hy dood is. Magte wat maak dat jong tieners hulle oorgee aan drank en dwelms en onbeskermde seks.

Die bose magte wat my daartoe bring om te swig voor die versoeking om dinge te doen wat ek weet ek nie behoort te doen nie, maar ook wat my keer om die dinge te doen wat ek weet ek behoort te doen. Ek weet nie presies hoe om hierdie bose mag te beskryf of te definieer nie, maar een ding weet ek en dit is dat daar iets is wat maak dat ek nie die goeie dinge wat ek graag wil doen nie, en dan weer die slegte dinge wat ek nie wil doen nie, doen. Efesiërs noem dit die bose magte van die lig – ek sal daarmee volstaan.

Efesiërs 6 vertel vir ons van al die wapens wat tot ons beskikking is in hierdie stryd. Dan sluit hy dit alles af deur te sê: Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Gebed is ons belangrikste wapen in die stryd teen die bose.

Ek sal aanhou bid.

9 thoughts on “HOEKOM MOET EK DAN BID?

Add yours

  1. Jesus het die grootste persentasie van Sy lewe in gebed tot Sy Vader deurgebring,omdat Hy niks uit Sy eie gedoen het nie.Hy het slegs gedoen wat Sy Vader Hom gewys het wat om te doen en gese het om te doen.Jesus het Sy Vader se wil kpom doen op die aarde.Werke van Gees en nie werke van vlees nie.God se woord se dat as ons in die Gees wandel,ons nie die werke van die vlees sal volbring nie.Dit behaag God.So,hoe sal ons weet wat om te doen?Bid sonder ophou,bid.
    Gebed is kommunikasie met God.Hou op om te praat met jou huisgesin vir ‘n ruk.Jy gaan uitgesliut voel.jy gaan nie weet wat beplan word nie,julle gaan vreemdelinge vir mekaar word,jy gaan stagneer,,netso is dit as jy nie bid nie.Dit is belangrik om God se stem te hoor.Gebed is ‘n tweerigting gesprek.Jy bid en dan wag jy op God se stem.Jy spring nie op as jy klaar gebid het nie.Dit is ongeskik en slegte geestelike maniere.Hoe moet God nie voel nie.
    Hoe gaan Hy ooit vir jou vertel wat Hy vir jou wil se.Gebed ,ware gebed,is oefening,oefening om God se stem te hoor.Sonde bring skeiding tussen jou en God.Daarom moet daar belydenis wees,dit is deel van gebed.Gaan jy nie great en spesiaal voel as jy bid en God se stem hoor en gaan doen wat Hy vir jou se om te doen nie.As jy dit nie doen nie,is jy ongehoorsaam en bedroef jy God se Gees .Jy moet dit bely.JY sien,as jy net dinge uit jou eie uit doen en aanneem dit is wat jy dink wat God wil he jy moet doen,sal Hy eendag vir jou se,Gaan weg ek het jou nooit geken nie.Daarom is gebed belangrik,sodat jy weet wat God gedoen wil he,en nie wat jy vir God wil doen nie.Onthou,Jesus het nooit ENIGIETS onder die son uit sy eie uit gedoen nie.Sy hele lewe was ‘n Godvervulde lewe,vas,gebed,smekinge,gehoorsaamheid,ondergeskiktheid,die minste wees,geen eie eer nie,geen vloek nie,geen lelik praat nie,geen vuil gedagtes nie,geen pornografie nie,ens.ens.ens.Dit kos ‘n prys om aan God te behoort.

  2. Ben: Kan jy asseblief vir my aandui waar in die Bybel staan dit dat Jesus die grootste persentasie van sy lewe tot gebed aan die Vader deurgebring het. EK twyfel nie dat Jesus gebid het en selfs baie gebid het nie, maar ek het nooit gedink dat dit vir die grootste deel van sy lewe was nie.

  3. Ds Attie
    Dankie ds. Jou geselsies het baie gehelp om weer perspektief te kry. Soms verloor ek die gedagte dat daar n groter prentjie is wat ek nie verstaan of van weet nie. Dit is egter baie bemoedigend om te hoor dat God meer vertroue in my het as wat ek in myself het. Dit maak dat ek God nie wil teleur stel nie en harder wil probeer. Vir my sal die hoofdoel van gebed van nou af wees om my verhouding met God te bou, en ek wil ook nie graag die kans vat om die verskil wat my gebed kan maak, te verloor nie. Daarby is dit n goeie metode om die slaggate te herken en dan te vermy wat daar moontlik kan wees.

    Hoe kan n mens onderkei tussen jou eie gedagtes van wat jy wil of dink jy hoor van God en moontlike idees wat van God self is?

  4. Dankie: Ek het nie vir jou ‘n eenvoudige antwoord nie. Ek dink dit het te make met hoe goed ken ek God. Hoe beter ek God ken hoe makliker word dit om te weet wanneer dit wat in my gedagtes die leiding van die Heilige Gees is en wanneer dit my eie gedagtes is. Wanneer dit wat ek hoor ooreenstem met hoe ek God ken, dan is dit dikwels makliker, as ek onseker is dan toets ek dit met geestelike vriende wat ek ken en vetrou.

    Dalk kan van die ander lesers hier help.

  5. Lalie:Dit staan nie in wit en swart geskryf nie,of in ‘n spesifieke vers nie.
    Sy hele lewe,bestaan,en deur noukeurig die Bybel te lees openbaar die Heilige Gees aan ons , hoeveel ure hy gespandeer het in gebed.partykeer die hele nag,sonder slaap,in gebed.Hoeveel keer se jesus dat hy net doen wat die vader hom wys en vir hom se om te doen.
    dit gebeur slegs in en deur gebed.hoe anderste?ek beklemtoon die volgende.Jesus het niks uit sy eie uit gedoen soos wat ons geneig is om te doen nie.hy was tot die dood toe gehoorsaam aan sy vader.dit is wat hy gedoen het.kyk na al die wonderwerke.sy vader het dit vir hom gese wat om te doen,in gebed.

  6. Ben – ek wonder darem of dit so kan werk dat ek die Bybel lees en ek sê die ding staan nou wel nie in swart en wit nie, maar terwyl ek die Bybel lees openbaar die Heilige Gees hierdie en hierdie dinge aan my. Ek stem saam dat Jesus baie gebid het, maar ek stem nie saam met die gedagte dat Hy die grootste persentasie van sy dag in gebed deurgebring het nie en ook nie met die gedagte dat jy jou eie afleidings uit die les van die Bybel aan die openbaring van die Heilige Gees toeskryf nie. Dit laat ruimte vir erge waninterpretasie en vir elke mens om net te glo wat hy wil, of wie se “openbaring deur die Heilige Gees” gaan die meeste gesag dra?

  7. Nou ja toe – Ek sien wat jy bedoel.Ek neem aan dat dit verskillend is
    in elke persoon,en hoe elkeen daaraan dink,en in watter mate ‘n persoon God se Gees toelaat om in ons te werk.Die een persoon spandeer miskien 3-4 ure per dag met God en die ander een miskien ‘n uur.Dan sal daar groter geestelike groei en kennis by die een persoon wees as die ander,en sal die een persoon dinge anderste sien en ervaar as die ander een.Seenwense vir jou en jou huisgesin in Jesus Christus se naam.Shalom

  8. Ben: Ek is bevrees dat ek dalk met “Nou-ja-toe” moet saamstem. Enige “kennis” moet gemeet word aan die Woord van God soos ons dit het, as dit nie gebeur nie, maak ons ons oop vir ernstige probleme. Geestelilke groei gaan ook oor baie meer as net die hoeveelheid tyd wat ek met God spandeer.

  9. Attie,ja,ek stem saam met wat jy se.’n mens moet alles opsoek en gaan kyk of dit wel so is.Of dit nou wereldse of Geestelike kennis is.
    Ja,Geestelike groei gaan definitief oor baie meer as net die tyd wat ek met God spandeer.1 Korinthiers 1 vanaf vers 17 (afr.ou ver) is nogal awesome.
    Dankie vir jou terugvoering.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: