LEER ONS BID

Hoe leer ‘n mens ‘n tiener om te bid?

Voordat ‘n mens enige iemand leer om te bid, moet jy hierdie belangrike vraag antwoord: Hoekom moet ek bid?

Ek is bevrees die antwoord wat gewoonlik op daardie vraag gegee word, is dalk een van die redes waarom mense nie bid nie. Ek het al baie kere gehoor hoe iemand wat die belangrikheid van gebed wil beklemtoon mense nooi om te kom vertel hoe God hulle gebede verhoor het. Die groot dinge wat in jou lewe gebeur kom in antwoord op gebed. Bid sodat groot dinge in jou lewe kan gebeur …

Natuurlik is dit waar, maar dit is nie die volle waarheid nie. Sê nou maar ek sou bid dat ek more se eksamen moet deurkom en ek kom dit deur, watter verskil het my gebed gemaak as ek sien dat die persoon wat nie gebid het nie, ook deurkom terwyl sy kanse om deur te kom net so veel of net so min was as joune.

Die volgende probleem is natuurlik hoe om te verduidelik as iemand in alle eerlikheid en opregtheid bid en sy/haar gebed word nie verhoor nie. Gaan kyk bietjie na die antwoorde op daardie vraag.  Opmerkings soos jou geloof wat nie groot genoeg was nie of jy het nie binne die wil van die Here gebid nie, ens. ens. Watter verskil maak dit as ek bid of nie bid nie?

Dalk het gebed ‘n groter doel.

Indien ons in gedagte hou dat gebed een van die geestelike dissiplines van die Christelike godsdiens is, dan kan ons gerus in gedagte hou wat Brian Mclaren hieroor sê:

“Spiritual practices are about life, about training ourselves to become the kinds of people who have eyes and actually see, and who have ears and actually hear, and so experience… not just survival, but life.”

Kan dit wees dat ek behoort te bid sodat ek deur die loop van die dag kan sien wat God wil hê ek moet sien en hoor wat God wil hê ek moet hoor?

“Spiritual practices are ways of becoming awake and staying awake to God.”

Kan dit wees dat gebed ‘n manier is om wakker te word vir God in my lewe en wakker te bly vir God deur my lewe?

Sê nou ons sou begin leer dat gebed nie daaroor gaan om seker te maak ek kry alles wat ek wil hê en alles wat ek dink God wil hê dat ek moet hê nie, maar eerder as ‘n geleentheid om die kloof wat daar tussen my en God is al hoe kleiner te maak.

Sê nou ek sou gebed in dieselfde lig sien as daardie tye alleen met my vrou wanneer ons in stilte alleen sit en na mekaar luister en mekaar se harte hoor en mekaar al hoe beter leer ken en verstaan en bewus raak van alles wat in die ander een se lewe gebeur sodat ons deel kan wees van mekaar se alledaagse lewe en sensitief kan wees vir wat die ander een op hierdie oomblik nodig het – met ander woorde gebed is ‘n manier van verhouding bou.

Sê nou ons sou nooit vra nie, maar net elke keer in gebed ons lewe en ons mense aan God toevertrou en weer en weer sê dat Hy weet wat wie waar en wanneer nodig het en dat Hy in sy groot liefde sal doen wat Hy weet wie ook al nodig het. Is vertroue nie juis dat hierdie Een wat my liefhet selfs sal gee wat ek nodig het selfs as ek nie vra nie, soos byvoorbeeld dat Hy sal gee terwyl slaap en niks doen om Hom sover te kry om dit te doen nie.

Sê nou ek en jy sou more hoor dat die Here vir ons niks gee wat ons vra nie, maar dat Hy in elk geval in sy alwysheid gee wat ons nie eers weet ons nodig het nie, sonder om na te laat om te gee wat ons wel nodig het nie. Sê nou ons sou dit ontdek – sal ons dan nog bid?

Is dit nie dalk wat Jesus bedoel het toe hy sy dissipels geleer het om die Ons Vader gebed te bid nie?

Hoe sou dit wees as ons as deel van ons geestelike dissipline soveel kere as moontlik deur die loop van ‘n dag die Ons Vader gebed bid – sodat ons dwarsdeur die dag besig kan wees om die kloof tussen my en God oor ste steek. “Gee ons vandag ons dag se brood en vergeef ons ons oortredings soos ons ook die vergewe wat teen ons oortree.” Hoe besig sou my dag nie wees as ek net vir hierdie deel van die “Ons Vader” gebed wakker is?

Sê nou gebed sou meer van ‘n verhouding-saak word en minder van ‘n vra-saak

Hoe leer ‘n mens ‘n tiener om te bid? Ek weet nie! Dalk deur hom te leer van verhouding, ‘n verhouding met die lewende God – die wagtende Vader.

12 thoughts on “LEER ONS BID

Add yours

  1. Doom Attie, dit is die mooiste en raakste getuienis waarom ons bid wat ek nog ooit gelees het. Ek wil dit weer sê; Ek is so bly jy is terug!! My hart straal vreugdevol, want elke sin wat jy hier bo geskryf het, is vir my persoonlik waar en elke waarheid word beaam deur my gees.

    Ek eer en aanbid Hom as my Vader, maar soos in alle gesonde normale verhoudings is daar soms konflik en negatiewe emosies, ek ervaar hulle ook teenoor Hom. LOL ek weet Hy weet as ek diep teleurgesteld of kwaad is oor ek iets wou gehad het en dit nie gekry het nie, en daarom praat ek met Hom daaroor; vanuit die kern van die emosie wat ek in daardie spesifieke omstandighede ervaar. Ek het die vrymoedigheid om dit te doen, (met die nodige respek natuurlik) want ek is Syne en Hy ken my behoeftes, asook my menswees.

  2. Ek dink rerig nie dat ons mense behoort te leer van gebed en Bybel lees en sulke goed nie. Wel, nie in die eerste plek nie. In die eerste plek dink ek ons moet mense leer dat Vader ‘n verhouding met ons wil he en bou. As ons begin besef hoe graag Hy met ons ‘n verhouding wil he, sal ons van nature graag met Hom WIL gesels.

    Ek vind in my lewe en met my verhouding met Hom dat in tye wat ek besef Wie Hy is en hoe graag Hy ‘n verhouding met my wil he, is die tye wat ek die meeste bid. Dan sien ek ook dat my gebede nie gaan oor die kar wat sukkel of die klasgelde wat agterstallig is of die meisie wat niks met my te doen wil he of die nuwe iPod of laptop waarmee ek Sy Naam wil verhoog nie. Dan gaan dit juis oor Sy eer en om Hom net te kan sien.

    “Kan dit wees dat ek behoort te bid sodat ek deur die loop van die dag kan sien wat God wil hê ek moet sien en hoor wat God wil hê ek moet hoor? … Kan dit wees dat gebed ‘n manier is om wakker te word vir God in my lewe en wakker te bly vir God deur my lewe?”
    Hierdie is 2 amazing vrae om te vra! Weer, as ek minder fokus op myself en meer op Hom, dan bid ek, nie om my versoeke voor Hom te le nie, maar om te sien wat Hy sien en om my hart te fokus op dinge wat Sy hart laar klop.

    “Sê nou ons sou nooit vra nie…”
    Ek weet die sin gaan aan. Maar toe ek die woorde hoor, toe onthou ek dadelik iemand anders se vraag/challange aan ‘n groep waar ek op Maandagoggende bid… Sal jy vir ‘n week lank kan gaan sonder om een enkele ding te vra? Sal jy vir daardie week dan NET fokus op God se grootheid en heiligheid en om Hom te verheerlik?

    Ek sien nou net ekt nie die hele boodskap gelees nie. Anders sou ek daardie laaste sinne gesien het… “Sê nou gebed sou meer van ‘n verhouding-saak word en minder van ‘n vra-saak. … Hoe leer ‘n mens ‘n tiener om te bid? Ek weet nie! Dalk deur hom te leer van verhouding, ‘n verhouding met die lewende God – die wagtende Vader.”

    En ek stem saam met Mefri. As ek met God praat, praat ek met Hom oor als… soos Dawid en Moses en Abraham en Jesus… Hulle het Hom beleef soos wat Adam Hom beleef het, iemand wat naby is en wat wil luister en wat verstaan. En al doen Hy nie altyd iets aan my situasie nie, weet ek dat Hy saam met my in my situasie is……..

    Oom Attie, sorry dat ek so lanklaas oom se blogs gelees het. Ek het lanklaas tyd gemaak daarvoor. Ek het dit gemis. Eks bly ekt die een gelees

  3. Ek het nie jou vraag beantwoord nie, ek dink ‘n mens leer tieners bid deur die voorbeeld wat jy self stel. My twee kinders is lankal nie meer tieners nie, maar hulle het van kleintyd af gesien en ervaar hoe afhanklik hulle mamma van God is en hulle pas dit in hulle eie lewens toe.

    Ek moet byvoeg dat hulle ‘egtheid’ onder ALLE omstandighede ervaar het. Selfs wanneer ek deur versoeking gesukkel en gestruikel het, was hulle daarvan bewus gewees; hulle het gesien, gevoel en ervaar en dit is deels waarom hulle regte egte mense is wat die Drie-enige God ken, vertrou en aanbid.

  4. Dagse Ds Attie

    Persoonlik dink ek baie mense sukkel nie net allen met hoekom ons moet bid nie maar hoe. Die probleem is baie kinders en grrotmense as kinders het nie ‘n goeie verhouding met hul ouers nie, en dis waar die knoop le. Hoe maa jy GOD jou vertroueling met jou hele wese as die wat jy kan sien nie jou vertroue waardig is nie.

    Hoe meer jy tot GOD bid, met HOM gesels, hoe makliker is dit om na HOM te gaan in tye van nood en blydskap. Dit help ook om te verstaan die paaie wat HY ons op wil lei tot ons eie voordeel om SY naam te verheerlik.

    Dank en groete

  5. Dit is baie belangrik om te weet dat ons as vlees nie kan bid in God se wil nie.Ons sal dan net vra volgens ons vleeslike begeertes.Daar moet ‘n “link” as ek dit so kan uitdruk,wees tussen ons en God.Daardie konnektasie is die Heilige Gees wat ons ontvang en wat in ons kom woon nadat wedergeboorte plaasgevind het.Hy kom woon in ons.Hy weet wat God se wil is en as ons bid en nie meer weet wat om te bid nie,tree Hy in en bid Hy deur ons na God met outoriteit en met krag en Hy bid deur ons in God se wil.Die Bybel se met onuitsugtelike sprekinge ,moans,groan ens.Hoe leer ons tieners bid,wel,eerstens wat moet gebeur , hulle moet tot bekering kom,en dan sal Jesus Christus hulle deur Sy Heilige Gees leer bid.Ons kan hulle nie leer bid nie,Dit is iets wat in jou hart gebeur.’n Intense verlange na God in jou hart wat niks kan vul behalwe Geesvervulde gebed in waarheid en in Gees soos wat God se woord se.Die engelse bybel se dit so mooi,”deep crying out to deep”
    en die klein kindertjies,hoe leer hulle bid,moenie die kindertjies verhoed om na my toe te kom nie,want aan hulle behoort die koninkryk van God .hulle gebede word altyd verhoor.hulle gesies is nog oop en nie besoedel nie.Dit is wat God se woord se.
    Ek het die naweek weer gesien hoe mense tot bekering kom en gevul word met God se Gees en hoe hulle uitroep tot God met trane dat die teenwoordigheid van God se Gees so intens word in die vertrek waar ons was dat ons opbreek voor God en in trane uitbars en Sy Naam bely .Ek het ook gesien hoe mense genees wor van diep seerkry en vry kom.Jy kan die verandering op hulle gesig sien.hoe die jukke verbreek word.Dit is waarvoor Jesus aarde toe gekom het.Ek het gesien hoe iemand van Islam tot bekering kom en gerd word toe hy Jesus Christus aan vaar.So ‘n bietjie van die onderwerp af,maar die moeite werd om te deel.Praise God !!!!!

  6. Wanneer ek praat van “leer hoe om te bid” gaan dit oor wat alles deel van ‘n mens se gebed moet wees. Ek moet egter ook sê dat alhoewel ek met hele hart glo dat die Heilige Gees deel is van my gebedslewe, het ek ‘n bepaalde patroon waarvolgens ek bid.

    Gebed is inderdaad ‘n saak van verhouding, maar ek dink veral gebed moet op so ‘n manier aangebied word, dat selfs ‘n kind dit kan verstaan.

  7. Oom Attie. Ek was gisteraand in die tienerkerk. Ek het geleer dat gebed oor baie meer gaan as net vra en dankie sê. Ek het geleer dat ek deur gebed die Here al hoe beter leer ken en dat ek deur gebed ook leer wat God se wil is omdat ek leer hoe God se hart klop. Ek bid nie lank op ‘n dag nie, ek bid nie eers elke dag nie, maar ek het die Here baie lief en ek wil graag my gebedslewe verbeter. EK aanvaar die “challenge” om oor 21 dae die “gewoonte” te vestig om elke dag met die Here in gebed te praat.

  8. freddiescoffebar: My inskrywing vandag oor hoekom moet ek dan bid is in hooftrekke wat ek gisteraand oor gepraat het. Die enigste wta by kom is dat ek vir hulle na aanleiding van ‘n hand geleer het wat die vyf elemente van gebed is:
    Aanbidding; Dankie; Voorbidding vir ander; Voorbidding vir myself; Skuldbelydenis.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: